‘Varkgriep’ eis lewe van negejarige: LUR vra vir kalmte

Giselle Dariele Chetty (9) is dood aan die H1N1-virus.

Die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal het inwoners van Pietermaritzburg gemaan om kalm te bly ná die dood van ʼn negejarige dogtertjie aan die H1N1-griepvirus, of sogenaamde varkgriep.

Nomagugu Simelane-Zulu het gesê daar is ná die dood van Giselle Dariele Chetty van Pietermaritzburg foutiewelik berig dat daar ʼn uitbreking van die virus is.

Giselle is Maandag ter ruste gelê en haar tweejarige broer is steeds in ʼn hospitaal nadat hy ook die virus opgedoen het, berig die gemeenskapskoerant Public Eye.

“Die Influensa A-virus (H1N1) is ʼn virus wat in 2009 die eerste keer opgemerk is en ʼn wêreldwye griepepidemie veroorsaak het. Dit is nou ʼn seisoenale griepvirus wat veral in die winter voorkom en die rondtes doen saam met ander seisoenale virusse. Dit is nie ʼn oordraagbare siekte nie en word behandel soos gewone griep,” het Simelane-Zulu gesê.

Swanger vroue, MIV-lyers, kinders jonger as ses jaar oud met onderliggende mediese toestande, asook volwassenes met onderliggende mediese toestande is meer weerloos teen die siekte as ander en sal ʼn griepinspuiting benodig voor die griepseisoen begin.

Sy het ʼn beroep gedoen op skole, dokters en die publiek om nie na die siekte as ʼn uitbreking te verwys nie, sodat daar nie onnodige paniek gesaai word nie.

“Terwyl ons die saak verder ondersoek, vra ons ouers om bewus te wees van die tekens van ernstige griep. Pasiënte met kommerwekkende simptome soos borspyn of wat kortasem is, word gevra om dringende mediese aandag te soek. As iemand dink hulle of hul kinders het ʼn soort aggressiewe griep, moet hulle ʼn mediese fasiliteit besoek.

“Die beste manier om die verspreiding van griep te voorkom is as diegene met die siekte tuisbly en nie skool of werk toe gaan nie. Was hande gereeld en raak, weg van ander mense, ontslae van gebruikte snesies. Bedrus en die inname van genoeg vloeistof word ook aanbeveel,” het Simelane-Zulu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

Hartseer . Kan die dame asseblief kommentaar lewer oor hoeveel Tamiflu beskikbaar is by die staats hospitale en klinieke wat onder haar toesig is ?

Piet

Hierdie is nie die eerste sterfte agv varkgriep nie. My vrou het dit ook gehad maar is gelukkig gou en reg gediagnoseer. Nasale monster. Sy was op tamiflu en dis al wat help vir die virus. Die land is vrot van die ding, maar die regering wil dit nie se nie. Seker bang vir paniek.

GM

@Iemand, ek is nie ‘n voorstander van medikasie uitdeel vir elke liewe dingetjie nie, maar ek glo tog dat dit beter sal wees vir my gemoed as hul belastinggeld op Tamiflu, of enige ander ‘onnodige’ medikasie mors, instede van dat die kaders gaan partytjie hou met dit, of spoggerige huise en motors koop daarmee. ;-)

GM

Sterkte aan die ouers en naasbestaandes. Pragtige meisietjie. Die lewe is onverstaanbaar. Onskuldige kinders gaan dood terwyl die skuim van die aarde dikwels stokoud word.

David

Moet ons die voorkoms van varkgriep stilhou en paniek voorkom of moet ons eerder mense aanmoedig om griep inspuitings te kry en sorg te neem met persoonlike higiëne, veral hande was?