Vanderbijlpark-moorde: Gru-besonderhede in hof gehoor

Carlia, Thea en Phillip du Preez. Foto: Facebook

Carlia, Thea en Phillip du Preez. Foto: Facebook

Grusame besonderhede is in die rondgaande hof in Vereeniging bekend gemaak oor die wyse waarop Thea du Preez (43) en haar kinders, Carlia (17) en Phillip (14), in Desember verlede jaar in hul huis in Vanderbijlpark vermoor is.

Fanie du Preez (40) word aangekla van die moord op sy vrou en twee kinders. Thea, Carlia en Phillip is in die vroeë oggendure van 3 Desember 2015 in die gesin se huis doodgeskiet.

Volgens 90.6 FM Stereo Nuus het dr. Mpho Seele, wat die lykskouings gedoen het, getuig dat Carlia ses keer geskiet is, onder meer drie keer in haar nek en in haar linkerhand. Volgens Seele het dit gelyk of Carlia met haar hand probeer keer het. Hy het gesê dit lyk of sy baie beweeg het terwyl sy geskiet is.

Phillip is in sy slaap geskiet waarna hy van die bed afgeval het. Volgens Seele het Phillip ʼn skedelfraktuur opgedoen. Thea is twee keer in die kop geskiet.

Du Preez en sy regsverteenwoordiger in die hof. Foto: Nadine Watkins/90.6 FM Stereo Nuus

Du Preez en sy regsverteenwoordiger in die hof. Foto: Nadine Watkins/90.6 FM Stereo Nuus

Stefan Venter, ʼn vriend van Du Preez, het getuig Fanie het hom die oggend van die moord gebel en huilend vertel twee mans het by sy huis ingebreek. Hy het ook getuig dat Du Preez vroeër vir hom gesê het drie Libanese mans is op sy spoor. Hy het gesê Du Preez het ʼn goeie verhouding met sy kinders gehad en dat hy alles vir Carlia gedoen het. Du Preez het telkens trane afgevee tydens Venter se getuienis.

Die saak gaan voort. Lees alle vorige berigte oor die Vanderbijlpark-moorde op Maroela Media.

Inligting met vergunning van 90.6 FM Stereo Nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Laurika ·

Dis so aaklig om te dink dat Carlia saam met my dogter Matriek sou klaar maak die jaar. Daar is nie woorde voldoende om hierdie man te beskryf nie. Dis net so, so hartseer.

Hannie ·

Hy was mos so deurmekaar met geweldadige pornografie. Gaan kyk na Ted Bundy die reeksmoordenaar se laaste onderhoud op Youtube. Ek hoop mense wat met verkeerde goed besig is, dink diep en besin.

Valerie ·

Gewelddadige pornografie of nie-gewelddadig; dit maak geen verskil nie. Vieslik is vieslik en dit bly geestesversteurende (lees: siek) gemors. Dit kan nie geregverdig word nie, net soos prostitusie en die kamtige “onskuldige” ontklee”dansers” nie geregverdig kan word nie.

Donovan ·

Fanie, weet jy my mense gedagtes kan nie verstaan hoe die liewe Vader n ou soos jy kan vergewe vir wat jy aan gevang het nie… Maar as n gelowige hoop ek jy kom tot jou sinne en maak die saak reg met God en dat jy vir 1x in jou lewe mans genoeg kan wees en met die waarheid uitkom oor wat jou besiel het om tot so daad oor te gaan… en dat met jou getuienes dalk ander families gered kan word van die bose wat jou oorval het…

Ursula ·

Ek kry die prokureurs en advokate jammer wat die mense verdedig………..

m ·

Hierdie mens het soveel onnodige hartseer veroorsaak. ek hoop hy sit baie lank in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.