Van bromponie-ongeluk tot trouring

Elske Roux en haar verloofde, Marius Botha (Foto verskaf)

Elske Roux en haar verloofde, Marius Botha (Foto verskaf)

Hulle het drie jaar lank uitgegaan en in daai tyd ʼn droomvakansie in ʼn vreemde land beplan waar hul lewe handomkeer verander het ná ʼn ongeluk met ʼn bromponie. Nou, bykans ʼn jaar later, het Elske Roux (22) en haar kêrel, Marius Botha (25), besluit om die res van hul lewe saam deur te bring.

Maroela Media het vroeër berig oor die verliefde paartjie wat jare lank beplan het aan hul droomvakansie om Thailand te verken, min wetend dat dit in ʼn oogwink in ʼn nagmerrie sou verander.

Elske en Marius, albei van Vereeniging in Gauteng, was meer as ʼn maand lank in Thailand gestrand ná ʼn bromponie-ongeluk in dié land en het nie geld gehad om die mediese onkoste te betaal en terug te keer nie.

Die paartjie het in Mei 2014 na Thailand gereis om los werkies daar te doen vir gratis verblyf en ʼn ete elke dag. Hulle het ook geld bymekaargemaak om die land te verken.

Hulle was op 24 Junie in die ongeluk. Marius het sy skouer, heup en kakebeen ontwrig. Hy het ook sy wangbeen gekraak en ʼn been in sy voet gebreek. Elske het ʼn ernstige kopbesering opgedoen en moes ʼn noodoperasie ondergaan om ‘n bloedklont op haar brein te verwyder.

Hulle is in die Bandon- privaat hospitaal op die Koh Samui-eiland behandel. Marius se mediese onkoste was sowat R27 000 en Elske s’n sowat R270 000.

Marius het ná die ongeluk verneem dat sy versekering nie die mediese uitgawes gaan betaal nie, omdat hy nie ʼn rybewys vir die bromponie gehad het nie.

Die hospitaal het die paartjie se paspoorte gehou as versekering totdat ʼn gedeelte van Elske se mediese onkoste betaal is.

Hulle het by ʼn pastoor en sy vrou, wat van Suid-Afrika afkomstig is en in Thailand woon, tuisgegaan. Met die hulp van die pastoor kon hulle ʼn ooreenkoms met die hospitaal bereik om huis toe te kom op voorwaarde dat hulle die skuld maandeliks terugbetaal. Hulle het op 9 Augustus teruggekeer na Suid-Afrika.

“ʼn Anonieme persoon het kort ná ons aankoms in Suid-Afrika vir ons R300 000 geskenk waarmee ons alles met die hospitaal kon regmaak. Die regterkant van my gesig was nog lam en ek kon nie my oog knip nie,” het Elske Donderdag aan Maroela Media gesê.

Ná maande se rehabilitasie en fisioterapie is Elske onlangs deur ʼn neuroloog ondersoek wat vir haar gesê het sy het geen breinskade opgedoen nie.

“Ek is nou 100% reg. My gesig is nie meer lam nie en ek kan weer my oog knip. Ek is die groen lig gegee om weer self te bestuur.”

Marius werk tans deur die week in Johannesburg as terreinbestuurder  vir ʼn maatskappy wat luukse verwarmers installeer. Elske het voorheen by ʼn inbelsentrum vir ʼn mediese fonds gewerk, waarna sy bevordering gekry het om administratiewe take te verrig. Sy is tans op soek na ʼn nuwe werk in Johannesburg by ʼn inbelsentrum of as ontvangsdame of administratiewe beampte.

Die paartjie sien mekaar net elke naweek, aangesien Marius deur die week in Johannesburg woon om reiskoste te bespaar.

Elske se pragtige verloofring wat Marius Botha vir haar gegee het (Foto verskaf)

Elske se pragtige verloofring wat Marius Botha vir haar gegee het (Foto verskaf)

Oor die oomblik van die groot vraag op 31 Mei, verduidelik sy: “Omdat ons mekaar net naweke sien, gaan dinge dan dol en is ʼn mens altyd besig. Hy het daardie dag vir my gesê ek moet my mooi aantrek, want net ek en hy gaan so ’n bietjie na die winkelsentrum toe.”

Sy het gesê Marius het haar na ʼn nabygeleë Lord Signature Hotel geneem waar die tweetjies die hele restaurant vir hulself gehad het. “Dit was alles so romanties en spesiaal. Ek het niks vermoed nie en toe ons klaar geëet het, het hy vir my die ring gewys en my gevra om te trou. Ek het dadelik ja gesê!”

Elske het gesê hulle het nog nie ʼn vaste datum vir die troue bepaal nie, maar beplan om die knoop in Maart deur te hak. “Die weer is dan goed en ek droom van ʼn mooi klein en intieme buitetroue by ʼn plek met ʼn asemrowende tuin en uitsig. As dit nie uitwerk nie, sal ek graag in ʼn mooi kerk wil trou.”

Op die vraag of sy dalk Thailand toe sal wil gaan vir hul wittebrood, sê sy skertsend en baie vinnig nee. “Ons sal eerder Kaap toe wil gaan. Daar is soveel mooi plekke in die land dat ʼn mens nie oorsee hoef te gaan nie. Ek sal wel eendag dalk weer Thailand toe gaan, maar dit sal oor ʼn paar jaar wees en ons sal dit dan op ʼn luukser manier doen.”

Die paartjie weet steeds nie wie die anonieme skenker is wat hulle gehelp het nie, maar kan hom nie genoeg bedank vir wat hy vir hulle gedoen het nie. “Ons wil die persoon uit ons hart bedank. Ons wil ook almal bedank wat ons destyds met skenkings bygestaan het en almal wat vir ons gebid het. Ek wil spesiaal vir my ma, Lousa Roux, ook bedank vir alles wat sy vir my en Marius gedoen het en dat sy haar geld gebruik het om vir my terapie te betaal. Ons het ʼn wonderwerk van God beleef en ons troue is nou die volgende stap,” het sy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Mag ons liewe HERE die anonieme skenker ELKE DAG ryklik seen!!! Dit wys weer eens: mense gee nog vir mekaar om – als is nie verlore nie!!!

Natascha ·

Wow! Ek kry sommer hoendervleis as ek lees hoe die Here nog mense gebruik om Sy wonderwerkte te verrig en dat die annonieme skenker gehoorsaam is aan Sy stem. Ek wens vir die paartjie baie mooi jare saam toe – julle is pragtig!

Johann ·

Ons die n Groot God , dankie Jesus Christus vir al die Genade en Liefde wat U oor die 2 mooi. Mense. Uitstort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.