Jansen van Vuuren was ‘ander mens’ voor moord

Die Venter-gesin (van links): Dries, Annatjie, Andrea en Kobus (Foto: Verskaf)

“Elke hofsaak is soos ’n wond wat weer oopgekrap word.”

Só sê ʼn emosionele Dries Venter, die pa van Andrea Venter (25), wat in 2011 glo deur haar gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren, vermoor is.

Dries, en sy seun (Andrea se broer), Kobus, het Dinsdag kop onderstebo uit die hof gestap toe die saak vir die soveelste keer uitgestel is.

Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger, Innocent Mthembu, het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer hy was onder die invloed van steroïde toe hy Andrea glo vermoor het.

Mthembu het ʼn aansoek ingedien om te vra dat Jansen van Vuuren deur ’n private psigiater geëvalueer moet word. Dit volg nadat hy reeds in 2012 ná sy inhegtenisneming twee psigiatriese evaluasies ondergaan het.

Regter AJ Matjele sal môre uitspraak oor die aansoek lewer.

“Ons is teleurgesteld. Ons het gehoop die saak sou vandag begin sodat dit afgehandel kon word. Ons het reeds jare lank gewag vir hierdie dag,” het Kobus gesê.

Maroela Media het vroeër berig kringtelevisiebeeldmateriaal van die veiligheidskompleks in Lonehill, Johannesburg, waar Andrea gewoon het, wys hoe sy op 2 Mei 2011 uit die kompleks na die hek probeer vlug en dan van agter deur iemand met ’n mes aangeval word. Jansen van Vuuren is as die man in die video geïdentifiseer.

Gerhard Jansen van Vuuren het Dinsdag emosieloos in die hof gesit (Foto: Anja van der Merwe, Facebook)

Jansen van Vuuren het Andrea na bewering omtrent 12 keer met ʼn mes in die rug gesteek. Sy het nog sowat 150 meter verder verbete probeer wegkom, toe sy weer twee keer in die skouer en kuit gesteek is.

Die hoofslagaar in Andrea se nek is gesny, waarna haar aanvaller die mes in sy eie nek gesteek het, glo in ʼn poging om selfmoord te pleeg.

Andrea is op die toneel dood.

Dries het elke hofsaak bygewoon sedert Jansen van Vuuren in Junie 2020 deur Interpol aan Suid-Afrika uitgelewer is. Jansen van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voordat die verhoor aanvanklik sou begin, met vervalste reisdokumente na Brasilië gevlug.

“Die tyd toe Gerhard in Brasilië was, het die onsekerheid aan ons gevreet. Ons het nie geweet of ons hom ooit weer sou sien nie. Dit was ook ondenkbaar om te dink dat geregtigheid vir Andrea se moord dalk nooit sou geskied nie,” het Kobus vertel.

Dries het vroeër aan Maroela Media vertel Andrea se ma, Annatjie, is in 2016 dood. Volgens hom het sy vrou haar dood getreur.

Kobus sê dit was duidelik dat sy ma nie meer wou aangaan nie. “Sy kon nie sonder Andrea leef nie,” vertel hy.

‘Hy het handomkeer verander’

Andrea en Jansen van Vuuren het mekaar in 2005 by ’n troue ontmoet en het daarna ’n liefdesverhouding aangeknoop.

Kobus en Dries vertel aan die begin van hul verhouding was hy beskaafd en goedgemanierd. “As hy by ons huis kom kuier het, was hy baie behulpsaam,” vertel Dries.

Jansen van Vuuren het vir ’n ruk in Engeland gaan werk en volgens Kobus het hy as ’n ander mens teruggekom. Hy het Andrea glo daarna begin aanrand.

“Sy kop het heeltemal uitgehaak. Ons het vermoed hy het in Engeland met dwelms deurmekaar geraak. Die feit dat hy ’n baie moeilike kinderlewe gehad het, kon ook ’n rol speel in sy aggressie,” het Kobus gesê.

“Dit maak dit steeds nie reg om te moor en ons lewens in die proses te verwoes nie,” het Dries bygesê.

Volgens Dries het Andrea aan die begin van 2010 ’n beskermingsbevel teen Jansen van Vuuren bekom. Sy het in 2011 by ’n ouditeursfirma in Fourways, Johannesburg, gaan werk en daar in ’n woonstel in ’n kompleks gewoon.

“Jansen van Vuuren het toe glo 33 ouditeursfirmas in die Johannesburg-omgewing gebel om haar op te spoor. Toe hy die 34ste firma bel, het hy by Andrea uitgekom. Hy het vir haar gesê: ‘Ek het jou nou gekry’,” vertel Dries.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Moord het altyd ‘n oorsaak en die maklikste uitweg is om dwelms en moeilike kinderjare as verskoning te gebruik. Duisende van ons het moeilike kinderjare gehad en tog het ons heel ander kant uitgekom omdat ons onsself ‘n beter lewe belowe het.

Shakespeare

Doodstraf vir hom en al die dwelmhandelaars in die wêreld. Geen ander manier om dit te stop nie.

Casper

Hy was dan volgens die oorledenes se pa goed gemanierd en behulpsaamheid tot hy Engeland roe is en toe kom hy as monster terug.Ek koop nie die dwelms storie nie.Hy was dan al 2 keer psigiatriese ge-evalueer.Hoekom dan nou weer.Hy het mooi by ander geleer hoe om tyd te koop.Hy sal wel sy straf kry.

Marius

Feit is hy is ‘n gewetenlose moordenaar. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg.

Benita

Nee die storie van moeilike kinderjare is strooi. Dis altyd hulle verskoning. Blerrie gemors.