Vangwa-sleep: Saak begin eers dan

Mido Macia

Mido Macia

Die nege polisiebeamptes wat aangekla word van die moord op ʼn Daveyton-taxibestuurder, Mido Macia, sal eers volgende jaar verhoor word.

Die verhoor was veronderstel om Maandag in die Delmas-landdroshof te begin. “Die staat het Maandag ʼn aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring om ʼn belangrike vermiste skakel in die saak te kry,” het staatsaanklaer Charles Mnisi gesê. Hy het onlangs die saak by Hitler Thenga oorgeneem.

Mnisi het gesê hy het Maandag ʼn mondelinge voorlegging aan die hof gemaak maar is aangeraai om ʼn geskrewe voorlegging in te dien. Hy het dit Woensdag gedoen. “Die hof het bevind dat die staat ʼn volhoubare saak gestel het.” Die saak is tot 27 Julie 2015 uitgestel.

Die nege beskuldigdes is Motome Walter Ramatlou, Michak Malele, Thamsanqa Ncema, Percy Mnisi, Bongumusa Mdluli, Sipho Ngobeni, Lungisa Ewababa, Bongani Kolisi en Linda Sololo. Hulle is in Augustus verlede jaar op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die saak is al talle kere uitgestel sedert Macia se dood in Februarie verlede jaar.

Macia is glo vasgeboei agter aan ’n polisievoertuig deur die strate van Daveyton gesleep en is later in polisie-aanhouding dood. Volgens die nadoodse ondersoek is Macia dood weens ʼn gebrek aan suurstof.

Die polisie ontken dat hulle enige aandeel in Macia se dood gehad het en beweer hy het nog gelewe toe hulle hom in die tronksel toegesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Gaan trek die beskuldiges ook agter die vang wa een vir een en kyk of hulle nie beseer word hy kon dalk binne in sy liggaam seer gekry het.Die vraag is het n ordentlike dokter hom onder soek na die voorval glo nie.Nou wil hulle onskuldig staan dis nie reg nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.