KWV het gesê sy vermoë om sekere handelsmerke te bottel sal tydelik beïnvloed word nadat ʼn brand by sy botteleringsaanleg in die Paarl uitgebreek het.
Volgens KWV het die brand tussen 06:30 en 07:00 uitgebreek en het brandweerspanne spoedig gereageer om die brand onder beheer te bring. “ʼn KWV-werknemer, ʼn diensverskaffer en ʼn brandbestryder is vir rookinaseming in die hospitaal opgeneem en is in ʼn stabiele toestand. Vier KWV-werknemers is op die toneel vir minder ernstige rookinaseming behandel.”
KWV het gesê die skade is beperk tot dele van die bottelering- en verpakkingsinfrastruktuur. “Ons vermoë om sekere handelsmerke te bottel, sal dus tydelik beïnvloed word. Ons is tans besig met die opstel van gebeurlikheidsplanne met verskeie diensverskaffers en verwante bedrywe om te help met botteldienste van daardie produkte wat geraak word.”
Volgens KWV word versnydings-, logistieke en verwante verspreidingsbedrywighede nie geraak nie. “KWV is dankbaar vir die vinnige en doeltreffende reaksie deur die onderskeie nooddienste en meer belangrik dat daar geen lewensverlies was nie.”
Die Drakenstein-munisipaliteit het intussen gesê brandweerspanne van dié munisipaliteit sowel as van die Stellenbosch- en Kaapse Wynland-munisipaliteit het op die brand gereageer.
“Agt en veertig brandbestryders en 14 brandweerwaens was op die toneel en kon daarin slaag om te verhoed dat die brand na tenks met sowat 90 000 liter brandewyn versprei. Masjinerie, kantoortoerusting en bottels op palette is hoofsaaklik in die brand beskadig.”
Die oorsaak van die brand is onbekend en word deur die polisie ondersoek.
90 000 liter brandewyn? Gelukkig is volgende week se drank gered. Daar is darem nog klein genadigies. Ons hoef nie op te pot vir volgende week nie. ;-)
Dankie tog die brand is gestop. Dit sou n lang Desember gewees het.
Moet nie ‘n kans vat nie. Koop ‘n kas of twee van jou gunsteling.