Vanderbijl-sakelui moeg gesukkel met vrot dienslewering

Dwayne Lottering beduie na ‘n stukkende transformator in Vanderbijlpark. Die gebied gaan gebuk onder swak dienslewering. (Foto: Maroela Media)

Abrie Hanekom, ʼn sakeman van Vanderbijlpark, se werkswinkels het gewoonlik gewemel van ambagslui. Van die naastenby 180 werkers wat hy vantevore by Krupp Engineering, een van sy talle ondernemings in die stad, in diens geneem het, is daar nou 26 oor.

Die voortgesette diensleweringsprobleme by die Emfuleni-munisipaliteit – veral die vermoë om deurlopend krag te lewer – laat Hanekom dit oorweeg om sy ondernemings se deure finaal te sluit.

Hy is ook nie die enigste sakeman wat nou na groener weivelde soek nie.

“Elkeen van hierdie masjiene het mense opgehad. Hier is byna niemand nie,” sê Hanekom.

Die onderneming ontwerp en vervaardig reusestukke toerusting vir onder andere die mynbedryf. Deesdae is dit al hoe moeiliker, en soms selfs onmoontlik, om klante se spertye te haal omdat die krag meer af as aan is.

“Groot maatskappye wil nie meer vir ons werk gee nie.”

Gerda Senekal, ʼn VF Plus-raadslid van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit, beaam dit.

“Sedert 1 Januarie vanjaar tot op hede is Vanderbijlpark al vir vier keer tot twaalf ure sonder elektrisiteit gelaat, wat meer ondernemings dwing om hul deure te sluit of in Midvaal, Sasolburg en selfs Rustenburg te hervestig.

“Emfuleni was verlede jaar gereeld sonder elektrisiteit weens verskeie substasies wat aan die brand geslaan het en woongebiede twee keer per week vir ure en selfs dae lank sonder krag gelaat het.

Senekal sê die onttrekking van groot sakeondernemings lei tot werkverliese en die verdere verarming van die gebied.

Hanekom gebruik ʼn opwekker, maar dit het nie naastenby die vermoë om dié enorme masjinerie aan die gang te hou nie.

Hy doen al sowat 12 jaar lank sake hier, maar sê die situasie is nou onhoudbaar.

Abrie Hanekom sê sy werkswinkel het vantevore gewemel van ambagsmanne. Hy het reeds talle van hulle afgelê omdat die kragtoevoer so onbetroubaar is. (Foto: Maroela Media)

Die krag by die werkswinkel het Dinsdagoggend aangekom nadat ʼn onderbreking die onderneming die vorige dag vir die soveelste keer lamgelê het. Die werkers wat hy oor het, werk nou soms nagskof, want daar is snags klaarblyklik ʼn beter kans dat die ligte gaan aanbly.

Verlede week was werkers besig om ʼn 19 ton-vrag van ʼn vragmotor in die werkswinkel te laai, toe daar kort na mekaar wisselende stroomspanning was en die krag daarna uitgeskop het. Die vrag het geval nadat ʼn hyserskag se remme weens die kragonderbreking ingeskop het, maar die hyserskag aan flarde geruk het.

Dit het een van sy ambagsmanne rakelings gemis.

“Dis tóé dat ek bang geword het. Ek is nie so bekommerd oor my besigheid nie, maar ek is werklik bekommerd oor die veiligheid van my mense.”

Jong ambagslui het vantevore hul opleiding hier ontvang vir ʼn loopbaan in die meganiese ingenieursbedryf. Hanekom het hierdie opleiding gestaak omdat hy die vakmanne self moes betaal en die krag te dikwels af was.

Die opgraderingswerk aan die groot werkswinkels het hy laat vaar, want Hanekom is nie oortuig dat hier veel langer ʼn volhoubare toekoms gaan wees nie.

“Weet jy waaroor huil my hart? Die mense wat hier werk wat sê ‘betaal ons wat jy het, moet ons net nie laat gaan nie’.”

Hanekom beduie na ʼn groot stuk toerusting. Dit is ʼn bestelling vir ʼn mynmaatskappy, maar weens die voortgesette kragonderbrekings is die lewering daarvan nou reeds sowat ʼn maand laat.

“Ek is nie meer lus nie. Van my vyf besighede doen nog net twee sake. Die ander is gesluit en ek oorweeg dit om hier ook toe te maak.”

Hy verloor maandeliks duisende rande, terwyl die munisipale heffings bly styg.

Optimisme al wat oorbly

Die inperkingsmaatreëls wat weens Covid-19 ingestel is, het die gasvryheidsbedryf geknou. Noudat Droomplaas weer kan sake doen, is die krag al dae lank af. (Foto: Maroela Media)

Gina Swanepoel is die eienaar van Droomplaas, ʼn trou- en funksievenue en die Plaasklonkies-kleuterskool op die dieselfde perseel in Mantevrede. Hulle het byna drie weke lank sonder krag gesit nadat weerlig vermoedelik ʼn transformator raakgeslaan en die gebied in duisternis gedompel het.

“Optimisme is al wat ons aan die gang hou,” sê Swanepoel.

Sy het dié naweek ʼn funksie met 80 gaste en gaan die ligte met ʼn kragopwekker aanhou. “Covid het ons geknou en noudat ons kan werk, is die krag af.”

Vir die kleuterskool ry sy daagliks die kleuters se kos aan en hulle maak gebruik van gas.

Sy oorweeg dit om nou ook na gasgeisers vir haar gastekamers by die venue en sonverhitting vir kragopwekking oor te skakel. Dit gaan haar egter duisende rande uit die sak jaag. Omdat die krag af is, werk die boorgat nie en hulle moet nou noodgedwonge munisipale water gebruik. Dit kos nóg ʼn klomp geld.

Swanepoel se hekmotor is onlangs gesteel en die alarm werk nie omdat die krag af is.

“Vanderbijlpark is soos die Bermuda-driehoek, ʼn mens kan nie hier wegkom nie,” skerts Swanepoel. Maar juis daarom werk sy so hard om haar onderneming aan die gang te hou en werk te skep.

“Jy het ʼn onderneming, maar dit is ook ʼn vorm van diens aan mense.”

Dwayne Lottering en sy vrou, Adri, bedryf hul onderneming, ND Technologies, ʼn klipgooi van Swanepoel se kleinhoewe. Die tegnikus wat na die stukkende transformator kom kyk het, het aangekondig dat dit “gebreek” is, sê Dwayne Lottering. En sedertdien het die ligte nog nie weer aangekom nie.

Dwayne Lottering en sy vrou, Adri, spandeer duisende rande om self die ligte aan te hou. (Foto: Maroela Media)

Lottering lewer op sy beurt ʼn diens aan sakelui soos Hanekom en ander groot maatskappye, en hoewel hy meestal op ander persele werk, word alle administrasie hier in Mantevrede gedoen. Die kragopwekker dreun nou al meer as twee weke lank onophoudelik. Vir sy hekmotor en alarmstelsel het Lottering reeds na sonkrag oorgeskakel.

Lottering sê al die bykomende planne om die ligte aan te hou, jaag hom egter duisende rande uit die sak. Dit hou boonop ʼn veiligheidsrisiko in omdat dit snags stikdonker is wanneer die krag uitskop.

Munisipaliteit ploeter voort

Hanekom het die plaaslike owerheid in Januarie verlede jaar al gewaarsku dat die kragsituasie nie langer so kan voortduur nie. Sedertdien het dit selfs verder versleg.

ʼn Munisipale amptenaar het skouers opgetrek toe hy om hulp gaan aanklop het, sê Hanekom, en vir hom gesê sy salaris word ieder geval elke maand betaal – krag of geen krag nie.

Die owerheid is in 2018 al onder administrasie geplaas weens onreëlmatige besteding van R1 miljard. In Oktober verlede jaar het Emfuleni se skuld aan Eskom R3,5 miljard beloop en in Oktober het Eskom op ʼn rekening van die plaaslike owerheid beslag gelê omdat hy versuim het om sy rekening te vereffen.

Rand Water het ook vroeg verlede jaar sogenaamde watervermindering as kredietbeheermaatreël in Emfuleni in werking gestel.

Talle inwoners sorg boonop self – teen bykomende koste – dat hul vullis verwyder word, selfs al betaal hulle munisipale heffings daarop.

Lottering sê sakelui wíl werk skep, maar dit word al hoe moeiliker.

  • Lees ook die naweek Maroela Media se berig met terugvoer van Gilberto Martins, die hoofadministrateur van die Emfuleni- plaaslike owerheid en kommentaar van die Emfuleni-belastingbetalersvereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

CR seker baie trots op sy munisipaliteite.

Ian

En so val SA al hoe verder on duie….. Dit as gevolg van n politieke party wat nader terrorisme is as dienslewering.

Paulien

Die gemeenskap moet saam staan en weier om enige munisipale dienslewerings fooie te betaal. Wonder dan waar die munisipale werkers se salaris vandaan gaan kom.

Cobus

Die reënboog droom waarvan 66% in 92 gedroom het.

Hendrik

Ek verstaan ons Afrikaners nie so mooi nie. Ons gaan al hoeveel jaar gebuk onder hierdie ellende van hopelose dienslewering en tog het ons by die 1000 van die minisipale – stembus weggebly. n Goue geleentheid om beheer te verkry is verkwis.