‘Vat stakers vas,’ pleit inwoners

Betogers het Woensdag voor die munisipaliteit se kantoor saamgedrom. (Foto: Nico Denner)

Inwoners van Middelburg is vuisvoos omdat hulle meen die dorp gyselaar gehou word deur stakende munisipale werkers, en wetsgehoorsame burgers vir die gelag moet betaal.

Inwoners kla oor die agteruitgang van dienslewering sedert munisipale werkers aan die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit sowat ʼn jaar gelede sporadies begin staak het en in die proses die dorp se bedrywighede en dienslewering ontwrig.

Hulle is boonop bang dat beloofde salarisverhogings aan munisipale werkers uit belastingbetalers se sakke gaan moet kom.

Terwyl samesprekings tussen die munisipaliteit se bestuur en die betrokke werknemers se vakbonde onderweg is, vra inwoners nou: “Wat van ons?”.

“Die dorp word gyselaar gehou omdat werkers ʼn loongeskil het met hul werkgewers,” het Marius Potgieter, inwoner en omroeper by die plaaslike radiostasie Kosmos FM, aan Maroela Media gesê.

“Die stakende werkers vaar gedurig die strate in en ontwrig die dorp se bedrywighede, soveel so dat skole nie kan verdaag nie, besighede moet sluit, enigiemand wat verby loop met ʼn klip bygekom word, asblikke omgekeer en gebrand word en vullis die wêreld vol gestrooi word.

“Daar moet daadwerklik teen die mense opgetree word, nie met hul vergader word nie.”

Betogings die afgelope week het daartoe gelei dat sekerheidswagte een betoger doodgeskiet en drie ander gewond het. Volgens inwoners was daar reeds weer Woensdag ʼn samedromming voor die munisipale kantore gewees.

Rommel is voor die munisipaliteit se kantoor gestrooi. (Foto: Nico Denner)

Een van die betogers se hoofeise is dat ʼn hoër gradering van die munisipaliteit bewillig word om sodoende hoër salarisse vir sy werkers te verseker.

Hennie Niemann, ʼn plaaslike DA-raadslid, het aan Maroela Media gesê dat Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se afvaardiging saam met die munisipale bestuur en die vakbonde ooreengekom het om ʼn opgradering van graad 4 tot graad 5 te bewillig.

“ʼn Finansiële verslag moet daarvolgens eers aan die raad voorgelê word wat hierdie gradering moet oorweeg en goedkeur,” sê hy.

Dit is egter nog nie duidelik of finale goedkeuring wel sal geskied nie.

Indien die opgradering goedgekeur word, sal ʼn paar honderdduisendrand per maand nodig wees om munisipale werkers se salarisverhogings te dek.

Inwoners is bekommerd dat dié reusebedrag uit hul sakke sal moet kom.

“Waar gaan die eise stop? Ons hele dorp gaan lamgelê word. Die jongste ooreenkoms is reeds nie genoeg vir die betogers nie, want steeds bly hulle weg van die werk af en hou aan amok maak,” sê Potgieter.

“Ons is moeg daarvoor dat daar met betogers onderhandel word en die gemeenskap nie eens geraadpleeg word oor die situasie nie.”

ʼn Petisie is Dinsdagaand van stapel gestuur om betalende burgers se griewe oor die stand van sake onder die munisipaliteit se aandag te bring. Teen Woensdagmiddag het die petisie reeds amper 200 handtekeninge gehad.

“Dit kan nie langer so aangaan dat wetsgehoorsame burgers onder die chaos ly nie”.

Inwoners eis onder andere dat die munisipaliteit verantwoording doen vir die gebeure tot dusver en die geld wat inwoners moes opdok vir die “skrapse dienste” wat gelewer is.

Nico Denner, ʼn inwoner op die dorp, sê hy voel totaal en al magteloos omdat hy voortgaan om vir rommelverwydering deur die munisipaliteit te betaal, maar dit nooit gebeur nie. Hy, en talle ander, moet boonop ekstra opdok vir onafhanklike vullisverwyderaars om sy rommel te verwyder.

“Van hierdie eksterne vullisverwyderaars is al deur stakers geïntimideer en weier ook al om hul werk te doen,” sê hy.

Inwoners voer ook aan dat ʼn aantal buurte op die dorp al maande lank sporadiese krag- en wateronderbrekings het, wat dikwels ure lank duur.

“Die algehele verval is skrikwekkend.”

Die meeste inwoners voel boonop onveilig omdat betogers enige oomblik die strate kan invaar.

Dit is nog nie duidelik wanneer die sogenaamde beleg op Middelburg tot ʼn einde sal kom nie, maar volgens die munisipaliteit duur die samesprekings met die vakbonde voort en hoop hy vir ʼn gunstige uitkoms.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. -RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Perdeby ·

Die inwoners moet net eenvoudig die stadsraad dagvaar, want hulle betaal vir hierdie dienste. So paar duisend dagvaardigings sal dalk vir hulle ‘n op ruk uit die dood wees, en begin by kom

Nico ·

Ons eis dat hulle ons rekeninge krediteur vir die dienste wat nie gelwer word nie. Sal egter sien of dit ooit sal gebeur, want al die geld gaan na die stakers toe! Teken ons petisie en help.

Henri ·

‘n Vakbonder het eenvoudig geen trots en geen skaamte nie. Geen trots op sy werk en geen skaamte vir sy luiheid.

Rocco ·

Die fotos vertel die verhaal. Skokkend dat menseregte so misbruik word, om die land lam te lê

Jack ·

Ja so gaan dit.Ek dink die mense van Middelburg moet saamkom en ‘n memorandum rig aan die munisipaliteit dat daar NIE met die werkers onderhandel moet word nie.Die ouens gaan nou soveel versoeke hê vanaf salaris tot bonus ens en iemand gaan moet betaal daarvoor.Wat moes gebeur het is eenvoudig.Al die werkers moes afgedank gewees het.Nuwe ywerige werkers moes aangestel gewees het.Mense van Middelburg Staan saam en gee die munisipaliteit hel.

Anel ·

Jack, hier stem en 100% met jou saam. Ons was een ,indien nie enigste land, wat nie vakbonde toe gelaat het nie. Die gevolg was GEEN stakings! Alles get vlot gewerk! Dank die stakers af. Ek glo daar is baie werkloses wat oogtande sal gee vir werk.

Kokerboom ·

Dagvaar die Staatspresident en sy nuttelose minister asook LUR
Solidariteit HELP ASB!

Sunell ·

Hulle staak al so vanaf verlede jaar September en ons as inwoners se regte word nie geken nie. Elke keer word aan hulle eise voldoen. Kyk tot watbis hulle instaat. Daar is baie werklose mense wat die werk kan doen omdat hulle wil werk. Inwoners moet net stilbly en betaal. Geen regte nie. Dis onaanvaarbaar. Ek dink in enige ander werkplek sal jy sekerlik afgedank word. Hulle eise is onrealisties

Manie ·

Dis hoe Afrika leef en lyk, dit mag mos nie anders wees hier nie.

Anel ·

En wie moet vir die skade betaal? Wat ‘n skande!!! Sterkte aan die mense!

Jacobus ·

Vakbonde is ANC se vernaamste stemme en ondersteuners, teen hulle mag nie opgetree word nie. Hou op om aan die munisipaliteit te betaal, daar sal gou belangstelling kom van mense, wat van die dienste kan lewer, teen laer tariewe.
Ons word deur die ANC en sy vakbonde gyselaar gehou, en as almal net bly betaal en ja en amen op alles, dan moet ons maar die verval aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.