Vangwa-sleep: Bestuurder onbewus man word gesleep

Skermskoot uit die video wat wys hoe Mido Macia in Februarie 2013 agter die polisievangwa gesleep is

Skermskoot uit die video wat wys hoe Mido Macia in Februarie 2013 agter die polisievangwa gesleep is

Die polisiebeampte wat die vangwa bestuur het toe Mido Macia, ʼn Mosambiekse taxibestuurder in Februarie 2013 agterna gesleep is, voer aan hy het nie geweet die immigrant was vasgevang in die voertuig nie.

Marius van Wyngaardt, wat die Daveyton-polisiebeamptes verteenwoordig, het in die Pretoriase hooggeregshof gesê Macia was aggressief en het in ʼn stadium ʼn handwapen van ʼn polisiebeampte gegryp voor hy ontwapen is.

Van Wyngaardt het gesê Macia (27) het een van die polisiebeamptes aangerand wat hom voorgekeer het nadat hy onwettig in Esselenstraat in Daveyton aan Gauteng se Oos-Rand parkeer het.

Nege polisiebeamptes, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Bongamusa Mdluli, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi, Linda Sololo en Matome Ramatlou staan tereg op aanklag van moord ná Macia se afsterwe.

Volgens Van Wyngaardt het lede van die Daveyton-gemeenskap en Macia se mede-taxibestuurders die polisiebeamptes aangeval. ʼn Vangwa se ruit is glo deur ʼn baksteen stukkend gegooi en polisiebeamptes is aangerand.

Hy was besig om Lindiwe Tracy Ngwenya te ondervra wat volhou sy was op die betrokke dag saam met Macia.

Van Wyngaardt het aan die hof gesê die polisiebeamptes het Macia oorweldig en hom agterin die vangwa geplaas. Hy het egter sy inhegtenisneming teengestaan, en probeer om uit te klim toe een van die boeie glo “per ongeluk” aan die bankie vasgehaak het. Die bestuurder het begin wegry.

Ngwenya stem nie saam nie. Sy het gesê Macia is nooit agterin die vangwa geplaas nie. Sy hou ook vol indien Macia in die vangwa geplaas is, sou die beamptes die deure gesluit het.

Van Wyngaardt het gesê toe die ander polisiebeamptes besef die bestuurder van die vangwa is nie bewus daarvan dat Macia agterna gesleep word nie, het hulle hom probeer help deur sy bene op te lig. “Hulle het sy bene laat gaan toe die vangwa vinniger begin ry het. Een van die beamptes het in ʼn tweede polisievoertuig gespring en die vangwa agternagesit en sy ligte geflikker.”

Volgens Van Wyngaardt het die bestuurder glo ongeveer 100 meter ver gery, onbewus dat Macia agterna gesleep word. Die polisiebeamptes “was bang”, en het vir hul eie veiligheid gevrees en was bekommerd dat die vangwa beskadig sou word.

Ngwenya het egter gesê die bestuurder het gesien Macia word aan die bankie vasgemaak voordat hy ingeklim en begin het om weg te ry. Volgens haar het lede van die gemeenskap eers die polisiebeamptes begin aanval nadat hulle hierdie “slegte gedrag” aanskou het.

Regter Bert Bam wou by Ngwenya weet of Macia agter die vangwa aangehardloop het en of hy geval het. Ngwenya het opgestaan en gewys hoe Macia agterin die vangwa vasgemaak is. Sy het gesê hy het op sy rug gelê toe die voertuig begin ry het. “Twee beamptes het sy bene opgelig, maar hulle het hom laat gaan toe die vangwa vinniger begin ry het,” het sy getuig.

Sy ontken dat Macia een van die beamptes se vuurwapens gegryp het.

Ngwenya het gesê Macia is ongeveer 40 meter ver agter die vangwa aangesleep, en dit was die laaste keer dat sy die Mosambieker gesien het. Sy het gesê hulle het saam grootgeword, het in dieselfde huis gebly en was familie.

Macia is later dood aangetref in die Ekurhuleni-polisiestasie se selle. Internasionale media het ook oor die voorval berig en daar was verskeie betogings teen polisiebrutaliteit.

Die nege polisiebeamptes is almal vrygelaat op borgtog. Hulle het aandagtig sit en luister terwyl Ngwenya getuig het.

Lees alle berigte oor Mido Macia op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.