‘Vasgevang in my eie liggaam’

Marlene Taylor (Foto: Facebook)

“Dit voel asof jy vasgevang is in jou eie liggaam.”

Só verduidelik Marlene Taylor (23) van Vanderbijlpark die gevoel nadat sy reeds die afgelope drie maande daagliks ondraagbare pyn verduur weens nierstene in haar niere en ureters.

Dié nierstene moet so gou moontlik deur middel van ’n laserprosedure verwyder word – ’n prosedure wat duisende rande beloop.

Taylor, onderwysstudent op die Vaal-kampus van die Noordwes-Universiteit, behoort egter nie aan ’n mediese fonds nie en is telkemale by ’n staatshospitaal weggewys.

“Hoe langer ek wag, hoe meer skade aan die niere. Ek kan my niere verloor,” sê sy nou.

Taylor sê sy het op 9 Julie vanjaar skielik siek geword en ’n dokter besoek. “Ek het vreeslik pyn gehad. Ek kon die dag nie eens aantrek om dokter toe gaan nie. Ek kon amper nie loop nie.”

Daar is aanvanklik vermoed dat Taylor bloot nierinfeksie opgedoen het en sy is met antibiotika huis toe gestuur. Sy het egter dae later steeds van ondraaglike pyn gekla en is na die Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark gehaas.

Daar het ’n sonar en skandering bevestig dat drie nierstene en twee kalsifiserings die pyn veroorsaak.

Die grootste niersteen, in haar linkernier, is sowat 7 mm groot, terwyl die ander twee nierstene in haar regterureter (’n buis vanaf die nier tot by die blaas) opgemerk is. Dié nierstene verhoed dat haar niere kan dreineer, verduidelik Taylor.

“Die twee in die ureter is die grootste probleem aangesien die urine nie na die blaas kan beweeg nie. Dit beteken dat my nier en die ureter opswel en moontlik kan bars.”

Marlene Taylor (Foto: Verskaf)

Die dokters het aangedui dat ’n stent onmiddellik in elke ureter geplaas moet word en weldoeners het geld geskenk vir dié noodoperasie.

Weens ’n gebrek aan geld – sowat R95 000 word benodig – kon die nierstene egter nie verwyder word tydens ’n prosedure genaamd litotripsie (’n tegniek waardeur nierstene afgebreek word) nie.

Taylor is intussen al drie keer na ’n staatshospitaal in die hoop dat die prosedure by dié hospitaal gedoen kan word. Sy word egter elke keer te midde van die Covid-19-pandemie weggewys en gevra om die volgende maand terug te kom. Daar is in dié stadium egter steeds geen duidelikheid oor wanneer die operasie gedoen sal kan word nie.

Dít terwyl Taylor se niere elke dag meer skade ly.

“Die stents veroorsaak baie bloeding en infeksie wat my niere beskadig. Ek drink antibiotika vir die infeksie, maar dit plaas weer druk op my niere. Ek kan ook weerstandig raak teen die antibiotika.”

Sy sê dat sy intussen aan haar bed vasgekluister is hoewel sy elke 30 minute ’n draai moet loop.

“Die oggende is die ergste. Ek ervaar baie angs. [Die siekte] het my swottings ook baie beïnvloed. Ek hou net-net by. Om drie maande lank daagliks pyn te hê, te stres en moedeloos te wees … Dit is vreesaanjaend.”

’n Geldinsameling word nou gehou om Taylor se behandeling te help dek.

Besoek dié Facebookblad vir meer inligting oor Taylor se stryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Dit is verregaande! Daar word dan gese die hospitale het nooit eers rerig kapasiteit bereik weens Covid nie, en dat sommige nood-hospitale op die ou end onnodig en teen groot koste opgerig is. Waarom kan die arme vrou nie gehelp word nie?

donsie

drink liters en liters cranberry juice dit het my pa se stene opgelos

piet-van-die-namib

Ek is nie ‘n mediese dokter nie. Warm fyn kaneel (een opghoopte teelepel) met heuning (desertlepel) en suurlemoensap (skeut) opgelos in warm water, breuk nierstene gou af. Ek het so nierstene en dis ‘n wonderlike mengsel wat help. Radyse saam met dit sal dit verder oplos.

Sarel

Hoe de joos kan iemand met nierstene deur ‘n Hospitaal weg gewys word? Pandemie se agterent.

Wolkie

Ek het ook nierstene gehad. AL wat myne opgelos het nadat ek ook ‘n stent gehad het, is aptekers glyserene en vars suurlemoensap (twee eetlepels van elk) in ‘n glas warm warm water, drie keer ‘n dag. Buscopan help vir die pyn, baie. maar probeer gerus die boereraat, dit het vir my gewerk ;-)