Vandalisme en diefstal kos Kaapstad R80,2 miljoen

(Foto: Skermskoot/Stad- Kaapstad-video)

Vandalisme en diefstal van infrastruktuur het R80,2 miljoen van die geld wat belastingbetalers die afgelope twee jaar aan die Stad Kaapstad betaal het, opgeslurp.

So sê Derrick America, DA-lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, wat maan dat sulke gedrag die stadsraad se verskaffing van munisipale dienste aan Kapenaars kniehalter.

“In baie gevalle is hierdie tipe kriminele gedrag ook lewensgevaarlik, veral waar dit kwesbare Kapenaars raak,” het America gesê.

“Hoewel sulke gedrag nie nuut is nie, is dit kommerwekkend dat dit klaarblyklik toeneem. Dit is baie teleurstellend dat lede van die gemeenskap sulke diefstal en vandalisme pleeg wel wetende dat die ekonomiese inkrimping dit moeilik maak om skade te herstel, want staatsinkomste het afgeplat,”

Die besonderhede oor die uitgawes van R80,2 miljoen is soos volg:

* R4,6 miljoen is tussen Julie en Desember verlede jaar bestee om gesteelde en beskadigde elektrisiteitsinfrastruktuur in die suidelike voorstede te vervang;

* Sedert Julie verlede jaar is R2,3 miljoen se bates van die stad se departement parke en ontspanning gesteel, en sowat R10 miljoen se skade aangerig;

* Sowat R7,7 miljoen se verkeersligte en ander infrastruktuur is die afgelope twee jaar by verkeerskruisings in die stad gesteel;

* Die afgelope twee jaar is 25 rioolpompstasies gevandaliseer, wat die stad in totaal R30 miljoen gekos het;

* Onlangse vandalisme van straatligte in Jakes Gerwel-rylaan, wat een van die belangrikste roetes op die Kaapse Vlakte is, beloop R1,6 miljoen om te herstel; en

* Meer as R24 miljoen se skade is sedert Julie 2019 aan behuising wat aan die stad behoort aangerig.

Dit is benewens die R1 miljard wat die stad in elk geval aan roetine-instandhouding van behuising bestee het, het America gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stofdonkie ·

Teen R100,000 per jaar wat beteken ‘n salaris van R8,333 per maand kon Kaapstad dus 401 mense aangestel het om die stad op te pas. Duidelik is die probleem polisiëring. Laat daardie mafia-baas wat homself minister van polisie noem eerder sy werk doen en sy troepe hulle werk laat doen dan spaar die regering baie geld. Hulle kan sommer lekker baie polisiemanne aanstel wat die infrastruktuur kan oppas in plaas van dat hulle op die strande rondloop en branderplank ryers probeer vang.

Roedolf Johannes ·

ANC nie Vandalisme nie.Hulle kan nie hulle mense beheer nie.

Misky ·

Terwyl ek die berig lees, besef ek dat dit net Kaapstad se syfers is. Dis nou die provinsie met skoonste audits en 70%, daarom weet hulle wat daar aangaan en hoe ver die koste strek. Die res van die land is seker 10 maal erger, maar sal dit nooit erken of die ware syfers deurgee nie. Skokkend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.