Vandalisme het amptenaar se dood tot gevolg

Argieffoto bloot ter illustrasie.

’n Amptenaar van die Stad Kaapstad is dood nadat opsetlik beskadigde kragkabels begin vandeesmaand ontplof het terwyl hy ondersoek na ’n kragonderbreking ingestel het.

Terence Henry Stringer is verlede Saterdag in die hospitaal dood weens die beserings wat hy tydens die ontploffing op 4 April opgedoen het.

Beverley van Reenen, burgemeesterskomiteelid vir energie, sê Stringer was deel van ’n elektrisiteitspan wat die betrokke dag na die Gugulethu-substasie uitgestuur is om op ’n kragonderbreking te reageer nadat boosdoeners kragkabels opgegrawe en aan die brand gesteek het.

“Stringer, vier kontrakteurs en ’n lid van die publiek is beseer toe die isolasiemateriaal van die beskadigde kabels verder verweer en ’n ontploffing tot gevolg gehad het,” sê Van Reenen.

“Stringer het in 1993 by die Stad aangesluit en was een van die eerste werknemers by die Gugulethu-elektrisiteitsdepot kort nadat dit gebou is as deel van die Stad se program om dienste nader aan die Manenberg- en Gugulethu-gemeenskappe te bring.”

Volgens Van Reenen sal Stringer onthou word vir sy toewyding aan sy werk en die feit dat hy altyd veel meer as sy plig gedoen het.

“Hy het in sy vrye tyd skrynwerk geniet en was altyd bereid om sy houtwerkkundigheid met kollegas te deel wanneer enigiets herstel moes word. Tussen die werkery deur het hy dikwels die depot se blomtuin skoon en netjies gehou.

“Die Stad het ’n waardevolle personeellid verloor en ons gedagtes is met sy vrou en familie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.