Vasbeslote Steyn voltooi skooljaar

Steyn Steenberg (Foto: Verskaf)

Steyn Steenberg wat vroeër vanjaar sy been in ’n ernstige motorfietsongeluk verloor het, het ondanks dié trauma sy gr. 10-skooljaar by Hoërskool Garsfontein in Pretoria geslaag.

Dít was egter nie maklik nie, vertel hy nou.

Steyn (16) het in Julie vanjaar, sowat twee maande ná die ongeluk op Moedersdag wat byna sy lewe geëis het, teruggekeer skool toe.

“Dit was ’n baie groot aanpassing. Ek het toe nog baie gesukkel om te loop en moes ekstra klasse neem om die skoolwerk op te vang,” verduidelik hy.

Steyn vertel dat sy lewe voor die ongeluk drasties anders was. Die daaglikse dinge van ’n tiener verg nou baie meer moeite. “Voorheen sou ek by my vriende kuier en oorslaap, maar nou raak my been seer. Dit is ook ’n storie om my prostese aan en uit te trek.”

Steyn was ook voor die ongeluk ’n kranige rugby- en krieketspeler. Tog het Steyn nie in sak en as gaan sit soos ʼn mens sou verwag nie en het hy sedertdien swem as buitemuurse aktiwiteit aangepak.

Hy ry ook nie meer motorfiets nie. “Ek beleef baie angs op ’n motorfiets,” bieg hy.

“Ek het regtig baie van myself geleer. Ek het in ’n mate myself gevind en my persoonlikheid en gemoed is eintlik beter as voor die ongeluk. Dit klink nou erg om dit te sê, maar die ongeluk was in ’n mate ’n goeie ding.”

Maroela Media het vroeër berig Steyn het sowat ʼn kilometer van sy ouerhuis met sy motorfiets teen ʼn staalversperring gebots. Al drie die hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny. Sy beserings was van só ʼn aard dat dokters tussen sy lewe en sy been moes kies. Sy been is gevolglik geamputeer.

Steyn Steenberg terug by die skool. (Foto: Verskaf)

Sy longe het ook kort ná die ongeluk platgeval en sy bekkenbeen is in die ongeluk gebreek. Hy is dae lank onder verdowing gehou voordat hy stadig maar seker van die verdowing gespeen kon word.

Steyn het ná die ongeluk gesukkel om te sluk of te praat weens moontlike ligte beroertes wat hy in twee gedeeltes van sy brein opgedoen het. Die beroertes het waarskynlik plaasgevind toe Steyn ná die ongeluk in die hospitaal opgeneem is en deur dokters bygebring moes word omdat hy weens bloedverlies sy bewussyn verloor het.

Steyn se spraak het egter intussen baie verbeter met behulp van spraakterapie. Dié tiener ontvang ook fisioterapie en het in Oktober vanjaar ’n operasie ondergaan om verdikte weefsel uit sy geamputeerde been te verwyder wat beteken dat hy baie minder pyn beleef wanneer hy met sy prostese loop.

Hy sukkel wel nog met sy sig aan die linkerkant van albei oë. Sy ouers, Jacques en Christa, samel geld in vir die behandeling van sy sig en ’n beter prostese.

“Ek word wel baie gefrustreerd wanneer ek soos ná die operasie met krukke moet loop en nie veel vir myself kan doen nie. Ek mis my onafhanklikheid.”

Steyn se pa, wat die pad van herstel saam sy seun gestap het, kan kwalik meer trots op hom wees.

Steyn Steenberg ná die ongeluk in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Toe Steyn ná die ongeluk in rehabilitasie was, is daar vir ons gesê dat hy kognitiewe skade opgedoen het en moontlik nie die jaar sou kon teruggaan skool toe nie. Dié nuus het Steyn baie ontstel want hy het gevoel hoewel hy sukkel om te praat en sien was daar nie fout met sy denkvermoë nie.

“Ons glo dís waar hy besluit het dat hy ʼn punt het om te bewys. Daar is vir ons gesê hy moet oorweeg om sy jaar oor te doen maar hy wou niks weet nie,” vertel Jacques.

Hy verduidelik dat Steyn in die laaste twee kwartale 63 uit 100 dae afwesig was. Daar was ook baie dae wat hy net halfdag by die skool was. “In ons oë is dit ʼn besonderse prestasie vir enige kind wat so baie werk gemis het, wat nog te sê van ʼn kind met sy uitdagings. Trotser ouers kan ons nie wees nie!”

Besoek die Facebook-blad “Steyn se storie” om sy vordering te volg of ʼn bydrae tot die insamelingsprojek te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oujongvrou ·

Wel gedaan Steyn. Jou ouers het rede om trots te wees, maar ek dink jy is veral trots op jouself. Dit wys van watter stoffasie jy gemaak is.

Arno Scheepers ·

Steyn Steenberg, jy is n YSTER jongman. Hoeveel van ons sal gaan lê het?
Sterkte met die pad vorentoe.

Kobus ·

Jy kan met reg trots wees. Sterkte vir jou skool loopbaan vorentoe en Gods Rykste seën word jou toegewens

elmarie lategan ·

net bewondering vir jou. wat n verskriklike pyn in jou binneste om aan te hou veg teen die onregverdigheid van die lewe. jy het n sterk karakter en hoop jy sal net die beste daarvan maak. onthou jy mag ook maar huil en kwaad wees alles deel van genesing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.