Vangwa-sleep: Uitspraak gelewer

'n Skermskoot uit 'n video wat wys hoe Mido Macia agter 'n polisievangwa gesleep is.

‘n Skermskoot uit ‘n video wat wys hoe Mido Macia agter ‘n polisievangwa gesleep is.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag uitspraak gelewer in die verhoor van agt voormalige polisiebeamptes wat aangekla word van die moord op Mido Macia in Februarie 2013.

“Die beskuldigdes moet nou opstaan. Beskuldigdes een tot agt, julle word skuldig bevind aan moord. Julle kan weer sit,” het regter Bert Bam gelas nadat hy ʼn samevatting gelees het van die bewyse wat tydens die verhoor voorgelê is. Bam het gelas dat die beskuldigdes in aanhouding bly voordat hy die hof verdaag het om die voormalige polisiebeamptes se regsverteenwoordigers kans te gee om te hoor of hul kliënte gereed is om met vonnisoplegging voort te gaan.

Die agt moordenaars, Bongamusa Mdluli, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi en Linda Sololo, is ná die uitspraak na die aanhoudingselle begelei.

ʼn Negende voormalige polisiebeampte wat ook vir die moord aangekla is, is vroeër vandeesmaand deur die hof vrygespreek. ʼn Staatsgetuie het gesê hy het fouteer toe hy Matome Ramatlou by die moord betrek het. Ramatlou is kort daarna vrygespreek.

Macia is op 26 Februarie 2013 deur die polisiebeamptes genader nadat hy sy minibustaxi op ʼn onwettige plek parkeer het en ʼn verkeersknoop veroorsaak het. ʼn Woordewisseling het tussen hom en die polisie ontstaan en hy is agter ʼn polisievangwa aangesleep. Hy is later in die selle van die Daveyton-polisiestasie dood.

Die beskuldigdes het aangevoer dat Macia se handboeie verstrengel geraak het in die bankie agter in die vangwa waarna hy volgens hulle uit die vangwa geval het en per ongeluk agter die vangwa gesleep is. Die staat het egter aangevoer dat die beskuldigdes wel bewus was dat hy agter die vangwa gesleep is.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Met die agt in die gevangenis is daar darem nou ietwat n verbetering in die polisiediens,

Pierre Celliers ·

Daar moet nou net nie ge-appelleer word en dan kom hulle vry nie!!!
Hulle moet verewig sit!!! Hulle is “Savages”, die afrikaanse beskrywing is te vreemd en het nie impak nie; “Woestaards”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.