Vavi kan dalk weer geskors word

Zwelinzima Vavi Foto: Werner Beukes, SAPA

Zwelinzima Vavi Foto: Werner Beukes, SAPA

Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, gaan Dinsdag moontlik weer tydens ʼn spesiale vergadering van die uitvoerende komitee geskors word.

City Press het Sondag berig dat bronne in Cosatu aan die koerant gesê het dit is “onafwendbaar” dat Vavi weer geskors sal word.

Vavi is vroeër uit die vakbondfederasie geskors nadat hy ʼn verhouding aangeknoop het met ʼn junior werknemer. Hy is in Augustus 2013 op spesiale verlof geplaas hangende die uitslag van ʼn tugverhoor wat met die verhouding verband hou. Hy het op 7 April vanjaar teruggekeer werk toe, ná ʼn hofbeslissing wat sy skorsing omgekeer het.

Daar was ook gerugte oor ʼn skeuring tussen Cosatu en sy grootste filiaal, die National Union of Metalworkers of SA (Numsa). Numsa en Cosatu is haaks sedert Vavi se skorsing. Dit het gevolg nadat ʼn vrou aangevoer het Vavi het haar by die werk verkrag. Sy het dit nie by die polisie aangemeld nie. Vavi het aangevoer hulle het ʼn buite-egtelike verhouding gehad.

Numsa was ʼn vurige Vavi-ondersteuner tydens sy skorsing en het met regstappe teen die vakbondfederasie begin waarin hulle geëis het dat hy weer aangestel moet word. Numsa was een van die vakbonde wat ʼn spesiale Cosatu-kongres versoek het, waartydens hulle wou hê nuwe leierskap moet aangestel word.

Numsa het in Desember tydens ʼn spesiale kongres ook die besluit geneem om nie die ANC tydens die algemene verkiesing te ondersteun nie, ondanks die feit dat die vakbond ʼn filiaal is van Cosatu, ʼn alliansievennoot van die regerende party.

ʼn ANC-taakspan is in April saamgestel om te help om probleme binne Cosatu op te los.

Net nadat Vavi in April teruggekeer het werk toe, is ʼn spesiale vergadering van die uitvoerende komitee gehou waartydens die taakspan ʼn ooreenkoms tussen Cosatu, Vavi en sommige filiale bewerkstellig het.

Die City Press het egter berig dat die taakspan na verwagting vandeesweek aan Cosatu gaan bekend maak dat hy nie die dispuut kon oplos nie. ʼn Skeuring sal dan onvermydelik wees.

Patrick Craven, woordvoerder vir Cosatu, het Maandag ondanks die gerugte, gesê daar is twee items op die agenda vir vandeesweek se vergadering. Die vergadering sal na verwagting die ANC-taakspan se verslag ontvang en Vavi se voorlopige sekretariaat-verslag. Vavi se verslag sal aan die komitee oorhandig word en dit sal na verwagting in November tydens die beleidshersieningsvergadering bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.