Van negatief tot stabiel: Só besluit Moody’s

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. (Foto: ANA)

Moody’s Investors Service (“Moody’s”) het die vooruitsig vir Suid-Afrika se gradering van negatief na stabiel verander.

Moody’s gradeer steeds alle staatskuld op twee vlakke onder beleggingsgraad (Ba2), maar nou met ʼn stabiele vooruitsig.

“Die sleuteldrywer agter die besluit om die vooruitsig na stabiel te verander, is die verbeterde fiskale vooruitsigte wat die waarskynlikheid verhoog dat die regering se skuldlas op mediumtermyn sal stabiliseer,” het Moody’s in ʼn verklaring gesê. Terwyl risiko’s weens swak staatsondernemings (SOE’s) en maatskaplike eise steeds geld, vereis dit nie ʼn afgradering nie.

“Die regering het oor die afgelope twee fiskale jare getoon dat hy in staat was om sy besteding te herprioritiseer, terwyl hy verbind bly tot fiskale konsolidering, wat Moody’s verwag vorentoe die geval sal bly.”

Moody’s het gesê Suid-Afrika se fiskale posisie het merkbaar van die pandemie herstel danksy die regering se fiskale konsolideringsmaatreëls en positiewe eksterne ontwikkelings. “Gevolglik lyk dit nou waarskynlik dat die regering se skuld-tot-BBP-verhouding op mediumtermyn rondom 80% (waarborge aan SOE’s ingesluit) sal stabiliseer. Dit dui op ʼn verbetering in vergelyking met Moody’s se vorige projeksies van ʼn lang tydperk van steeds stygende skuld-tot-BBP.”

Suid-Afrika se groei bly struktureel swak. “Beperkings wat voortspruit uit ʼn wanfunksionele arbeidsmark en vervalle infrastruktuur duur voort. Laasgenoemde lei tot ʼn energiegaping en gereelde kragonderbrekings, asook ander ontwrigtings wat hoogs ontwrigtend is vir die funksionering van Suid-Afrika se energie-intensiewe ekonomie. Moody’s verwag dat hierdie beperkings sal bly en voorspel BBP-groei op slegs sowat 1,5% op mediumtermyn.”

Haweloses in Johannesburg (3 Februarie 2022) (Foto: Marco Longari/AFP)

Baie swak SOE’s oor ʼn aantal sektore, waaronder elektrisiteit en vervoer, dra by tot swak groei en word daardeur geraak, sonder enige vooruitsigte van beduidende verbeterings in die afsienbare toekoms. “Op sy beurt verhoed struktureel lae groei en arbeidsmarkrigiditeite ʼn verbetering in lewenstandaarde en ʼn vermindering in Suid-Afrika se groot ongelykhede, wat maatskaplike risiko aanvuur.”

ʼn Graderingsopgradering kan waarskynlik volg as Suid-Afrika aansienlike vordering toon om strukturele beperkings op groei te verlig, wat die vooruitsigte van ʼn afname in staatskuld versterk.

ʼn Afgradering kan moontlik wees indien ʼn verdere erosie in Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte en hernieude verswakking in sy fiskale sterkte plaasvind. Indien staatsondernemings meer hulp benodig as wat Moody’s tans verwag, kan dit ook ʼn afgradering veroorsaak.

Die tesourie het Moody’s se aankondiging verwelkom. “Die regering se onwrikbare verbintenis tot die herstel van volhoubaarheid in openbare finansies word ondersteun deur beter-as-verwagte inkomste-invordering. Die regering gebruik ʼn gedeelte van die bykomende inkomste om skuldstabilisering te versnel, met die meerderheid daarop gemik om dringende maatskaplike behoeftes aan te pak, werkskepping deur die presidensiële indiensnemingsinisiatief te bevorder en die openbare gesondheidsektor te ondersteun.

“Vinniger inwerkingstelling van ekonomiese en staatsondernemingshervormings, gepaardgaande met fiskale konsolidering om ʼn stabiele grondslag vir groei te verskaf, sal beleggers se kommer verlig, asook ʼn vinniger herstel en hoër vlakke van ekonomiese groei ondersteun,” het die tesourie in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.