Van ope brief tot waarskuwingsbrief vir pediater

Dr. Tim de Maayer (Foto: Change.org)

Dr. Tim de Maayer, die pediater wat aanvanklik geskors is ná ʼn ope brief oor die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal (RMMCH), is terug by die werk. Tog word daar nou dissiplinêre stappe teen hom gedoen.

De Maayer is glo meegedeel dat ʼn waarskuwingsbrief aan hom beteken sal word. Daar word gevrees dat die waarskuwing eindelik tot sy ontslag sal lei.

Volgens die Progressive Health Forum word De Maayer nou boonop gedwing om dr. Nozuko Mkabayi, uitvoerende hoof van die RMMCH, om verskoning te vra omdat hy glo ʼn kort boodskap gestuur het waarin hy sy kollegas bedank het vir hul ondersteuning ná die ope brief.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê dié nuus is uiters teleurstellend.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê op sy beurt De Maayer se dapperheid stel ʼn voorbeeld vir medici oor die hele land wat hoofsaaklik ʼn verantwoordelikheid teenoor hul pasiënte het en nié die fasiliteite waar hulle in diens is nie.

“Wat nou met dr. De Maayer gebeur, is niks meer as ʼn wraaksugtige poging van hospitaalowerhede om ʼn kritikus van hul swak administrasie stil te maak nie,” sê dr. Vusumuzi Nhlapho, uitvoerende hoof van Sama.

Nhlapho beskuldig Mkabayi van “gewetenlose, onetiese en skandelike gedrag”.

Nhlapo én Bloom meen die departement van gesondheid behoort ʼn ondersoek na Mkabayi se optrede teenoor De Maayer asook haar beweerde wanbestuur van die RMMCH te gelas.

“Toestande by dié hospitaal moet drasties verbeter word sodat moeders en kinders ordentlike sorg kry,” sê Bloom.

“Die huidige situasie is haglik, en dit is ewe skandelik dat die Gautengse departement van gesondheid nie vroeër ingegryp het om die saak doeltreffend te hanteer nie,” sê Nhlapho op sy beurt.

Volgens hom is dit boonop nog meer kommerwekkend dat die departement van gesondheid nie vinniger optree om die haglike omstandighede by die RMMCH aan te pak nie.

“Wat nou nodig is, is dat dr. De Maayer sonder voorwaarde heraangestel word, dat sy bekommernisse op die hoogste vlak binne die Gautengse departement van gesondheid aangeraak word, en dat die regstelling van hierdie kwessies voorkeur geniet binne die departement.”

  • De Maayer se ope brief rakende die toestande by die RMMCH is op 22 Mei deur Daily Maverick geplaas en sedertdien wyd versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack ·

In anc land het geen wit fluitjieblaser n kans nie. Kaders beskerm kaders en dit sal nie verander voordat n demokratiese regering verkies is nie. China het dieselfde beleid en teenkanting teen sy kaders word met die dood en tronkstraf beloon. Ons volg maar net die BRICS voorskrifte.

Catherina ·

Bedank Dr. Jy sal opgeraap word by ander mediese instellings. In hierdie land as jy waarheid praat, word jy vervolg!!!!!

Yvonne ·

Nou waar is die ondersteuning wat die man moet kry……gemorste…

miche ·

Ek het nogal op M/Media voorspel dat hierdie dokter voortaan deur die hospitaal en Departement getreiter gaan word. Hul moet hom eerder ‘n bevordering en ‘n hengse verhoging gee. Op watter manier Kan ons hom bystaan?

annie ·

Koebayi SA. Ons sit met talentvolle kundiges wat in varkhokke moet presteer. Binnekort vat almal die pad en dan sit ons met varkhokke. Gelukkig het ons darem covidentstof vir die volgende eeu. Niemand moet net tog asseblief, vir hul eie welsyn, nie enige ander siekte opdoen nie, want…

madels ·

Ja nee, as n mens jou mond oopmaak en iets sê teen hierdie korrupte sisteme in ons land moet jy weet dit gaan nie sommer só gesluk word nie.
Sterkte Dr DeMaayer., Mag geregtigheid seëvier in hierdie belaglike situasie.

Nie Verbaas ·

Dit maak n mens siek. Moet tog net nie waag om hopelose ANC te ontbloot wanneer almal alreeds weet hoe onbevoeg en hopeloos hulle is nie.

Dries ·

Sou graag wou verneem waar “Dr”Nozuko Mkaboyl graad verwerf het. Wat n skande/klad vir SA.

Korrelkop ·

Frommel die brief op en druk hom in waar die son nie skyn nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.