Van Rooyen oorstelp oor eerste PGA-titel

Erik van Rooyen vier sy oorwinning. (Foto: Alex Goodlett/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het ’n voëltjie op die 18de putjie aangeteken om Sondag die Barracuda-kampioenskap te wen en sodoende sy eerste sege in die Amerikaanse PGA-reeks te behaal.

Die 31-jarige van Kaapstad het 16 punte in die vierde ronde aangeteken om die toernooi met 50 punte af te sluit en die naaswenner Andrew Putnam van Brittanje met vyf houe te wen by die Old Greenwood-baan in Truckee, Kalifornië.

“As dit jou dag is, is dit jou dag,” het Van Rooyen gesê. “Dit beteken alles. Dit is almal se droom om hier (Noord-Amerika) te speel. Kyk na my loopbaan. Ek het in Suid-Afrika begin en in Suid-Afrika en Europa gewen en nou hier. Ek is oorstelp van vreugde.”

Van Rooyen is die derde Suid-Afrikaner om vanjaar in die Amerikaanse PGA-reeks te wen. Branden Grace het in Maart die Puerto Rico-ope gewen waarna Garrick Higgo in Junie in die Palmetto-kampioenskap geseëvier het. Dit is die eerste keer sedert 2010 dat drie Suid-Afrikaners in dieselfde seisoen wen. Ernie Els, Tim Clark en Louis Oosthuizen kon dit ook destyds regkry.

Van Rooyen het ook geluk aan sy kant gehad nadat sy bal op die 18de putjie ’n boom getref, teruggeskiet en op die skoonveld geland het.

“Dit was waarskynlik my slegste hou die hele week, maar soms het jy net ’n bietjie geluk nodig.”

Van Rooyen het in Augustus 2019 sy eerste trofee in die Europese reeks gewen nadat hy in die Skandinawiese uitnodigingstoernooi geseëvier het.

Van Rooyen het Sondag se oorwinning aan sy vrou en baba opgedra. Sy dogtertjie is ’n maand gelede gebore en volgens Van Rooyen het hy die afgelope tyd so baie gereis dat hy nog nie veel tyd met haar kon deurbring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jzjz05 ·

Afgesien van ons regering se Beleid teenoor blanke sportmanne hou jy Suid afriekaaners se naam nog hoog ,dankie daarvoor en ons hou duim vas vir nog velle oorwinnings in die toekoms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.