Varkvel deurslaggewend in man se herstel

Albertus du Plessis. (Foto: Verskaf)

ʼn 64-jarige man van Germiston voel vir die eerste keer in jare weer gesond danksy die inplanting van ʼn biologiese varkvelprostese om snitbreuke in sy buik te herstel.

“Ek voel al 80% beter. Dis die gesondste wat ek seker die afgelope drie jaar gevoel het,” het Albertus du Plessis, ʼn voormalige gereedskapmaker, aan Maroela Media gesê.

Du Plessis is in 2016 met rektumkanker gediagnoseer en in Januarie verlede jaar medies ongeskik verklaar om verder te werk. Die kanker is destyds uitgesny en Du Plessis moet sedertdien ʼn dermsakkie dra.

Hoewel sy kanker steeds in remissie is, het Du Plessis sedert sy diagnose gereeld probleme met sy gesondheid ondervind. Hy sukkel veral oor die afgelope paar jaar met diafragmabreuke wat gedurig in sy buik ontstaan en moes al verskeie operasies ondergaan om dié breuke te herstel. Die breuke veroorsaak onder meer verstoppings en versperrings in sy derms.

In Januarie vanjaar het hy weer ernstig siek geword. Daar is toe bevestig dat hy drie groot breuke het.

Albertus du Plessis het oor die afgelope jare gereeld snitbreuke opgedoen. (Foto: Verskaf)

Op 8 Februarie het hy weer ʼn operasie ondergaan om sy breuke te herstel. Tydens die operasie het dr. Wimpie Jansen van Vuuren (55) ʼn groot gaasprostese wat uit varkvel gemaak is [ook Permacol genoem] by Du Plessis ingeplant. Dit is soortgelyk aan gaas, maar is biologies van aard en nie sinteties nie.

Jansen van Vuuren is ʼn algemene chirurg by die Netcare Alberton-hospitaal waar Du Plessis behandel en geopereer is.

Hoewel Du Plessis al jare lank van hierdie soort prosedure bewus is, was dit aanvanklik vir hom ʼn vreemde konsep om te dink ʼn “stuk varkvel” word in sy liggaam ingeplant. Die prosedure het sy oorsprong in Frankryk en hoewel Suid-Afrikaanse dokters welbekend daarmee is, word dit nie gereeld uitgevoer nie omdat die proses baie duur is.

Du Plessis is dankbaar dat dit tot dusver lyk of die prosedure hom uiteindelik op die herstelpad plaas.

“Dit is nog ʼn bietjie sensitief, maar dis nog vroeg [in die herstelproses] en ek voel werklik baie goed. As dit werk, is ek tevrede.”

Dié pa van drie en oupa van 11 moet sy dokter weer oor ses maande vir ʼn opvolgondersoek besoek.

Duur maar doeltreffend

Jansen van Vuuren het aan Maroela Media verduidelik dat die inplanting van so ʼn prostese nie ʼn nuwe, unieke verskynsel in die praktyk is nie.

Dit is wel baie duur en gewoonlik nie die eerste roete vir die behandeling van snitbreuke nie. Die varkvelgaas word in Suid-Afrika vervaardig, maar mediese fondse is soms huiwerig om daarvoor op te dok en dokters moet meestal motiveer waarom hulle dit moet gebruik.

Jansen van Vuuren sê na gelang van die grootte van die prostese kan dit tot R80 000 kos.

Volgens Jansen van Vuuren word die prosedure hoofsaaklik, soos in Du Plessis se geval, vir uitgesoekte pasiënte gebruik wat groot, gekompliseerde snitbreuke het. Dit kan ook wees dat die gebruik van ander prostese, soos sintetiese gaas om vorige snitbreuke te herstel, deur die liggaam verwerp is of septies geraak het.

“Ons sal dit ook gebruik vir pasiënte wat snitbreuke ontwikkel het weens vorige abdominale operasies. Die groot verskil is maar biologies teenoor sinteties.

“Weens die wetenskaplike samestelling van die biologiese prostese, is dit van groot voordeel vir pasiënte wat hierdie soort probleme het, aangesien die biologiese gaas nie soos sintetiese gaas deur die liggaam verwerp word nie, maar eerder op ʼn natuurlike wyse in die liggaam disintegreer.

“Biologiese gaas soos dié bied ook ʼn beter versterking en replikasie van ʼn pasiënt se oorspronklike buikwand as sintetiese gaas.”

Die komplikasies hieraan verbonde is dus ook aansienlik minder, en dit is beter om te gebruik wanneer groter prosteses nodig is om snitbreuke oor groot liggaamsgebiede te herstel, sê Jansen van Vuuren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.