Van Noord tot Suid kraai Klofies koning

Foto: Verskaf.

Verskoon tog die geykte cliché – jy mag gerus jou oë rol – maar Hoërskool Waterkloof het hul teenstanders vir ʼn ses in die afgelope Noord‑Suid-kriekettoernooi geslaan.

Die Pretorianers het met gerekende krieketskole soos Grey Kollege, Wynberg Boys’ High en Paarl Boys’ High in hul opmars na die eindstryd klaargespeel voordat hulle vir Hoër Volkskool Potchefstroom met agt paaltjies getroef het om die silwerware omhoog te hou.

“Ons is trots op ons krieketprogram; die spelers en afrigters werk hard en bring baie tyd op die oefenveld deur. As skool is dit vir ons belangrik om op ’n konstante basis goeie krieket te speel; dit is ʼn groot bonus as sukses daarmee gepaard gaan,” het Cobus Pienaar, Waterkloof se direkteur van krieket, gesê.

Die eindstrydoorwinning is natuurlik almal se gunsteling, maar die halfeindstryd teen Paarl Boys’ High het ook vir Pienaar breed laat glimlag.

Klofies het die wenlopies in die 20ste boulbeurt van die wedstryd geslaan om ʼn spannende kragmeting met vyf paaltjies te beklink.

“Dit was ʼn ongelooflike T20-wedstryd en al twee spanne het ʼn kans gestaan om as oorwinnaars van die veld te stap.”

Hy sonder veral Stefan Driemeyer en Alexander Volschenk se vennootskap uit; kolwers wat met hul kalm benadering onder kwaai druk geskitter het.

Hoërskool Waterkloof se seëvierende krieketspan. Foto: Verskaf.

So van individuele prestasies gepraat – Christiaan du Toit het 224 lopies in die toernooi gemoker, terwyl Nico van der Westhuizen 13 paaltjies laat spat het.

Mik-en-moker-krieketwedstryde se gewildheid neem wêreldwyd toe, maar Pienaar meen dat die spelers vir alle formate toegerus moet word om met ʼn moontlike krieketloopbaan ná skool voort te gaan.

“Ek moet egter byvoeg dat T20-krieket onder hoë druk gespeel word en vinnige besluitneming is dikwels die antwoord.

En Waterkloof se spelers het gewys dat hulle beslis staande in drukkokersituasies kan bly.

  • Deelnemende skole:

Noord: Hoërskool Waterkloof, Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Centurion, Hoërskool Nelspruit, St Stithians College, Hoër Volkskool Potchefstroom, Grey Kollege en St Andrew’s School (Bloemfontein).

Suid: SACS, Wynberg Boys’ High, Rondebosch Boys’ High, Paarl Boys’ High, St Andrew’s College (Grahamstown), Westville Boys’ High, Grey High School en Northwood School.

Foto: Verskaf.

Opsomming van Waterkloof se wedstryde:

  • Klop Northwood met tien paaltjies

Northwood 111/10 in 18,5 boulbeurte: Hernus Marais 3/17 en Wian Ruthven 2/16

Waterkloof 112/0 in 9,1 boulbeurte: Ruthven 73*

  • Verloor teen SACS met twee paaltjies

Waterkloof 196/8 in 20 boulbeurte: Marcus Bekker 53

SACS 185/8 16,3 boulbeurte (Duckworth‑Lewis-teiken): Nico van der Westhuizen 5/14 (driekuns inkluis)

  • Klop Grey Kollege met agt paaltjies

Grey Kollege 123/6 in 20 boulbeurte: Nico van der Westhuizen 3/15 en Wian Ruthven 2/22

Waterkloof 124/2 in 7,4 boulbeurte: Christiaan du Toit 89*

  • Klop Wynberg Boys’ High met ses paaltjies

Wynberg 128/8 in 20 boulbeurte: Hernus Marais 4/22 en Marcus Bekker 2/22

Waterkloof 132/4 in 15,3 boulbeurte: Christiaan du Toit 50

  • Klop Paarl Boys’ High met vyf paaltjies

Paarl Boys’ High 140/4 in 20 boulbeurte: Nico van der Westhuizen 2/25

Waterkloof 146/5 in 19,3 boulbeurte: Stefan Driemeyer 52*en Alexander Volschenk 45*

  • Klop Hoër Volkskool Potchefstroom met agt paaltjies:

Potch Volkies 120/10 in 17,5 boulbeurte: Alexander Volschenk 4/15 en Wian Ruthven 2/16

Waterkloof: 124/2 in 13,1 boulbeurte: Luka Kruger 51* en Wian Ruthven 38.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Baie goed. Wynberg definitief een van die goeie krieketskole in die Kaap (Kallis, Allan Lamb, Verreynne, Levi, Garth le Roux, ens.) maar Rondebosch ( Gary Kirsten, Trott, HD Ackerman,ens.) en Bishops (Gibbs, Kuiper, ens.) gewoonlik sterker spanne. Ek sien hulle het verloor teen SACS ( Peter Kirsten en Percy Montgomery se ou skool). Die Afrikaanse skole in die Kaap nie so sterk soos genoemde Engelse skole in krieket nie.

piet ·

Ek gaan raai dat Waterkloof se wentelling teen Grey Kollege seker na 17.4 boulbeurte behaal is en nie na net 7.4 boulbeurte nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.