Van Pofadder tot Pampoenkraal

Daar was vanjaar weer talle opspraakwekkende hofsake wat die media se aandag getrek het. Van dié sake wat vanjaar aangehoor is, sal volgende jaar voortgesit word.

Hoewel dit onmoontlik is om al die groot en nuuswaardige hofsake in een berig saam te vat, het Maroela Media gaan kyk na van die grootste hofsake wat in 2021 aangehoor is.

Huurmoord op Pofadder

Suretha Brits konsulteer met haar regsverteenwoordiger, adv. Barry Roux. Sy was emosioneel tydens die hofverrigtinge (Foto: Anja van der Merwe)

Suretha Brits (31), weduwee van die vermoorde hoteleienaar Leon Brits (41), is op 15 November in die hooggeregshof in Upington, Noord-Kaap, tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Dié vonnis volg op ’n pleitooreenkoms wat met die staat gesluit is waarin sy skuld vir die moord op haar man beken het.

Leon Brits is op 7 Oktober verlede jaar wreed vermoor en sy liggaam is in die swembad van die egpaar se huis op Pofadder gegooi.

Brits het glo derduisende rande betaal om Leon te laat vermoor. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren in Maart met die staat gesluit het.

Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem.

Williams en Bareki se verhoor het in November in die hooggeregshof in Upington begin en sal na verwagting op 31 Januarie voortgesit word.

Groblersdal-moord dalk sameswering?

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou Woensdag in die landdroshof in Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Simone Papapavlou (26) en haar vriendin, Patricia Ray Lee Smith (23), het verskeie kere in die landdroshof op Groblersdal, Limpopo, verskyn vir die moord op Simone se man, Raymond Gregory Papapavlou (28).

Simone is in Augustus op borgtog vrygelaat terwyl Smith in daardie stadium reeds uit was op borgtog.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle in Oktober verlede jaar saamgesweer het om Raymond te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ’n romantiese verhouding betrokke.

Simone en Smith moet weer in November 2022 in die hooggeregshof in Polokwane verskyn wanneer hulle verhoor amptelik begin.

Parysboere spring tronkstraf vry

Van links: Anton Loggenberg, Boeta van der Westhuizen, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen jr. en Miela Jansen van Vuuren. (Foto: Anja van der Merwe)

Die vyf boere in die opspraakwekkende Parys-aanrandingsaak is in September ná byna vyf jaar gevonnis.

Die boere se vonnis spruit uit die dood van Samuel Tjixa (35) en Simon Jubeba (29) wat op 6 Januarie 2016 ná ’n plaasaanval deur dié vyf boere aangekeer en só erg aangerand is dat hulle ʼn dag later aan hul beserings beswyk het.

Boeta van der Westhuizen (52) en Anton Loggenberg (55) is tot 15 maande korrektiewe toesig gevonnis op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die twee se seuns, Loedie van der Westhuizen jr. (23) en Cor Loggenberg (24), asook Boeta se skoonseun, Miela Jansen van Vuuren (28), is onderskeidelik 27 maande, 12 maande, en tien maande tronkstraf op dieselfde aanklagte opgelê.

Al drie se tronkstraf is vir drie jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle nie in hierdie tydperk weer skuldig bevind word aan dieselfde misdrywe nie.

Aftreeoord-moord

Tersius du Plessis het in die hof verskoning gevra vir die moord op Johanna Rossouw. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Tersius du Plessis (36) het op 1 Desember skuld beken vir die moord op Johanna Rossouw op 31 Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni.

Hy is twee dae later lewenslange tronkstraf opgelê op aanklag van moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Du Plessis is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Du Plessis het op hartroerende wyse vir Rossouw se familie in die hof om verskoning gevra.

Skote klap op Pampoenkraal

Van agter links: Daniel Cornelis Malan, Cornelius Lourens Greyling, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Othard Johann Klingenberg en Ignatius Michael Steynberg in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Vyf mans word aangekla van die moord op twee broers, Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka, op 9 April op die plaas Pampoenkraal in die Piet Retief-omgewing in Mpumalanga. Hulle is in Julie borgtog van R10 000 elk toegestaan.

Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53), Ignatius Michael Steynberg (31) en Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering en regsverydeling.

In ʼn video-opname van die gebeure wat die noodlottige skietery voorafgegaan het, blyk dit dat die boere nie aggressief opgetree het, soos die staat beweer nie.

Die beeldmateriaal wys hoe betogers op die plaas aankom en plaaswerkers verjaag. Dit wys ook hoe die eerste oorledene in ʼn konfrontasie met sy broer, wat in dié stadium op die plaas gewerk het, betrokke raak.

Die video beeld egter nie die gebeure tydens die skietery uit nie.

Die broers se dood spruit glo uit die optrede van ʼn groep betogers wat op die noodlottige dag plaaswerkers geïntimideer en aangerand het, na bewering om te verhoed dat hulle hul werk doen.

Die betogers het na bewering aggressief voorgekom en het boere wat op die toneel gereageer het met onder meer stokke aangeval.

Die beskuldigdes sal na verwagting weer op 17 en 24 Januarie 2022 in die hooggereghof op Breyten verskyn.

Moord op Brendin Horner

Brendin Horner (Foto: Facebook)

Die staat het in November – meer as ’n jaar ná die moord op die 21-jarige Brendin Horner – erken dat hy nié Sekola Matlaletsa en Sekwetje Mahlamba met die jong plaasbestuurder se moord kan verbind nie. Hulle is boonop op aanklag van skaapdiefstal ook vrygeskeld.

Horner is in Oktober verlede jaar op ʼn plaas in die Paul Roux-omgewing wreedaardig vermoor. Hy het talle steekwonde aan sy liggaam gehad, dit het gelyk asof hy oor die grondpad gesleep is en sy liggaam is aan ʼn paal in ʼn veld op die plaas vasgemaak.

Die nadoodse ondersoek het verwurging as die oorsaak van Horner se dood aangedui.

Private speurder Mike Bolhuis is intussen aangestel om die saak opnuut te ondersoek.

Glencoe-skietvoorval

Garth Simpson (68), ’n boer van Glencoe, KwaZulu-Natal, se borgtogaansoek is in Oktober in die Glencoe-landdroshof van die hand gewys. Hy het hom daarna tot die hooggeregshof gewend om die hof se besluit te betwis. Hy is sedertdien in aanhouding en sy appèlaansoek is nog nie afgehandel nie.

Simpson is in September op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat hy glo die 17-jarige Qiniso Dlamini in ’n struweling doodgeskiet het.

Hy sal na verwagting weer op 15 Februarie in die hof verskyn.

Ace Magashule en die asbesprojek

Ace Magashule. (Foto: Twitter)

Ace Magashule, die ANC se geskorste sekretaris-generaal, het vanjaar eindelik sy verskyning in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Bloemfontein gemaak op aanklag van bedrog.

Magashule en sy 15 medebeskuldigdes staan tereg op meer as 70 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery. Dit hou verband met ʼn ondersoek na ʼn R255 miljoen-tender wat tydens sy termyn as premier van die Vrystaat vir ʼn ondersoek na asbesdakke in die provinsie toegeken is.

Magashule se persoonlike assistent, Moroadi Cholota, is in November ook by die lys van beskuldigdes gevoeg. Hulle sal in die nuwe jaar weer in die hof verskyn.

Oudweermaglid sit lank vir skote in verkeer

Carine van Staden en haar verloofde, Johan Harmse. (Foto: Verskaf)

Die voormalige weermagkorporaal wat Carine van Staden in Augustus 2017 ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer geskiet het, is ná meer as vier jaar gevonnis en sal lank agter tralies deurbring.

Jacob Marakalla (38) is in Oktober tot 18 jaar direkte tronkstraf in die Pretoria-Noord-streekshof gevonnis.

Van Staden is geskiet toe sy en haar verloofde, Johan Harmse, van Daspoort op sy motorfiets op pad was na vriende in Montana in die noorde van Pretoria. Marakalla was in ʼn amptelike weermagvoertuig en het Harmse se motorfiets skrams getref en weggery. Van Staden het hom by ’n verkeerslig hieroor gekonfronteer, waarna hy haar geskiet het.

Marakalla se verweer was deurgaans dat hy gedink het hy word gekaap en uit noodweer opgetree het.

Van Staden is in die bors geskiet en het die skoot oorleef, maar sukkel vandag met haar gesondheid.

Zuma-sage duur voort

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma is in Julie tot 15 maande tronkstraf gevonnis vir minagting van die hof nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

Die verdediging het egter aangevoer dat Zuma sonder verhoor opgesluit is.

Hy het skaars ʼn maand van die tronkstraf uitgedien voordat hy in die hospitaal opgeneem is vir ʼn onbekende siektetoestand. Hy is intussen op mediese parool vrygelaat. Verskeie organisasies het intussen sy vrylating betwis en die saak duur voort.

Zuma het sedertdien versuim om in die hof te verskyn op 16 aanklagte van korrupsie teen hom, wat verband hou met die omstrede wapenskandaal. Sy siektetoestand is as verskoning voorgehou en dié saak is vanjaar weer telkemale uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.