Vangwa-slepery: ‘Macia het heeltyd gehuil’

'n Skermskoot uit 'n video wat wys hoe Mido Macia agter 'n polisievangwa gesleep is.

‘n Skermskoot uit ‘n video wat wys hoe Mido Macia agter ‘n polisievangwa gesleep is.

Die Mosambiekse taxibestuurder, Mido Macia, wat dood is nadat hy in 2013 agter ʼn polisievangwa gesleep is, is glo geklap en rondgestamp nadat hy in hegtenis geneem is.

Ao. Mpumzi Ngamla het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria voor regter Bert Bam getuig dat Macia deurentyd gehuil het tydens die voorval. “Hulle [die polisiebeamptes wat van Macia se moord aangekla word] het ingekom en hom gedra. Sy bene was gebrand en het op die vloer gesleep,” het Ngamla gesê.

“Hulle het rondom hom gestaan en ek kon hom nie sien nie. Ek het ʼn geluid gehoor wat daarop gedui het dat hulle hom met hul oop handpalms geklap het. Konst. [Bongamusa] Mdluli het ʼn plastiekstoel opgelig om hom mee te slaan. Ek het die stoel weggeneem en konst. Mdluli berispe.”

Ngamla was in beheer van die selle op 26 Februarie 2013 toe Macia ingebring is.

Hy het gesê aangesien Macia beseer was, het hy die polisie gevra of hulle hom na ʼn mediese instansie geneem het. Volgens Ngamla het die beamptes nie mediese behandeling vir Macia gekry nie.

Nege voormalige polisiebeamptes, naamlik Mdluli, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi, Linda Sololo en Matome Ramatlou, staan tereg op aanklagte wat met Macia se moord verband hou.

Macia is later dood aangetref in die selle van die Ekurhuleni-polisiestasie ná sy onderonsie met die polisie. Die voorval het internasionaal opslae gewek en talle betogings oor polisiebrutaliteit ontketen.

Lees alle vorige berigte oor Mido Macia op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan van Riebeeck ·

En so gooi 9 mense weer die SAPD se naam heeltemal weg en maak dat almal in opstand kom teen die polisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.