‘Van Zyl het help bou aan SA’, sê minister

Argieffoto van Johan van Zyl (Foto: DANIEL ROLAND / AFP)

“Die verlies van ʼn nywerheidsreus, ʼn deurdagte stem en ʼn voortreflike Suid-Afrikaner.”

Só beskryf Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, die dood van dr. Johan van Zyl, voorsitter van Toyota Suid-Afrika.

Van Zyl (63) is Vrydagaand dood weens Covid-19-verwante komplikasies nadat hy volgens Patel die virus in Junie opgedoen het.

Patel onthou hy het in 2009 kort ná sy aanstelling in die kabinet met Van Zyl vergader waartydens hulle ʼn voorstel ontwikkel het om minibustaxi’s in Suid-Afrika te vervaardig. Alle minibustaxi’s was in daardie stadium ingevoer.

Patel sê Van Zyl was entoesiasties oor die idee en het die voorstel aan die wêreldwye raad van Toyota voorgelê. “En vandag word alle minibustaxi’s wat op ons paaie gebruik word, plaaslik gemonteer.”

Die minister meen Van Zyl het egter nog “soveel gehad wat tot die opbou van Suid -Afrika wou bydra”.

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, verduidelik hoe die heropening van die ekonomie gaan werk. (Foto: GCIS)

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl, voormalige uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, het vroeër vanjaar afgetree nadat hy sedert 2015 as uitvoerende hoof van Toyota Motors Europa gedien het. Toyota se verkope in Europa het in sy ampstermyn vir die eerste keer in tien jaar die een miljoen-merk in 2019 verbygesteek.

Volgens die minister het Van Zyl gedurende sy tyd in Europa na die departement van handel en nywerheid uitgereik met ʼn aanbod om sakelui byeen te bring en ʼn openbare-private groei-inisiatief aan te dryf.

“Hy het vrylik van sy tyd gegee en gereeld huis toe gereis na Suid-Afrika om die proses te bestuur.”

Patel sê voorts Van Zyl het in die vroeë dae van pres. Cyril Ramaphosa se administrasie gesprekke met die president gevoer oor die manier waarop die sakegemeenskap meer werk kan skep en beleggings kan verhoog.

Van Zyl het in 2011 op die regering se versoek ʼn vloot hibriede voertuie gereël waarin tradisionele verbrandingstegnologieë gekombineer word met elektriese motortegnologieë wat na Suid-Afrika gebring kan word vir gebruik in COP-17, die VN se klimaatsveranderingskonferensie in Durban.

“Hy het sterk steun gegee aan die samestelling van ʼn Toyota- hibriede voertuig in SA, en die eerste Toyota Corolla- baster sal na verwagting later vanjaar van die plaaslike produksielyne kom.

“Sy heengaan is verpletterend vir sy familie en ontneem die land en die sakegemeenskap ʼn sterk en deurdagte stem.”

Van Zyl word oorleef deur sy vrou, Santie, dogters, Nadia en Karla, skoonseuns, Dirk en Brent, en sy kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

En hoeveel ELKE DAG sterf in taxi’s, en hoeveel sterftes veroorsaak taxi’s nie ELKE DAG van onskuldig mense in trokke, karre eb bakkies!

MakersMark ·

Dalk moet jy vir Henry Ford blameer vir al die kar ongelukke al van 1920 af.

Martie Smartie ·

@JohanR. Jou kommentaar is totaal misplaas en irrelevant hier. Wat het mnr Van Zyl se reuse bydrae tot werkskepping en ekonomiese opbou te doen met die misbruik van minibusse? Hy was nie die minister van vervoer nie, hoor. Het jy al ooit ‘n minibus self ‘n ongeluk sien maak? Met meer mense oos mnr Van Zyk wat moue oprol en minder leunstoel kommin-tators, sou die land lankal ‘n beter plek wees. Lekker dag verder ou grote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.