Varsproduktemark dae lank sonder krag

Die kragonderbreking by Johannesburg se varsproduktemark het veral piesangs nadeling beïnvloed. (Foto: DEZALB, Pixabay)

Die Johannesburg-varsproduktemark moes vanaf 26 tot 29 Oktober ernstige uitdagings weens kabeldiefstal trotseer. Dít was die langste kragonderbreking wat dié mark nog ervaar het.

Vanjaar was daar reeds vier onderbrekings wat tussen twee en drie dae lank geduur het.

Die temperatuur in die koelkamers moet ±2 °C wees. Weens die gebrek aan elektrisiteit was die temperatuur bó 10 °C gewees. “Dit het ʼn erg nadelige uitwerking op die varsheid en gehalte van produkte wat in koelkamers geberg moet word,” het Gjalt Hooghiemstra, voorsitter van die Suid-Afrikaanse instituut vir markagente (IMASA) vir Johannesburg, aan Maroela Media gesê.

Daar is ‘n patroon waargeneem dat die kabels elke drie maande gesteel word en die mark is  gewaarsku dat dit in Desember weer gaan gebeur, maar hierdie keer het dit ná twee maande gebeur. Inderwaarheid kom dié probleem al vir jare aan, dan moet hulle praat en pleit en dan word dit eers herstel.

“Die vorige keer was wyle Jolidee Matongo, die vorige burgemeester van die stad, hier om ons te verseker dat sekuriteit verskaf en die infrastruktuur beskerm sal word.

“Blykbaar is dit City Power se werk om krag tot by die mark te verskaf, maar as daar ‘n probleem ontstaan, sukkel die markowerheid om antwoorde uit hulle te kry, of hulle trek net hul skouers op,” sê Hooghiemstra.

Die mark het opwekkers wat krag aan die rekenaarstelsels en verkoopslokale voorsien sodat markaktiwiteite kan voortgaan. Dié kragopwekkers word snags afgeskakel en agente moet hul eie kragopwekkers gebruik vir beligting. Dit het ernstige veiligheidsgevolge, aangesien dit gevaarlik is om in die donker te werk en ʼn risiko vir werknemers inhou.

Volgens Hooghiemstra was dit veral die piesangs wat baie swaar gekry het. “Dié vrugte ondergaan ‘n delikate kouebehandelingsprogram wat met temperatuursiklusse en ‘n induksieproses met etileengas, gepaard gaan en dit was nie moontlik nie.

Verder word alle produkte benadeel, maar dit is veral die bessies, appels en sitrus wat swaarder kry tydens kragonderbrekings.

“Die probleem kan veroorsaak dat boere hul produkte na ander markte stuur. Die hele stelsel is kommissiegedrewe en die agente moet produkte inkry om ʼn inkomste te verdien.”

In ʼn desperate poging is Agri SA genader om in te gryp. “Dit is onaanvaarbaar vir ʼn mark wat daagliks landbouprodukte aan 15 miljoen mense lewer,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Agri SA het tydens die onderbreking ʼn beroep op die burgemeester en stadsraad van Johannesburg gedoen om alles in hul vermoë te doen om kragvoorsiening aan die mark te herstel. Daarbenewens moet die nodige sekuriteitsmaatreëls ingestel wees om voortaan diefstal van elektriese kabels te voorkom.”

Die waarde van voorraad in die koelkamers word geraam op tussen R30 miljoen en R61 miljoen.

“Die munisipaliteit kry ongelooflik baie geld en kry vyf persent wat die markagente genereer, wat op R450 miljoen per jaar uitwerk.”

Die krag is tweeuur Vrydagmiddag aangeskakel en die mark het bevestig dat dit nog hou.

Hooghiemstra sê die presiese skade wat gely is, moet nog beraam word, maar die uitwerking gaan eers ná ʼn paar dae gesien kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Dit bekend en gegewe dat kabeldiefstal elke 3 maande voorkom. Kan doe metro/polisie dan nie die kriminele voorle en vang nie?

Genis

Want hulle sal eerder mense aftrek en intimideer vir Kersfees geld….

Mariana

Skaf maar groter en meer opwekkers aan. Die kragprobleme gaan nie ophou nie. SA deurtrek van skelms

Diline

Tipies nes ANC regerings is – LEE beloftes, gee nie ‘n duit om hoe besighede daaronder ly nie – te besig met korrupsie. Solank hierdie spul aan bewind is, sien ek nooit enige vooruitsigte vir hierdie land nie, dis net afdraande pad tot dit totaal en al verwoes is.

Pieter

Slegter as julle anc gemors kan n mens nie kry nie.