Van skottelgoedwas tot ongevalle: ‘Ek wou net my ma help’

(Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Die artikel bevat grafiese inhoud en beeldmateriaal en kan sommige lesers ontstel.

ʼn Jong man wat sy enkelma wou help deur die skottelgoed te was terwyl sy by die werk was, moet nou maande lank rehabilitasie ondergaan nadat ʼn glas in sy hande versplinter en sy linker-middelvinger tot op die been gesny het.

Nicolette Flemix, ma van die 13-jarige Arthur Flemix, sê hy is ʼn baie aktiewe en behulpsame jong man en hou nooit op om ander met entoesiasme en toewyding te help nie.

“Ons woon in Roodepoort en ek werk in Randburg; as ʼn enkelma van twee het ek nie altyd tyd om by alles uit te kom nie.”

En nes in die meeste ander huishoudings, druk die finansies ook maar hier.

“Ek is al vir 10 jaar die enigste broodwinner in ons huis, daar is nie altyd geld vir luukshede nie. Arthur het op 1 September  ʼn markdag by die skool gehad, maar ons het besluit dat hy eerder by die huis moet bly omdat daar nie geld was daarvoor nie.

“En omdat hulle nie op dié dag sou klasloop nie, het dit net nie sin gemaak om hom skool toe te stuur nie,” vertel Nicolette.

Sy sussie, Cloedette (15) is skool toe en Nicolette het gaan werk. Arthur het tuis gebly.

“Hy sê toe vir my: ‘Mamma kan ontspan, ek is vandag by die huis, ek sal skottelgoed was en help skoonmaak’. Ek het hom geantwoord en vir hom gesê dat dit nie nodig is nie. Ek sal skoonmaak as ek tuiskom.”

Arthur het egter daarop aangedring.

“Mamma, ek is by die huis, ek gaan help,” het hy volgehou.

“Ek het by die werk gekom, daar was geesdrif in die lug en alles het net goed gegaan. Totdat ek die oproep ontvang het.”

Arthur het rondom 12:00 in ʼn video-oproep sy ma van die fratsongeluk ingelig.

“Ek het nog nooit my seun só hoor huil nie. Hy was histeries. Ek kon amper nie ʼn woord hoor wat hy sê nie, en toe wys hy my …

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

“Dit was net bloed, dit het soos ʼn fontein uit sy vinger uit gespuit. Ek het my byna doodgeskrik,” sê Nicolette.

Arthur was doodbekommerd dat hy dalk die hele vinger gaan verloor.

“Ek sê toe dadelik vir hom dat ek op pad is. Ek het my baas van die krisis ingelig en huis toe gejaag. Terwyl ek op pad was, het hy my weer gebel.

“’Mamma wat moet ek doen? My vinger gaan afval!’” het hy gesê.

Nicolette is ʼn vryskut-paramedikus en het Arthur dadelik beveel om druk op sy vinger te plaas om die bloeding in bedwang te hou.

“Ek was baie bekommerd oor al die bloed wat hy verloor het. As jy gesien het hoe die bloed geloop het, sal jy verstaan.”

Nicolette het ʼn vriendin gebel het en haar gevra om na Arthur toe te gaan en hom by te staan tot sy tuiskom. Daar gekom het die vriendin teruggebel en gesê sy gaan hom dadelik na ʼn dokter neem. Nicolette het hulle daar ontmoet.

“Die dokter het my onmiddellik ingelig dat hy Arthur kan stabiliseer, maar dat hy dringend by die ongevalle-afdeling moet uitkom of hy gaan sy vinger verloor.

“Arthur kon nie meer sy vinger voel nie en die wond was te diep en te groot.

“Ek het dadelik met my seun na die privaat hospitaal in Krugersdorp gejaag waar die dokters besluit het om hom op te neem en te opereer in ʼn poging om sy vinger te kan red.

(Foto: Verskaf)

“Sy middelvinger was morsaf tot op die been en sy tendon was heeltemal afgesny.”

Volgens Nicolette is Arthur Saterdag geopereer en die volgende dag ontslaan.

“Nou lê maande se rehabilitasie voor wat nie deur ons mediese fonds gedek word nie,” vertel sy.

(Foto: Verskaf)

“Arthur sê hy kan nie juis onthou wat alles in daardie stadium deur sy gedagtes gegaan het nie, behalwe dat hy bang was om sy vinger te verloor.

“Sy hand is steeds gestut en toegedraai, dit is so saamgesmelt dat dit glad nie kan loskom nie. Hy mag nie sy vinger beweeg nie – hy kan nie – daar is nog baie werk nodig.

“Hy gaan elke tweede week vir rehabilitasie en hy moet volgende week weer terug dokter toe. Die terapeut het ons ingelig dat hulle nog nie die vinger kan begin oefen nie.

“In my opinie is daar steeds groot skade aan die vinger, die sening trek styf waar sy vinger veronderstel is om te kan buig; dit lyk eintlik soos ʼn been wat daar uitsteek.”

Arthur vertel al wat hy wou doen, was om sy ma te help.

“My ma is altyd so besig. Ek wou dit net vir haar bietjie makliker maak, ek wou haar graag help.”

Nicolette het intussen ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur  om die rehabilitasiekoste en mediese uitgawes te help betaal wat nie deur hul mediese fonds gedek word nie.

“Ongelukkig maak mediese fondse dit moeilik deur bybetalings af te dwing waarvoor niemand ooit voorbereid is nie. Ek het ʼn klomp e-posse en telefoonoproepe ontvang met betrekking tot betalings wat die mediese fonds weier om te dek.

“Ons is egter dankbaar dat ons die krag en voorreg het om elke oggend op te staan en aan te gaan. Ons is regtig ʼn baie gehegte gesinnetjie en beskou onsself as die drie musketiers.

(Foto: Verskaf)

“Ons het al moeilike tye deurgemaak, niks sal in ons pad staan nie.

“Vir elkeen wat gehelp het, wil ons graag baie dankie sê. Julle gebede, gedagtes en skenkings word ongelooflik baie waardeer!”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Sterk mooi aan jong man, dit was nou voorwaar ‘n “frats ongeluk” baie dankbaar dat jy wel spoedig mediese hulp kon kry. Wanneer jy nou weer op die been is en weer skottelgoed was, dra opwas handskoene, dit sal jou hande meer beskerm.

Oesterbaaier ·

Ek as Affie ouer, daag al my mede Affie ouers uit om die Back a Buddy te ondersteun en ‘n bydrae te maak vir hierdie seun!

Hannelie ·

Wat ‘n pragtige gesin. En ek haal my hoed af vir hierdie enkel mamma, wat haar kinders so mooi groot maak om selfstandig te wees.
En Arthur moet ‘n voorbeeld wees vir baie jong seuns en manne.
Word gou gesond.

Sê maar net ·

Wat ‘n pragtige, dapper gesin wat so saamstaan. Ons gebede is met julle. Mag God vir Arthur aanraak en volkome genees, sodat hy die gebruik van sy vinger kan terugkry. Baie sterkte jongman!! Bly altyd so pragtig en behulpsaam.

tweeling ·

Sorg dat jy arbeidsterapie kry na die wonde herstel het anders gaan jy die funksie van jou vinger verloor. Dis pynlik en groot frustrasie maar dit werk. Ek was daar en het amper 100% van die funksie terug.

Wendy ·

Pragtige gesin en sterkte jongman – maar dit bly n skreinde skande dat mediese fondse eintlik ni veel betekn-ons betaal al 40 jr aan ons sn en die dag wanneer jy hom nodig kry soos nou toe my man mt kanker gediagnoseer is-het jy n graad nodig om uit te pluis wat hul nie betaal nie – jy het bv 150k meer voordele op mental health as kanker – met n mdlkse premie van R9000 v twee mnse – ds mind boggling -om soveel rekeninge te kry wat hul nie dek ni is genoeg om jou wat klaar in n toestand is oor die siekte in n werklike mental state in te boender- en was jy n staatspasient kry jy in elk geval byna als verniet – regtig n kopkrapper soos als in hierdie SA waarin ons bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.