Vanderbijlpark-moorde: Man pleit

Du Preez en sy regsverteenwoordiger in die hof. Foto: Nadine Watkins/90.6 FM Stereo Nuus

Du Preez en sy regsverteenwoordiger in die hof. Foto: Nadine Watkins/90.6 FM Stereo Nuus

Fanie du Preez (40), die Vanderbijlpark-man wat aangekla word van die moord op sy vrou en twee kinders, het Maandag in die rondgaande hof in Vereeniging gepleit.

Volgens 90.6 FM Stereo Nuus het Du Preez onskuldig gepleit op drie aanklagte van moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy het skuld beken op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Du Preez het voorheen ʼn skulderkenning afgelê maar sy regsverteenwoordiger het Maandag aangevoer dat dit onder dwang gedoen is.

Du Preez word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Thea (43), en hul kinders, Carlia (17) en Phillip (14), in die vroeë oggendure van 3 Desember 2015 in die gesin se huis doodgeskiet het.

Konst. Raphael Chopotso, die eerste polisiebeampte op die moordtoneel, het getuig hy het Du Preez buite die huis gekry. “My gesin is weg, my gesin is weg,” het Du Preez glo vir hom gesê voor hy Chopotso die huis ingeneem en sy gesin se lyke vir hom uitgewys het.

Carlia, Thea en Phillip du Preez. Foto: Facebook

Carlia, Thea en Phillip du Preez. Foto: Facebook

Die moorde op die drie lede van die Du Preez-gesin het verlede jaar wyd opslae gemaak. Du Preez het ten tyde van die moorde beweer hy was in die motorhuis besig toe hy skote in die huis gehoor het. Hy het beweer hy is daarna deur twee gewapende verdagtes gekonfronteer wat op die vlug geslaan het, waarna hy ondersoek gaan instel het en die drie oorledenes se liggame in die huis aangetref het. Enkele ure daarna is hy egter in hegtenis geneem.

Du Preez het later sy weergawe van die gebeure verander en in die hof aangevoer twee Nigeriese dwelmbase het hom met ʼn vuurwapen gedreig en gedwing om sy gesin dood te skiet nadat hy geweier het om dwelms namens hulle te verkoop.

Die saak duur voort. Lees alle vorige berigte oor die Vanderbijlpark-moorde op Maroela Media.

Inligting met vergunning van 90.6 FM Stereo Nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Donovan ·

Nog steeds so onwerklik dat sulke mooi mense die lewe moes verlaat… Daai onvergeetlike du Preez smiles sal ons altyd mis…

Magda ·

Dat ‘n mens se verbeelding so op loop kan gaan met jou!!!

Magda ·

Dat ‘n mens se verbeelding so op loop kan gaan met jou!!! Een helse verbeelding , dwelmbase?? Shame

Liewe heksie ·

Gepleit regtig soos sy vrou en kinders gepleit het sit hom in tronk dat hy daar gaan pleit

G ·

Ek sal graag wil weet hoe iemand jou kan dwing om jou eie vlees en bloed te skiet? As dit ‘n tipe van genade dood was omdat die ‘dwelmbase’ hul erg sou martel, sou hy mos daarna selfmoord gepleeg het omdat hy nie met sy dade sou kon saamleef nie? Maar 10 punte vir ‘n ryke verbeelding. Mag jy lank sit.

Annie ·

Ek is seker dwelmbase sal ander mense kry om daai tyd van die oggend hulle vuilwerk te doen en nie self by hulle salgoffers besoek aflê nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.