Van Rooyen se reuse-Kersgeskenk

Erik van Rooyen. Foto: (AP Photo/Jon Super)

Toe Erik van Rooyen Maandagoggend wakker word, het hy ʼn vroeë Kersgeskenk ontvang waaroor enige gholfspeler sal droom.

Nee, dit was nie gholfstokke, -balle of ʼn handskoen nie, maar ʼn uitnodiging na die Amerikaanse Meesters.

Van Rooyen, wat die afgelope week saam met sy gesin vakansie hou, sal van 9 tot 12 April 2020 in die Amerikaanse Meesters op Augusta in Georgia afslaan nadat hy vanjaar in die 50ste plek op gholf se wêreldranglys afgesluit het en sodoende die laaste kwalifiseringsplek gevul het.

ʼn Goue 50, maar een van naelskou, want vanjaar se laaste toernooi, die Australiese PGA wat die naweek op Royal Pines aan die Australiese Goudkus beslis is, sou bepaal het of sy toekoms kristalhelder is.

Van Rooyen (50ste) en die Kanadees Adam Hadwin (49ste), wat ook nie in die Australiese PGA gespeel het nie, het by die Meesters se agterdeur ingeglip, maar nou sal hulle saam met gholf se heel grotes op die voorstoep van die Augusta-buiteklub skouers kan skuur, daar waar slegs die lede en vorige wenners die gesogte groen baadjie mag dra.

Van Rooyen, een van die heel gaafste ouens op die gholfbaan, sal saam met Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel, Trevor Immelman, Justin Harding en Dylan Frittelli die Suid-Afrikaanse vlag by een van gholf se kroonjuwele laat wapper.

Van Rooyen (29) is in Bellville gebore, maar was in Oudtshoorn op skool waar hy op sewejarige ouderdom begin gholf speel het. Sy ouers woon nou op Douglas in die Noord-Kaap, waar sy ma steeds skoolhou.

Erik van Rooyen. Foto: (AP Photo/Jon Super)

Van Rooyen is ná skool na die Universiteit van Minnesota waar hy gestudeer het en gholf gespeel het.

Dis waar hy sy vrou, Rose Roberts (wat ook sy joggie is, hoewel sy nie gholf speel nie), ontmoet het.

Van Rooyen, wat in 2013 ʼn beroepspeler geword het, was toe slegs 1 508ste op die ranglys. In 2016 was hy 636ste, in 2017 en in 2018 141ste en nou 50ste.

Dit was danksy sy oorwinning in die Skandinawiese Ope en die tweede plek in die Turkse Ope.

Van Rooyen het voorheen in Amerikaanse Ope, Britse Ope en Amerikaanse PGA gespeel, maar die Meesters, waar slegs die wêreld se beste spelers op grond van oorwinnings in spogtoernooie en ranglysposisie kan kwalifiseer, het hom tot dusver ontwyk.

Vinnige feite oor die Meesters:

  • Die toernooi is die eerste keer in 1931 gespeel en Suid-Afrika het reeds drie wenners opgelewer: Gary Player (1961, 1974, 1978), Trevor Immelman (2008) en Charl Schwartzel (2011).
  • Die wenner kry ʼn gesogte groen baadjie, wat net deur die wenner gedra mag word en ná ʼn jaar in die klubhuis moet bly hang. Dit mag net in die klubhuis/op die baan gedra word. Player het dit in 1961 per ongeluk in sy tas gepak en na Suid-Afrika teruggeneem … maar volgens tradisie nooit gedra nie.
  • Die silwer Meesterstrofee, waarop die wenner en naaswenner se name gegraveer word, het ʼn permanente staanplek in die klubhuis en dit weeg 60 kg. ʼn Replika wat 8 kg weeg word aan die wenner oorhandig.
  • Verlede jaar het slegs 87 spelers afgeslaan en nog net een keer, in 1996 toe 103 spelers afgeslaan het, is die 100-kerf oorsteek.
  • Afgesien van Hadwin en Van Rooyen, sal Jazz Janewattananond van Thailand (40ste) ook sy debuut maak.
  • Een van die Meesters se glansryke tradisies is die Kampioene-ete, wat voor die toernooi in die klubhuis aangebied word. Dit is die vorige jaar se kampioen se voorreg om oor spyskaart te besluit.
  • In 2001 het Schwartzel ʼn vleisie gebraai, bestaande uit tjops, wors, beeshaas en burgers. Daar was ʼn seekos-voorgereg en saam met die hoofgereg is daar aartappels, aspersies, groenboontjies en mielies bedien, met vanieljeroomys as nagereg.
  • In 2008 het Immelman se keuse op bobotie en hoendersosaties geval, aangevul met ʼn spinasieslaai en melktert as nagereg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.