Vat so beurtkrag! Sonkrag verlig nou dié dorpe

Frankfort, Oos-Vrystaat, sonkragplaas, sonkrag, Eskom, Nersa, elektrisiteit, Vrystaat, Mafube-munisipaliteit

Só word daar son opgevang by die Frankfort-sonkragaanleg in die Oos-Vrystaat. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Vier dorpies in die Oos-Vrystaat is bitter naby daaraan om geheel en al sonder beurtkrag te wees, danksy samewerking tussen die gemeenskap en die private energieverspreider Rural Free State (RFS).

Drie sonplase, met ʼn opwekkingskapasiteit van tussen 480 KVA en 4 200 KVA verskaf nou krag aan Frankfort, Villiers en Tweeling.

Dele van Frankfort het sedert 7 November en 1 Maart net een dag beurtkrag gehad.

“Die uitwerking op veral kleiner ondernemings is enorm en hulle kan weer volstoom werk,” sê Jacques Jansen van Vuuren, bestuurder van die Mafube-sakeforum wat by die projek betrokke is.

‘Ons sal self’

Inwoners vertel dat Frankfort se kragverspreidingsnetwerk in 2012 letterlik aan flarde gehang het.

Volgens Hans Pretorius, voorsitter van die Mafube First-gemeenskapsorganisasie, wat geregistreer is om aan plaaslike verkiesings deel te neem, het gelaaide kragdrade op die grond gelê.

“Nie net was ons kragnetwerk lewensgevaarlik nie, maar ons moes ook dae aaneen sonder enige elektrisiteit klaarkom,” sê Pretorius.

Boonop het die munisipaliteit se skuld by Eskom so opgehoop dat die nasionale kragvoorsiener glad nie meer elektrisiteit aan die dorp wou voorsien nie.

Frankfort, Oos-Vrystaat, sonkragplaas, sonkrag, Eskom, Nersa, elektrisiteit, Vrystaat, Mafube-munisipaliteit

Die kantore van die Mafube-munisipaliteit in Frankfort. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Rural Free State, ʼn private maatskappy, het toe ingegryp en in 2012 ingevolge ʼn 25-jaar-kontrak elektrisiteitsbestuur by die Mafube-munisipaliteit oorgeneem. Mafube sluit die dorpe Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia in.

Volgens Gouws Marais, RFS-projekbestuurder, het die maatskappy sedertdien sowat R120 miljoen bestee om kragverspreidingsnetwerke reg te ruk en ʼn verdere R3,2 miljoen opgedok om hul kantore, wat reg langs die dorp se Eskom-substasie geleë is, te bou. Hierdie gebou sal ná verstryking van die kontrak aan die munisipaliteit oorhandig word. Tantieme vir die gebruik van die verspreidingsnetwerk word ook aan die munisipaliteit betaal en tot op hede is meer as R25 miljoen al oorbetaal.

Die maatskappy kon dit oor die jare regkry om die verliese aan elektrisiteit, hetsy deur wanbetaling, diefstal of tegniese verliese, van ongeveer 50% tot 5% te verminder.

Boonop het RFS kragskuld begin invorder en handhaaf die maatskappy ʼn betalingskoers van meer as 95%. Dít ten spyte van groot armoede onder talle inwoners.

Volgens Gouws het RFS sowat 14 personeellede by die munisipaliteit se elektrisiteitsdepartement oorgeneem en deesdae word meer as 40 permanente werkers deur die maatskappy in diens geneem.

Ondanks hierdie oorwinnings het dit in 2017 duidelik geword dat beurtkrag ʼn permanente kopseer gaan bly.

Boere en sake-eienaars het RFS genader om sonkragplase in Frankfort, Tweeling en Villiers op te rig.

Dié vennootskap het tot die ontstaan van FF Renewables (FFR) gelei, ʼn privaat maatskappy met aandeelhouers uit die plaaslike gemeenskap wat die drie sonkragplase opgerig het. RFS koop sonkrag van FFR teen tariewe wat deur Nersa goedgekeur is.

Frankfort, Oos-Vrystaat, sonkragplaas, sonkrag, Eskom, Nersa, elektrisiteit, Vrystaat, Mafube-munisipaliteit

Een van die selle binne die battery by die Frankfort-sonkragplaas in die Oos-Vrystaat. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Saam lewer die plase sowat 5 720 KW krag.

RFS maak ook gebruik van “ontplooibare energie”. Dit is energiebronne wat nié van Eskom afkomstig is nie en wat op aanvraag gebruik word om kragtekorte aan te vul, soos tydens beurtkrag. Tans vul RFS die tekort aan met ʼn kombinasie van elektrisiteit wat hy deur sonkrag opwek en in batterye stoor, asook krag wat deur dieselkragopwekkers opgewek word.

In Februarie 2023 het RFS met Eskom ooreengekom om self beurtkrag in Frankfort en later ook  Villiers toe te pas. RFS mag onder geen omstandighede meer of minder beurtkrag toepas as wat deur Eskom ingestel word nie.

“Sedertdien word al die rioolsuiweringswerke en waterpompe konstant van krag voorsien. Daar is ook baie minder diefstal van infrastruktuur, omdat daar deurlopend kragtoevoer is,” sê Gouws.

Wat die algehele beëindiging van beurtkrag betref, het RFS met ʼn oefenlopie in Frankfort se sakegebied begin om sekere verbruikers stelselmatig van beurtkrag te verlos. Toe die proeflopie suksesvol was, het RFS dit na ander dele van die dorp, hoofsaaklik woongebiede, uitgebrei. RFS is vol moed dat die hele Frankfort teen die einde van die jaar beurtkragvry kan wees en sal dit ook verder in Villiers, Tweeling en Cornelia uitrol.

Heidi du Plooy, jare lange inwoner en eienaar van Von Krotz Kennels in Frankfort, is vol vertroue dat RFS sy belofte sal nakom.

“As dit nie vir RFS was nie, sou hierdie dorp van ons jare terug al ophou sake bedryf het. Hulle is die rede hoekom ons nog hoë eiendomswaarde het en aanhoudende dienslewering het wat krag betref,” sê Du Plooy.

‘n Raakvatter van Frankfort praat op kongres – NAMPOPARKDie voorsitter van Mafube Besigheidsforum (MBF), Jannie…

Posted by Mafube Business Forum on Thursday, February 22, 2024

Jannie Schabort, Mafube-sakeforum, hoop op sy beurt dat RFS se planne ʼn voorbeeld kan word vir ander dorpe om self in hul krag te voorsien.

“As ons hier wen, sal dit ʼn wen vir Suid-Afrika wees.

  • Nog die Mafube-munisiapliteit of sy munisipale bestuurder het op enige versoeke om kommentaar reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marina ·

Dit is fantasties maar wat het dan in Vredeford verkeerd geloop dat daai sonplaas vernietig is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.