Zwelinzima Vavi, Cosatu se sekretaris-generaal, word Maandag in sy amp herstel nadat die hooggeregshof in Johannesburg sy skorsing ter syde gestel het.
Vavi is verlede jaar in Augustus op “spesiale verlof” geplaas hangende die uitkoms van ʼn tugverhoor weens ʼn verhouding wat hy met ʼn vroulike werknemer gehad het.
Nadat Vavi geskors is, het Numsa, een van sy bondgenote, ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien om die besluit teen te staan.
Cosatu is ná die besluit in twee gedeel deur affiliasies wat Vavi ondersteun, en die wat die vakverbond ondersteun. Nege Cosatu-affiliasies staan gereed om Vavi vandag by Cosatu-huis te verwelkom.
Dit het egter Sondag tydens ʼn raadvergadering van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) in Durban aan die lig gekom dat Vavi weer geskors kan word. “Ons sal Dinsdag die tugstappe teen Vavi hervat,” het Karl Cloete, Numsa se adjunkpresident, tydens die vergadering gesê.
Hy het ook gesê die huidige ampsdraers van Cosatu moet aanspreeklik gehou word vir die vermorsing van ledegeld vir die duur regskoste vir Vavi se hofgeding. – SAPA