Van Breda-vonnis: ‘Dit was ʼn koelbloedige moord’

Henri van Breda Donderdag in die hof. Foto: Catherine Rice / ANA

“Jy het drie ongewapende mense met ʼn byl doodgemaak en wou ʼn vierde mens vermoor. Dit was jou onmiddellike familie en die motief is nog onduidelik.”

Dít was die streng woorde van regter Siraj Desai kort voordat hy Henri van Breda (23) Donderdag in die Kaapstad-hooggeregshof tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis het vir die moord op sy ouers, Theresa en Martin, en sy broer, Rudi, in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch.

Van Breda is ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op sy suster, Marli, en 12 maande vir dwarsboming van die gereg. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Van Breda het emosieloos in die beskuldigdebank gestaan terwyl Desai sy uitspraak in minder as 20 minute gelewer het.

“Ten spyte van die gruwelike gebeure kan dit as emosieloos en opsetlik beskou word. Jy het glad nie aan die hof verduidelik wat tot die uitvoering van die misdrywe gelei het nie, daaroor kan net bespiegel word. Die hof het getuienis gehoor dat daar die dag van die moorde ʼn voortdurende gestryery gehoor kon word,” het Desai gesê.

Desai het gesê Van Breda se verdeging kon slegs twee faktore noem om ter versagting van sy vonnis te dien. “Dit is jou jong ouderdom en die feit dat jy geen vorige veroordelings het nie. Jy was 20 jaar oud toe die oortredings drie jaar gelede uitvoer is. Jy het ʼn ondersteunende familie gehad en ʼn blink toekoms het vir jou voorgelê waarin hulle jou sou ondersteun.”

Desai het gesê hy aanvaar die feit dat Van Breda as ʼn 20-jarige man nie die volwassenheid, begrip en lewenservaring van ʼn volwasse persoon gehad het nie.

“Ek is ook bewus dat ʼn lang vonnis jou van die geleentheid en voorreg gaan ontneem om in ʼn openbare samelewing te lewe.”

Desai het egter gesê Van Breda is op ernstige oortredings skuldig bevind en dat hy nie aan die hof gesê het wat aanleiding daartoe gegee het nie. “Ons kan aanneem dat die misdade die uiteinde is van ontevredenheid in die gesin. Die brutaliteit van die aanvalle op jou ouers en sibbe is grafies in die hof uitgebeeld. Dit was aanvalle wat ʼn hoë graad van geweld insluit. Die slagoffers was nie gewapen nie. Hulle het ʼn seun en broer met ʼn byl gesien en heelwaarskynlik nie die ergste verwag nie.”

Desai het gesê die aanvalle toon ʼn hoë vlak van wreedheid en dat Van Breda die welsyn van sy gesin verontagsaam het.

“Dit was ʼn koelbloedige moord en jy het geen berou getoon nie. ʼn Ernstige misdaad verdien die swaarste straf moontlik. Die gemeenskap verwag dit ook. Dit was vooraf beplande moorde en ʼn poging tot moord wat ernstige nagevolge gehad het,” het hy gesê voor hy sy vonnis gevel het.

Van Breda se verhoor het in Maart 2017 in die hooggeregshof begin en hy het aanvanklik skuld ontken op al die aanklagte teen hom. Hy was uit op borgtog totdat hy verlede maand skuldig bevind is en is sedertdien in aanhouding in die hospitaalvleuel van die Pollsmoor-gevangenis, aangesien hy chroniese medikasie vir epilepsie en depressie moet ontvang. Die vonnisoplegging het Dinsdag begin.

Van Breda se vonnisse sal samelopend uitgedien word. Hy sal dus eers oor 25 jaar vir parool in aanmerking kan kom.

Adv. Pieter Botha, vir Van Breda, het ná die vonnisoplegging aangedui hy het instruksies ontvang om aansoek te doen om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis. Die aansoek sal op 27 Junie aangehoor word.

Lees die vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

MJ ·

Hoekom appèl aanteken as die regter jou gevra het waarom die moorde gepleeg is.. en jy dan nie jou sê sê nie! Gaan hy met die appêlaansoek dan vir die regter ‘n rede kan / wil gee, ter versagting van sy vonnis? As ek werklik onskuldig in so ‘n posisie moes beland, sal ek sing soos kanarie. Dis jammer dat so ‘n jong man se lewenspad so uitdraai…

Lerato ·

Die berig sê. Hy het AANvanklik onskuldig gepleit. Het hy dan later skuld.beken?

Wlr ·

Appél kan slegs aangeteken word op basis van “regs-korrektheid” van die uitspraak en vonnis. Wat ek wel nie verstaan nie is dat daar nie sekerheid is oor motief nie, tog is dit een van die punte wat bewys moet word, al dan nie?

CJ ·

Dit is tragies dat so iets met n gesin moes gebeur. Dink net: die streep is getrek. Moontlik geen nageslag vir die oorlede egpaar nie … soveel hartseer, soveel trauma en seerkry – ek dink spesifiek aan Marli en die ander familielede.

Nico ·

Ek het ‘n probleem met ‘n “Lewenslange vonnis”. Dit is misleidend. In die Van Breda geval sou die regte vonnis gewees het ” Tronkstraf vir die res van sy natuurlike lewe, sonder die moontlikheid van parool”. Dan het hy tot en met sy dood agter tralies gebly en dit is wat Lewenslange Tronkstraf werklik sal beteken. Enige kommentaar ?

Jaun ·

In die land met sy power regstelsel sal geen mens weet nie. Moet maar seker net bly wees as iemand sit vir moord……

AH ·

Dit is tog jammer dat die vonnisse samelopend (volgens berig ) uitgedien moet word. Dit beteken dat hy dalk oor 25 jaar weer vry kan wees. Hy behoort nooit weer die voorreg te hê om in die samelewing losgelaat te wees nie! In die geval is 25 jaar mos nie lewenslank nie, want hy sal nog betreklik jonk wees as hy uitkom en sal dan nog kan trou en kinders hê. Na my mening het hy daardie regte verbeur toe hy sy mense koelbloedig doodgemaak het.

Se maar net ·

Hy gaan vroeer uit die gevangenis kom vir “goeie gedrag”. Dan wat beteken lewenslank dan? Maar ja dit is hoe ons regstelsel werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.