Vavi se webwerf bevat “feite” oor skorsing

Zwelinzima Vavi Foto: vivavavi.com

Zwelinzima Vavi Foto: vivavavi.com

Zwelinzima Vavi, geskorste hoof van Cosatu, het Vrydag ʼn webwerf, Viva Vavi, bekend gestel wat glo al die “feite” oor sy “onwettige” skorsing uit die vakbondfederasie bevat.

“Ons het ʼn webwerf saamgestel om seker te maak dat die publiek al die feite oor die verlamming in Cosatu het, wat homself manifesteer in die voortgesette skorsing van kameraad Vavi uit sy verkose posisie as uitvoerende hoof,” het John Dludlu, woordvoerder vir Vavi, in ʼn verklaring gesê. “Die afgelope paar weke was daar ʼn toename in die kwaadwillige veldtog om hom te diskrediteer.”

Hy sê die webwerf is daarop gemik om die publiek en die media die geleentheid te bied om oor al die feite te beskik van Vavi se kant van die saak. Die webwerf bevat dokumente, toesprake, persverklarings en foto’s van Vavi en nege ander lidorganisasies van Cosatu wat versoek dat hy weer aangestel word.

Vavi daag die vakbondfederasie volgende week in die Suid-Gautengse hooggeregshof oor sy skorsing.

Volgens Dludlu bevat die webwerf ook inligting wat verband hou met besonderhede wat uitgelek het oor die verkope en aankope van Cosatu House.

Vavi is verlede jaar geskors nadat hy erken het dat hy ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn junior werknemer aangeknoop het. Sy het hom aanvanklik van verkragting beskuldig, maar nooit klagtes by die polisie gelê nie.

Klik hier om die webwerf te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.