Vanderbijlpark-skietery: Pa uit hospitaal ontslaan

Die Hebler-gesin.

Johan Hebler, wat ernstig gewond is in ʼn skietery in Vanderbijlpark wat ook die lewe van sy seun, Nathan (18), geëis het, ontvang in hierdie stadium rehabilitasie by ʼn sentrum in Vereeniging.

Johan en Nathan was vroeg in Februarie by die Slap Chips-kitskoswinkel in Vanderbijlpark toe Tommy Phalatsi (49) op mense begin losbrand het.

Johan is gewond, terwyl Nathan en Willem Kriel, ʼn motorwag, doodgeskiet is. Lewis Lawrence Townsen, ʼn winkelbestuurder, is ernstig beseer toe Phalatsi by die eetplek in voertuie vasgejaag het en Townsen teen ʼn voertuig vasgepen is.

Phalatsi het kort daarna selfmoord gepleeg.

Johan was geruime tyd in ʼn kunsmatige koma weens onder meer die skade wat ʼn skietwond aan sy buik aangerig het.

Bianca Venter, ʼn familielid van die Hebler-gesin, sê met Johan se fisieke herstel gaan dit in hierdie stadium baie goed. Hy is uit die hospitaal ontslaan en ontvang tans rehabilitasie.

“Ons hou styf duim vas dat hy Vrydag sal kan huis toe kom. Sy dokters het vandag ʼn vergadering en dan sal ons weet,” sê Venter.

Volgens haar is Johan gretig om weer tuis te kom.

Catharina, Nathan se ma, verwerk die gebeure nog dag vir dag. Die egpaar en Nathan se jonger boetie, Juandré, sal ook berading ontvang om die tragiese gebeure te help verwerk.

Venter sê dit beteken vir die gesin baie dat soveel mense wat hulle glad nie geken het nie, geraak is deur die gebeure en hulle ondersteun het.

“Die meeste fisieke herstel is agter die rug. Die emosionele genesing begin nou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Een versteurde wat vir soveel onnodige hartseer gesorg het. Baie sterkte vir hierdie gesin op hul pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.