Vanderbijlpark-skietery: ‘Die leemte is te groot’

Catherina en Johan Hebler gesels oor hul seun Nathan wat in ‘n skietery in Vanderbijlpark gesterf het. (Foto: Maroela Media)

Die trane loop oor Catherina Hebler (39) se wange terwyl sy in haar oudste seun, Nathan, se kamer staan. “Sy reuk is nog hier,” sê sy.

Dit is nou sowat twee maande sedert die skietery buite die Slap Chips-kitskoswinkel die lewe van die 18-jarige Nathan geëis het.

Sy pa, Johan (53), is gewond toe Tommy Phalatsi oënskynlik blindelings buite die winkel in Vanderbijlpark losgebrand het. Phalatsi het daarna weggejaag en sy eie lewe geneem – maar nie voordat hy nóg ʼn man doodgeskiet en ʼn ander een ernstig beseer het nie.

Johan dra ‘n hangertjie met ‘n foto van Nathan om sy nek. (Foto: Maroela Media)

Johan is in die buik gewond en was weke lank in die intensiewesorgeenheid van die Unie-hospitaal. Hy het geruime tyd rehabilitasie ondergaan en is Vrydag eindelik ontslaan.

Hulle het gedink daar was ʼn ongeluk, vertel Johan oor daardie noodlottige dag, en hy en Nathan het by die winkel uitgestorm toe hulle ʼn slag hoor.

Johan sê Phalatsi het buite die winkel in ʼn ander voertuig vasgejaag, uitgeklim, sy kattebak oopgemaak en toe ʼn 9 mm-pistool uitgehaal. “Ek het vir Nathan geskreeu hy moet hardloop toe ek die pistool sien,” sê Johan.

Voordat Nathan kon vlug het die skote geklap en Johan is gewond. Nathan is ook getref en het buite die winkel inmekaargesak. “Ek het ʼn gevoel gehad dat hy dit nie gaan maak nie,” sê Johan.

Hy is inderhaas na ʼn aangrensende kitskoswinkel om hulp te soek maar dié het glo die deure voor die gewonde Johan toegeklap. Hy het Catherina van ʼn verbyganger se foon gebel en dié het van hul kleinhoewe Vanderbijlpark toe gejaag.

Van die rit daarheen kan Catherina nie veel onthou nie. Daar was nie tyd om te dink nie, sê sy. Al wat sy kon doen was hoop. En bid.

Catherina Hebler. (Foto: Maroela Media)

Op die toneel aangekom is Catherina dadelik na Nathan en toe na Johan om seker te maak hy is reg. Daarna is sy terug na haar oudste. “Ek het by hom gekniel en hy het vir my gesê ‘ek is lief vir jou, mamma’. Hy het vir my gesê hy kry nie asem nie, maar ek het vir hom gesê hy gaan oukei wees…”

Dit was die laaste keer wat sy met hom kon praat.

Om 23:30 daardie aand het Nathan gesterf.

Johan was aanvanklik in ʼn kunsmatige koma en die nuus oor Nathan se dood is eers later met hom gedeel. Hy sê hy het egter deurlopend ʼn gevoel gehad dat Nathan nie meer daar is nie.

Terug by die huis het die werklikheid regtig begin insink.

Nathan se kamer was leeg.

Sy lus vir die lewe was onblusbaar, vertel Johan en Catherina. Hy was uitgaande, ʼn grapjas. Hy was soos ʼn sonstraal.

In die voorportaal van die gesin se huis staan ʼn kissie met sy as onder ʼn groot foto van ʼn glimlaggende Nathan.

“Ek wens ek kon hom nog een keer druk en soen,” sê Catherina. “Ons mis hom ongelooflik.”

Ook Johan sê die gemis hou nie op nie. “Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Die gesin se vrae word ook nie minder nie, maar Phalatsi is nie daar om te verduidelik nie en die Heblers sê die polisie het tot dusver weinig gedoen om enige antwoorde te verskaf.

“Wat het my kind aan hom gedoen? Hy het dit nie verdien nie.

“As jy [Phalatsi] dan so ellendig voel, vat jou eie lewe en gaan aan,” sê Catherina driftig.

Sy sê dit voel vir hulle asof niks ná Phalatsi se dood gedoen is nie en Nathan se dood nou ook in die vergetelheid moet verdwyn. Asof hulle net moet aanbeweeg.

“Dit is ons kínd. Óns sit met die seer. Iemand moet iets weet.

“Mense sê vir ons dinge sal weer normaal wees, maar wat is normaal? Ons moes by sy matriekafskeid gewees het, sy troue. Hy moes vir ons kleinkinders gegee het.

“Ek dink nie dit sal ooit weer normaal wees nie. Die leemte is te groot.”

Ook vir Nathan se jonger boetie, Juandré (15), was dit sleg dat hy nie vir oulaas vir sy ouboet “kon koebaai sê” nie. Die gesin beoog om later saam berading te ontvang om die gebeure stadigaan te probeer verwerk.

Nou is die wonde egter nog rou.

(Foto: Maroela Media)

Die gemeenskap het die Hebler-gesin geweldig ondersteun en enigiets van warm etes en finansiële bydraes aangedra tot boodskappe van beterskap gestuur en gebid. Daarvoor is hulle ewig dankbaar.

Catherina sê hulle was verstom oor hoeveel mense Nathan geken het, hoeveel mense hy gehelp het en hoeveel mense deur sy dood geraak is.

Hulle het kort ná sy dood blomme gaan neerlê buite die winkel waar Nathan geskiet is, maar noudat Johan uit die hospitaal ontslaan is, sal ʼn behoorlike roudiens ook vir hom gehou word. Die datum hiervoor moet nog vasgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Namgrl ·

hoe kan ‘n ouer hart dit hou… dit is die seerste seer…..so jammer vir julle….

Elize ·

Iemand moet tog weet hoekom die man soos ‘n besetene opgetree het. Wat se sy familie of vrou of iemand saam met wir hy gewerk het??

Misky ·

Geen ouer moet ooit deur die seer hoef te gaan om jou kind te begrawe nie. So onnodige daad deur n lafaard. Ons dra julle as gesin in ons gebede op

Cindy ·

ai hoe loop die trane :( dis altyd so bitter hartseer om te lees van sulke gemene dade :( Sterkte aan sy geliefdes

Alet ·

Sterkte is al wat ek kan sê. Geen woorde gaan dit beter maak nie.

covid leuens ·

Selfmoord bomaanvallers doen dieselfde.
Mag die Skepper duidelikheid en vrede gee

JM ·

‘n Ouer is nie veronderstel om ‘n kind af te gee nie. Daar kan nie ‘n erger seer wees nie. Mag hierdie gesin krag ontvang om voort te gaan.

Yolande ·

My hart breek vir julle, so pragtige kind, ek het ook ‘n 18 jarige seun, hy is my alles, hoe gaan mens voort as so iets gebeur…

Regverdigheid ·

Sterkte aan sy ouers en broer my hart gaan uit na julle, geen woorde kan jul pyn weg vat kan net vra dat God jul elke dag dra en vertroos .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.