Varsitybeker weer uitgestel

Betogers op die UV-kampus. Foto: Twitter via @SongzPango

Betogers in Februarie 2016 op die UV-kampus. Foto: Twitter via @SongzPango

Die FNB Varsitybeker-rugbyreeks is weer uitgestel weens die studentebetogings wat universiteite regoor die land ontwrig het.

Duitser Bosman, die uitvoerende hoof van Varsitybeker, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die raad het besluit alle Varsitybeker-wedstryde sal vir nóg ʼn week uitgestel word om universiteite “die geleentheid te gee om die verskeie uitdagings wat hulle het, te hanteer”.

Die Varsitybeker het aanvanklik aangekondig slegs vandeesweek se wedstryde sou uitgestel word, maar het nou volgende week se wedstryde ook uitgestel. “Die welstand en veiligheid van alle studente, spelers en toeskouers, bly steeds van kardinale belang,” het Bosman gesê.

Hy het gesê die raad sal weekliks vergader om die verwikkelinge by die onderskeie universiteite te evalueer, voordat enige wedstryde sal hervat.

Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) is Dinsdag voortgesit en sewe mense is beseer toe die betoging gewelddadig geraak het. Werkers by Unisa het ook Dinsdag hul betoging teen die uitkontraktering van dienste op die Sunnyside-kampus voortgesit.

Klasse is Maandag by die Universiteit van Pretoria (Tuks) se Hatfield- en Groenkloof-kampusse onder swaar polisieteenwoordigheid hervat. Intussen het die Universiteit van die Vrystaat (UV) Maandag in ʼn verklaring gesê die situasie op kampus is kalm en veiligheidsbeamptes op die kampus is verdubbel as voorsorgmaatreël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ben ·

Waar alles gaan eindig weet net die Vader. Mense wat niks van die spel weet nie hou die mense wat lief is vir die spel, spelers en administrateurs gyselaar.Hoe ver moet daar agteroor gebuig word om die opstokers te akkommodeer. Alles waarvoor die Afrikaner lief is, het nou die teiken geword. Gister die akademie en skole, vandag die sport en more word daar betoog by my kerk.Gaan daar ooit ‘n einde aan die anargie kom sodat ons in vrede kan aangaan met ons lewens.

Here, gee deur U groot genade dat daar ‘n einde sal kom aan hierdie sinlose optrede, die moorde op ons boere, die bejaardes, die oneerlikheid, korrupsie en self verryking. Here maak asseblief ons land gesond. Amen

Chris H ·

So… die betogers kry dan presies wat hul wou gehad het en nog beter. Daar kan nie rugby gespeel word nie! Hoe belaglik is die besluit dan nie.
Hoekom stop hulle ook dan nie die universiteit se sokker spanne nie?
Politiek mag nie by sport inmeng nie!!

Johan ·

Ek het elders gelees dat die EFF-“studente” kla dat hulle geteiken word in polisie optrede en nie die blanke studente nie. Wel, dis die swart studente wat die geboue afgebrand het en tot geweld oorgegaan het. Nie die wit studente nie. Dis waarom hulle geteiken word….

Karma ·

Die enigste oplossing vir hierdie situasie is om (1) enige student wat hom/haar skuldig maak aan enige misdryf ingevolge die SA Strafwetgewing onmiddellik en permanent uit die Universiteit, van die kampus en uit die koshuis te skors; (2) om absolute streng toegangsreg op die Universiteitsgronde toe te pas; (3) om geen student toe te laat op Universiteit indien studiegelde nie vooraf betaal is nie of die student met ‘n geldige beurs of lening studeer nie en (4) geen politieke aktiwiteite/teenwoordigheid op Universiteitsgronde toe te laat nie.

Mon ·

Baie geldige punte. Hoop hul geniet die aandag wat hul verdien

Swanna ·

Karma ek stem absoluut met jou saam. Dit moet die hoof ondernemings punte of toelatings prosedure wees wat jy as student moet onderneem en teken voordat jy toeglaat word op enige Studie Instansies se gronde.

Jan ·

Waarom word daar niks van gemaak waar hierdie vandelaars ons dogters aanrand nie. Ek het nou al drie verskillende geleenthede op videos gesien. Ek skaam my morsdood, en wys nooit weer my gesig op straat, as ek hulle is nie.

Wynand ·

Ek kan nie glo dat die Universiteite nie standpunt kan inneem nie. Is hulle te lamsakkig? Waaroor gaan hulle nog agteroor buig? Ek skaam my vir die Bestuur van die Universiteite. Regtig, gaan sit bietjie en dink aan die skade wat julle veroorsaak. Julle het geen rugraat nie!!
Geen integriteit nie en geen leierskap nie. Waarom nie liewer bedank nie want op die oomblik beteken julle niks nie. Kry iemand wat ‘n sterk genoeg karakter en leierskap toon wat hierdie gemors kan stopsit.

Michael ·

Hulle sal nie weer in Bloemfontein ‘n wedstryd onderbreek nie????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.