Vas sonder rybewys? Dis onwettig, sê DA

Argieffoto

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het gesê dit is onwettig vir polisiebeamptes om motoriste in hegtenis te neem vir oortredings soos byvoorbeeld om sonder ʼn rybewys te ry of om nie ʼn veiligheidsgordel te dra nie.

Manny de Freitas, DA-LP en skaduminister van vervoer, het gesê die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het motoriste en padgebruikers met inhegtenisnemings gedreig vir oortredings waar die wet dit nie toelaat nie.

Hy het gesê hierdie tipe optrede is “boelietaktiek” om te versteek dat daar nie behoorlike beplanning gedoen is om padsterftes hierdie feesseisoen te verhoed nie.

“Verkeersbeamptes wat oor baie beperkte inhegtenisnemingsmagte beskik, en nie iemand sonder ʼn lasbrief in hegtenis mag neem nie, skep ʼn nuwe stel probleme waar siviele eise moontlik teen die owerhede ingestel kan word vir ongemagtigde inhegtenisnemings,” het De Freitas gesê.

Hy het gesê in plaas daarvan dat die RTMC ʼn behoorlike padveiligheidsveldtog gekoördineer het, word die publiek met inhegtenisneming gedreig.

Die DA gaan glo enige ongemagtigde en onwettige inhegtenisnemings identifiseer en sal vervoerminister Dipuo Peters in die parlement aanspreeklik hou vir stappe wat tydens die feesgety buite die wet gedoen is.

Meer as 700 mense is reeds sedert die begin van Desember op die land se paaie dood.

Die DA het aangedui dat slegs sekere oortredings volgens AARTO-regulasies as kriminele aktiwiteit beskou kan word en gevolglik tot inhegtenisneming kan lei. Dit sluit die volgende in:

– Om ʼn voertuig te bestuur onder die invloed van alkohol of dwelmmiddel wat ʼn narkotiese invloed het
– Om in die bestuursitplek van ʼn motor te sit terwyl die enjin luier en onder die invloed van alkohol of dwelmmiddel te wees wat ʼn narkotiese effek het
– Om ʼn voertuig roekeloos te bestuur
– Om vinniger as 100 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 60 km/h is (stedelike pad)
– Om vinniger as 160 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 120 km/h is (snelweg)
– Om vinniger as 140 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 100 km/h is (landelike pad)
– Om vinniger as 140 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 100 km/h is soos aangedui op die voorgestelde manier op ʼn padverkeersteken
– Om vinniger as 160 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 120 km/h is soos aangedui op die voorgestelde manier op ʼn padverkeersteken
– Om vinniger as 80 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 40 km/h is soos aangedui op die voorgestelde manier op ʼn padverkeersteken
– Om vinniger as 100 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 60 km/h is soos aangedui op die voorgestelde manier op ʼn padverkeersteken
– Om vinniger as 120 km/h te ry in ʼn gebied waar die algemene spoedbeperking 80 km/h is soos aangedui op die voorgestelde manier op ʼn padverkeersteken

“Enige ander oortreding waarvoor ʼn motoris in hegtenis geneem word onder die RTMC kan beskou word as buite die beperkings van die wet en is ʼn bekentenis van versuim deur die RTMC,” het De Freitas bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert Brand

Ek wonder oor die DA se motiewe. Hulle moedig wetteloosheid aan. Pleks vir strenger toepassing bevraagteken hulle die wetstoepassers se stappe.

Wikus

Weet julle ek lees Maroela elkw dag al wat jy lees is noord roof en verkragting. Wat se land leef ons in. Geen wonder my kinders het almal die pad gevat nie. Our beloverd country.

Griki

Indien iemand nie kan bewys dat hy sy nie oor ‘n geldige bestuurslisensie beskik nie, moet daardie persoon van die pad gehaal word totdat hy/sy dit wel kan bewys. Volgens wet is ons verplig om ons lisensies by ons te hê wanneer ons bestuur. Wat betref veiligheidsgordels, moet die wet gewysig word om voorsiening te maak daarvoor. Mense wat nie veiligheidsgordels dra nie stel andere ook in gevaar omdat hulle beheer kan verloor oor ‘n motor wat in ‘n ongeluk betrokke is. En sterftes wat voorkom kan word deur veiligheidsgordels kos die belastingbetaler jaarliks derduisende rande. Hoe moeilik is dit… Lees meer »

Dee

Ek wonder oor Robert Brand se motiewe. Hoe op aarde kan ‘n bestuurder in hegtenis geneem word wanneer daar nie ‘n veiligheidsgordel gedra word nie? Dit is wel dom om sonder ‘n veiligheidsgordel te ry maar dit verander nie die feit dat so ‘n bestuurder slegs sy eie lewe in gevaar stel en sy liggaam behoort nie aan die staat nie. Dit behoort dus in werklikheid nie eens beboetbaar te wees nie. Die enigste skade wat daar vir die staat kan wees is toekomstige belastings wat so een dalk nie meer sal kan betaal nie. Dit is absoluut kommunisties van… Lees meer »

WK

Dit is goed dat die publiek teen moontlike magsmisbruik vanaf die kant van die gereg beskerm word. Gesonde verstand en wedersydse respek is altyd ‘n goeie ding.