Vandekeere skuldig bevind aan moord op Chantelle Barnard

Chantelle Barnard (21). Haar vermeende moordenaar is amper ‘n dekade later terug agter tralies.

“Nou kan hy eindelik boet vir wat hy aan my kind gedoen het. Hy het haar bitter seergemaak.”

Só het ʼn verligte Suzette Barnard Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê kort nadat Jurgen Vandekeere skuldig bevind is aan die moord op haar dogter Chantelle.

Vandekeere is vroeër vandag gedurende ʼn spesiale sitting van die hooggeregshof in Benoni skuldig bevind op aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling.

Dit volg byna ʼn dekade nadat Chantelle (21) op 1 April 2011 in Vandekeere se huis op ʼn hoewe buite Benoni verkrag, vermoor en keelaf gesny is. Suzette het ná die moord op haar dogter se liggaam in die huis afgekom.

Vandekeere is destyds op die toneel in hegtenis geneem en later in die Benoni-streekhof borgtog geweier. Hy was ongeveer twee maande in aanhouding, waarna hy ʼn suksesvolle aansoek om borgtog by die hooggeregshof ingedien het.

Hy moes op 9 September 2013 weer in die hof verskyn, maar het spoorloos verdwyn.

Vandekeere was vir bykans sewe jaar voortvlugtend voordat hy in Januarie vanjaar homself by die polisiestasie in Benoni oorgegee het.

“Ek het nie gedink hierdie dag gaan ooit aanbreek nie,” erken Suzette nou. “Ek het gehoop dit gaan gebeur, maar het dit nie verwag nie. Toe ek vanmiddag in die kar klim, het ek gedink: ‘Wat het nou net gebeur? Dit is net te goed om te waar wees’.”

Suzette sê sy is verlig dat haar kind se moordenaar nou vir goed agter tralies gaan wees. “Dit het my van my kop af gemaak dat hy haar so verniel en seergemaak het en toe vir jare vry rondgeloop het.”

Suzette vertel dat Vandekeere geen emosie of berou gedurende die uitspraak getoon het nie. Hy sal na verwagting eerskomende Maandag gevonnis word.

“Ek hoop hy kry twee keer lewenslank vir die verkragting en vir die moord. Dit sal net meer as reg wees vir wat hy aan haar gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nefie ·

So jammer vir die familie en vriende.
My brein kan nie lekker verwerk dat iemand so iets kan doen nie.

lollapot ·

Ek juig saam met jou Suzette Barnard!!!
Mag jou pragtige kind in vrede rus. . .

Casper ·

Vandekeere het gevlug na die moord,verkragting en regsverydeling.Ek glo hy gaan baie jare in die tronk vrot.

Trotse Boervrou ·

Ai, so ‘n pragtige kind. Ek onthou nog destyds toe sy vermoor is. Ons vergeet met die tyd maar hoe vergeet ‘n ouer so wrede moord. Haar ma is ook lewenslank gevonnis. Dankbaar hy is nou skuldig bevind. Mag hy in die tronk elke dag daaraan “herinner” word aan die bloed op sy hande. Sterkte Suzette, ons kan net bid vir jou.

Claudette ·

Ek is bly dit is op ‘n einde. Maar die seer sal altyd daar wees. Sterkte

christo ·

Hy sou twee keer gedink het as dit voor 1990 was. Die gepaste straf sou doodstraf gewees het. Kon die staat nie parool teengestaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.