‘Vandalisme’ lei tot Pta-oorstroming

Die reservoir op die Magaliesberg. Foto: Via Facebook

Vandalisme by die Wonderboom-reservoir in die noorde van Pretoria is die oorsaak van Woensdagoggend se reuse-oorstroming wat tot gevolg gehad het dat mense hul huise moes verlaat het.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, het gesê groot skade is Dinsdagnag by die reservoir langs die M5 aan die noorde kant van die Magaliesberg aangerig ná ʼn inbraak en diefstal van beheerstroombaandrade.

“Die vandalisme het veroorsaak dat water by die reservoir oorvloei het en die oorstroming van en skade aan eiendom bergaf veroorsaak het,” het Bokaba gesê. “Die telemetriese stelsel kon ook nie ʼn waarskuwing stuur nie aangesien dit ook tydens die inbraak beskadig is.”

Volgens Bokaba het die diewe glo toegang tot die beheerkamer verkry deur met die sluitstelsel te peuter.

“Die stad se loodgieters het watertoevoer na die reservoir per hand afgesny deur kleppe op die toevoerlyn toe te maak. Die voorval het egter nog nie watertoevoer na verbruikers geraak nie en daar is geen beserings of sterftes aangemeld nie.”

Die reservoir voorsien water aan Wonderboom, Annlin, Sinoville, Bon Accord en die Rooiwal-reservoir.

Bokaba het gesê ʼn span is tans besig om die gesteelde beheerbaandrade te vervang en herstelwerk sal na verwagting teen 18:00 voltooi wees.

Maroela Media het vroeër berig die Tshwane-nooddienste moes teen 04:15 in Annlin bontstaan om mense uit huise te verwyder.

“By nooddienswerkers se aankoms op die toneel in die omgewing van Van der Schyffstraat het daar ʼn magdom water by die berg en strate afgestroom. Daar is dadelik begin kyk na huise wat in gevaar was,” het Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, vroeër aan Maroela Media gesê.

Volgens Pieterse het vier huise toe reeds waterskade opgedoen en moes die inwoners vir veiligheidsdoeleindes uit die huise verwyder word. Buiten die vier huise wat skade opgedoen het, is van die omliggende huise se tuine en motorhuise ook deur die water beskadig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marous ·

Waar is die sekuriteit waarvoor die mense deur hulle nekke betaal ?

B-man ·

Steel ‘n paar rand se koperdrade en rig miljoene se skade aan…Bravo!

Pikkie ·

Sterkte vir al die mense … ek het riool al tot by my voordeur gehad agv ‘n verstopte drein … dis geen grap nie

Johanna Botha ·

Die resevior by waterkloof se hekke staan oop …kan daar ook gebeur …ag enige plek want die hekke staan oop !

christa ·

dan mag jy nie kwaad word nie…… Sulke mense is mense wat niks en niemand ontsien nie. Water is skaars maar dit pla hulle min, solank hulle kan maak en breek is die Kaap hollands

Richard ·

Sjoe… “oorvloei”. Die Afrikaanse woord is “oorstroom”.

Johanna Botha ·

Moet nie praat van sekuriteit nie ….ons sin het nie eers n flits nie hehe

SjN ·

Die drade wat gesteel is dalk paar honderd rand werd, hulle het geen benul van verlieswaarde nie, gaan nog onwettig krag tap met dieselfde drade. Viva lekker in die nuwe sa

Theresa ·

Dagvaar die metro vir die skade. Ook vir trauma. Hul MOET leer om gekeurde, opgeleide sekuriteitswagte by elke plek aan te stel waar daar skade aan wettige persone se eiendom kan veroorsaak. Kyk maar hoe word palisades gebreek wat reservate in voorstede moet afskerm. Kyk hoe woon onwelkomes langs die spruite. Kyk hoe word als verinneweer. Ruk dit reg, asb. Dis nonsens dat dinge so verval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.