Vandag is D-dag om dié motorlisensies te hernu

(Argieffoto: Pixabay.com)

Motoriste wie se motorlisensies tussen Maart en Mei vanjaar verval het, moet dit voor die einde van vandag hernu wanneer die sperdatum daarvoor verstryk.

Die DA het intussen vir uitstel gevra en sê hy het verskeie navrae ontvang rakende die registrasie van voertuie wat nie voor die sperdatum afgehandel kon word nie.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die publiek daaraan herinner dat motoriste wat versuim om hul vervalde motorlisensies voor die einde van vandag te hernu, addisionele koste sal moet aangaan om dit later te hernu. Dié motoriste loop boonop die risiko om verkeersboetes van tot R1 000 te ontvang indien hulle met ʼn verouderde lisensieskyf deur ʼn verkeersbeampte voorgekeer word.

“Ingevolge die Wet op Rampbestuur het die minister van vervoer [Fikile Mbalula] in Julie ʼn verlenging in die geldigheidstydperk van alle motorlisensies, permitte en padwaardigheidsertifikate wat gedurende die tydperk 26 Maart tot 31 Mei verstryk het tot 31 Augustus aangekondig. Buiten hierdie tydperk was motoriste geregtig op nog 21 dae om lisensieskywe sonder koste te hernu.”

Altesaam 2 465 439 motoriste se motorlisensies het gedurende die algehele landwye afsondering verval van wie 1 701 724 (69%) teen verlede week hul lisensies hernu het.

Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer, wys egter nou daarop dat baie verkeerskantore in dié stadium steeds onderbeman is terwyl baie van die kantore skaars gefunksioneer het in die tyd waarop dit moontlik was om voertuiglisensies te hernu.

Volgens Hunsinger het lang rye buite dié kantore ook motoriste genoodsaak om daagliks terug te keer terwyl daar ook probleme met die eNatis-stelsel aangemeld is wat beteken het dat sommige motoriste nie ʼn afspraak kon maak nie.

Die DA wys daarop dat motoriste tot einde Januarie 2021 die geleentheid het om vervalde bestuurlisensies waaronder leerlinglisensies en tydelike bestuurslisensies te hernu terwyl lisensies vir voertuighandelnommers tot einde November hernu kan word.

Die party wil dus nou weet waarom motorlisensies, permitte en padwaardigheidsertifikate wat verval het nie dieselfde grasie ontvang nie.

“Dit is duidelik dat die departement nie die hoeveelheid registrasies gemonitor het om die kapasiteit van kantore te kontroleer nie. Boetes sal nou onder onregverdige toestande aan diegene toegedien word wat hul bestuurslisensies wou hernu maar nie kon nie.”

Hunsinger sê dat die DA vandag aan Mbalula sal skryf om te versoek dat motorlisensies ook grasie tot 31 Januarie geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lizzy8 ·

Mense kry net eenvoudig nie ‘n afspraak nie. Al gaan jy dag en nag op hulle stupid website.

Lizzy8 ·

Hulle online stelsel is pateties om die minste te se daarvan.

OW ·

Die stelsel werk baie goed.Lees eers die vooraf inligting goed deur voor jy dit gebruik.Jy moet eers registreer op die stelsel.Dan hang dit af waar jy bly bv Gauteng,Oos Kaap ens.Jy moet vasstel watter jou naaste toetssentrums aan jou dorp of stad is.Toetssentrums maak net sekere dae van die week oop.Stel dit dan vas.Die stelsel word in regte tyd gelaai bv Maandae moet jy ten minste 7:45 voor jou rekenaar wees as jou sentrum Maandae oop is.Voor die hoeveelheid plekke wys moet jy eers een stap terruggaan en weer een stap vorentoe om te sien of plekke gelaai is.Partykeer is jy gelukkig op die laaste stap dat plekke reeds wys.Gebruik jou selfoon om jou pinnommer te kry wat jy moet insleutel om plek te bespreek en nie epos nie.So spaar jy tyd om vinniger te bespreek.Volg net te alle tye die stappe wat op mekaar volg.Sterkte.

pokkel ·

niemand is op diens by ons lisensiekantoor, hoe moet mens dit dan hernu?

OW ·

Jy moet aanlyn op enatis aansoek doen.Registreer eers en volg die stappe dan.Hulle doen dit nie meer oor die toonbank nie.

Wielspore ·

Nelspruit lisensie kantoor se leuse is, ons papier is klaar, ons is van lyn af, ons het load shedding, kom weer later.
Dan is daar die bykomende sake, ons loop vandag vroeg want more is ‘n vakansie dag, daar is geen onderskeid tussen werkers en kliente, jy weet nie wie om te vra vir hulp, mense druk in, daar is nie beheer.

Ellie ·

Het my kar lisensies hernu, 3 ure in die ry gestaan…en ek moes boete betaal omdat ek dit laat uitgeneem het.

Belinda ·

Almal is te lui om te werk en Covid het hierdie droom meer werklikheid vir hulle gemaak.

Moedeloos ·

Gelukkig is ons voertuie se lisensies hernu wat in die grendeltydperk verval het. Al probleem is dat almal nou in dieselfde maand, nl Augustus hernu moet word vanaf 2021. Motor Bakkie en Karavaan.

Robert ·

Dit is tans nag by die poskantoor om voertuig lisensies te hernu, en die wat al voor lockdown vir nuwe bestuur lisensies aansoek gedoen het het tot op hede niks ontvang nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.