Vanderbijlpark-man in waakeenheid ná brander hom van rotse slaan

Andre Dercksen en Jacques Viljoen. Foto: Facebook

Andre Dercksen en Jacques Viljoen. Foto: Facebook

Jacques Viljoen (34) van Vanderbijlpark, een van die mans wat ernstig beseer is toe hy en ʼn vriend in Plettenbergbaai van die rotse geslaan en deur die see meegesleur is, is na die waakeenheid van ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Viljoen en sy vriend Andre Dercksen (39) het Sondag op ’n staproete in die Robberg-natuurreservaat foto’s geneem toe hulle deur golwe van die rotse geslaan is. Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Dercksen eerste van die rotse af geslaan en Viljoen het agter hom in die water ingeduik. Omstanders kon daarin slaag om die twee mans uit die water te haal, maar albei het ernstige beserings opgedoen.

Viljoen is die eienaar van die Little Eden-gastehuis in die Vaaldriehoek. Volgens Dercksen se Facebook-profiel is hy die eienaar van Equilibrium Hair & Beauty-salon in Constantia Park, Pretoria.

Volgens Jemma Cranko, ʼn goeie vriendin van Viljoen, is hy steeds onder verdowing terwyl dokters wag vir die swelling op sy brein om te verminder. Hulle sal daarna aan sy rug kan opereer waar rugwerwels ernstig beskadig is. Hy het ook verskeie snywonde en kneusplekke opgedoen.

Dercksen is steeds in ʼn hospitaal in George. Hy het talle snywonde en kneusplekke aan sy lyf opgedoen asook ʼn arm en been gebreek. Baie van sy vriende sal Donderdag na George vertrek om hom in die hospitaal te besoek, het Cranko gesê.

“Ek ken Andre nou maar eers ʼn paar maande, maar ek en Jacques is al vir 12 jaar vriende. Hy is net die wonderlikste, wonderlikste mens,” het sy gesê. “Hy is ʼn groot natuurliefhebber en gaan gereeld op staproetes en uitstappies. Ons kan nou net bid dat hy vinnig sal herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.