Van skoolseun in George tot internasionale rugbyheld

CJ Stander kuier op sy ouers se plaas net buite
George. Foto: Eugene Gunning

Hy droom van ʼn oomblik waar hy die Wêreldrugbybeker saam met sy Ierse spanmaaats omhoog hou.

Só vertel CJ Stander, Suid-Afrikaans gebore rugbyspeler wat deesdae een van Ierland se staatmakers is. Hy het juis onlangs ʼn beslissende drie vir Ierland gedruk in die laaste toets teen Australië. Nie net het die drie Ierland in staat gestel om die toets te wen nie, maar ook die reeks.

Stander het kort ná die toer in Suid-Afrika kom kuier op sy ouers se plaas Buffelsdrift naby George. Sy vrou, Jean-Marié, het ook aangesluit. Sy is die suster van Ryk Neethling.

Die 28-jarige Stander het op sy ouers se plaas aan Maroela Media vertel dit is wonderlik om weer in George, sy grootwordwêreld, te kom. “George lê my na aan die hart. Alles wat ek ken, kom van George af.”

As hy in George beweeg, herken mense hom en tydens sy besoek het mense geselsies aangeknoop. Hulle verwar hom wel soms met sy jonger broer, Janneman, wat vir die SWD-Arende speel.

Terwyl hy op die plaas gekuier het, het hy so ʼn bietjie trekker gery en kool gaan aflaai. “Ek het my pa ook met die beeste gehelp.”

Sy verbintenis met die Suid-Kaap kom ʼn lang pad. Hy was op Blanco Primêr en is later na die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, waar hy hoofseun was. Destyds was hy onder meer SA skolekaptein en ook ʼn diskusgooier van formaat.

George lê Stander na aan die hart en hy wil eendag na sy rugbyloopbaan in die gebied kom boer. Foto: Eugene Gunningr

Hy is later deur die Blou Bulle gekontrakteer en toe al het verskeie mense gesê dit is nie of hy Springbok gaan word nie, maar wanneer. Hy is selfs as ʼn toekomstige Springbokkaptein gesien. As mens dit vir hom vertel, glimlag hy net.

In ʼn stadium is vir hom gesê hy is te klein vir Suid-Afrikaanse rugby en hy het besluit om in Ierland te gaan speel. Hy en Jean-Marié Neethling het op 1 November 2012 na Ierland vertrek. “Ek is hier weg met twee tasse.”

Hy het later gekwalifiseer om vir Ierland te speel. In 2016 het hy sy toetsbuiging vir Ierland teen Wallis gemaak. Sommer in die eerste toets is hy as speler van die wedstryd aangewys. Sedertdien het hy al 24 keer vir Ierland uitgedraf. Hy was ook verlede jaar in die Britse en Ierse Leeus se toetsspan wat in Nieu-Seeland teen die All Blacks gespeel het.

Volgens Stander is hy en Jean-Marié baie gelukkig in Limerick, Ierland, waar hulle woon. Hulle het ʼn huis in die gebied gekoop. “Dit is lekker rustig en daar is so ʼn bietjie van ʼn tuin ook.”

Hulle het ook twee honde, George en Abbey, albei King Charles Cavalier-soort. “Hulle bring baie vreugde vir ons.” Hy mis die plaas in die Suid-Kaap, sy ouers en sy skoonouers baie.

Gelukkig gaan kuier die familie gereeld en dit help om die verlange te stil. Hy geniet dit om hulle ʼn bietjie van Ierland te wys. Soms help ʼn stukkie biltong uit Suid-Afrika om ook vreugde te verskaf.

CJ en Jean-Marié. Foto: Facebook

Die weer was die grootste aanpassing. “As jy nie ʼn reënbaadjie of sambreel in jou kar het nie, gaan jy in die moeilikheid wees. Die dae is kort en die koue is ook ʼn faktor.”

In die tydperk wat hulle nou daar woon, het hy gewoond geraak aan die weer. “Die winterweer nou hier in George is eintlik warm.”

In dié stadium is dit onmoontlik om aan te dui hoe lank hulle nog daar gaan woon. Dit sal minstens nog vir die volgende drie jaar wees, want hy het onlangs ʼn kontrak geteken om tot 2021 daar rugby te speel. Dan sal hy oor die pad vorentoe besin.

Die opsie is altyd daar om in Ierland aan te bly, maar hy wil uiteindelik terugkeer om te kom boer. “Ek is mos maar ʼn plaasseun. Die afgelope paar dae wat ek hier op die plaas was, is baie lekker.”

Volgens Stander is die Iere baie goeie mense. “As jy jou kant bring en reguit paaie loop, kyk hulle mooi na jou.” Daar is ook ander Suid-Afrikaners wat rugby daar speel en hy is beslis nie eensaam nie.

Oor sy besluit om destyds sy heil in Ierland te gaan soek, is hy glad nie spyt nie. Trouens, hy is baie dankbaar teenoor die mense wat destyds sekere goed vir hom gesê en hom gedwing het na ʼn kant waar hy ʼn besluit moes neem. Hy sê dit nie leedvermakerig of sarkasties nie. Hy is ook nie vir iemand kwaad nie.

Hy sien baie uit na aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan. “Ek droom al van kleins af om daarin te speel. Hopelik sal ek die groep haal wat aan die toernooi deelneem. Dit sal ’n belewenis wees.”

Oor die onderskeie spanne se kanse het Stander gesê dit is moeilik om te voorspel wie gaan aanstaande jaar die beker lig. Natuurlik sal die All Blacks ’n kragfaktor wees. Hulle is immers tans die beste in die wêreld. Die All Blacks is altyd die taaiste teenstanders.

Hy glo egter daar is ook ’n paar ander spanne wat mense gaan verras. “Dit gaan ʼn baie mededingende Wêreldbeker wees.”

Oor die Springbokke se kanse en die stand van die span se rugby, meen Stander hulle het beslis ’n kans. Hulle het onlangs teen Engeland gewys wat hulle kan doen. In die laaste toets het dit seker nie so goed gegaan nie, maar dit gebeur maar met spanne in rugby.

Hy glo Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, en die gesindheid van die spelers, speel ’n rol in die Springbokke se sukses. Hy ken vir Erasmus. “Hy het ons al afgerig daar in Ierland.” Stander speel vir Munster op streekvlak.

CJ saam met sy ma, Amanda. Foto: Eugene Gunning

Volgens Stander moet die Springbokke, net soos enige ander span, nie afgeskryf word nie. Oor huidige gebeure in Suid-Afrika het Stander gesê elke plek het sy probleme. “Ek verlang huis toe en leef nie in die dinge nie.”

Hy het egter wel begrip dat dit seker moeilik is vir baie mense op die oomblik, maar hulle moet  positief probeer bly. “Elke mens moet maar net sy paadjie stap. Dit hang af hoe jy voel en wat jy wil maak. Ek sien kans om eendag terug te kom en te kom boer.”

Sy raad aan mense is om hul drome te volg. “Moenie dat iets in jou pad staan nie. Natuurlik gaan daar dinge en mense oor jou pad kom. Jy moet ’n manier vind om rondom dit te kom.

“Jy moet nooit in jouself twyfel nie. As jy in jouself twyfel, is dit baie maklik vir ander mense om jou af te druk. Kom om daai struikelblokke en werk hard.

“Wees positief en werk met ’n plan. Die belangrikste uit ’n geloofsoogpunt is: Jou pad is vir jou uitgelê. As jy die regte pad volg, sal niks in jou pad staan nie.”

Oor die feit dat hy nooit Springbok geword het, het Stander gesê: “Jou pad is vir jou uitgelê.”

Dit kon wel anders uitgedraai het, maar hy is beslis nie kwaad vir Suid-Afrikaanse rugby nie. Trouens, toe hy jonger en nog op skool was, het Suid-Afrikaanse rugby baie vir hom gedoen om hom te laat ontwikkel. Ook daarna het hulle hom baie gehelp.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jakalas ·

Bly om te sien mense wat so goed vaar in die lewe. Ek dink ook juis om oor so paar jaar na Ierland te verhuis.

GM ·

Sy ma? Dit lyk eerder soos sy suster saam met hom in die een foto! Hoeveel van ons wens nie vir sulke goeie gene nie :-) Voorspoed aan hom en sy familie. Ek dink nie dis maklik om als en almal agter te laat om jou droom te gaan verweeenlik nie. Geluk met al die oorwinnings!

Joshua ·

Die rassistiese kwota sisteem hou baie belowende spelers uit hul provinsiale en Bokspanne,-nog meer Suid Afrikaanse spelers gaan CJ Standers word.

Wesley ·

Rassistiese kwotas het hom nie uit enige span gehou nie, maar obsessie met ons SA breiers en publiek met grootte, pleks van vaardigheid so hou op verskonings soek vir ons kortsigtige natuur hier in SA. Meyer (wit afrikaner) was Bok-breier wat gekies het om hom nie te speel in 2012, en met Willem Alberts, Jacques Potgieter en Duane Vermeulen daai jaar in die span bo hom ingespan (almal wit afrikaners), asook die Bulle wat hom weggegooi met nog n wit afrikaner as brier (Ludeke), na n wonderlike seisoen om nog wit afrikaners (Dewald Potgieter en Deon Stegmann) bo hom te kies. Dit was maar logies vir hom om beter kanse vir nationale kleure te gaan soek oorsee waar grootte nie n probleem is nie. Vanaf daar het hy baie meer gewig en lengte aangelas (“late bloomer?”) en al hierdie spelers bo hom uitgestof, behalwe vir Duane wat nou sy laaste bietjie rugby gaan sien in die komende 2 jaar.

Afrikaanse Knaap ·

As Suid-Afrika nie Afrikaanse knapies wil he nie, moet hulle ‘n sukses elders gaan maak. Ek is bly CJ doen so goed vir homself. Hy gee ons gemiddelde Afrikaners wat hier vashevang is onder hierdie land se rasse juk hoop dat daar tog ‘n beter lewe elders kan wees.

Johannes ·

Ek stem nie saam nie. Miskien op junior vlak, maar nie in proffesionele rugby nie. As ek aan al die Super Rugby spanne dink kan ek nie ‘n enkele swart speler noem wat ‘n beter wit speler uit die span uithou nie. Kan jy?
PS: CJ Stander het SA verlaat omdat Heyneke Meyer destyds by die Bulle gesê het dat hy te klein as flank is en hakker moet speel indien hy ‘n toekoms in rugby wil hê. CJ het nie saamgestem nie, in Ierland gaan speel en die res is geskiedenis..

Wesley ·

Nie eers op junior vlakke nie Johannes. Dit is gewoonlik saggevoelde ouers wat kla dat hul boeta nie die span kan maak nie dan soek hul n verskoning, of spelers wat als sover op n skinkbord gegee is en glo hul is beter as die swart speler wat bo hul gekies word (glo my, hul is nie). Ons het baie ander probleme in die land wat spelers verjaag oorsee (swak rand die grootse), maar “rugby kwotas” is nie een van hul nie.

koos ·

Wesley “rugby kwotas” nie een nie? Wa was jy die laaste 24 jaar ou pel? Skrik wakker mater en hou eerder jou nuttelose swak onigeligte opinie vir jouself

Henry ·

Beste Koos
Stem allie pad met jou saam.
Kommentaar/reaksie bly egter ‘n nuttelose oefening.
:-)

Wesley ·

Koos. Wys my een speler wat gewaai het met rugby kwotas as sy hoof rede. Vaskyk in rasse sake vi ALS wat verkeerd gaan is maar swak verskoning. Sulke twak redenering en die EFF se uitkyk is dieselfde muntstuk, net verskillende kante. Hul verdien maar dan mekaar

Wesley ·

Ja nee jy is reg Henry. Help nie reageer tot iemand as jy nie bewyse vir jou standpunt het nie… Cheers

Henry ·

Dankie CJ!!!
Wat jy en jou mense reeds op so ‘n nederige maar sterk wyse bereik het, is ‘n wonderlike voorbeeld vir ons mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.