VBS kan groot kopseer word vir ANC, Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (14 Maart 2018) Foto: GCIS

Die ineenstorting van die VBS Bank (die eertydse Venda Bouvereniging) gaan die meeste probleme vir die EFF veroorsaak, maar ook vir pres. Cyril Ramaphosa; en vir die ANC kan dit ʼn massiewe hoofpyn wees.

Die skandaal en die verlies of gedeeltelike verlies aan spaargeld van die armste inwoners in die armste provinsie verteenwoordig min of meer die ergste vrese van die plattelandse arm kiesers wie se stemme die ANC bitterlik nodig sal hê vir aanstaande jaar se verkiesing.

Boonop word bewerings nou gemaak dat Ramaphosa lank voor die tyd geweet het van die gemors by VBS Bank en tydens ʼn vergadering met iemand wat dit by hom aangemeld het toe hy nog adjunkpresident en leier van die ANC was, onderneem het om op te tree, maar niks gedoen het tydens die Zuma-bewind nie.

Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, ontken tans dat hulle ʼn amptelike rekord van so ʼn ontmoeting het, maar haar verontskuldiging vul geen gaatjies nie, want nie alle ontmoetings is amptelik nie.

Die bewerings oor Ramaphosa strook met die DA se weergawe dat Ramaphosa ʼn gewillige medereisiger was wat niks gedoen het om die vergrype van die Zuma-era te verhoed nie, en dat die deler so goed as die steler is.

Mmusi Maimane. Foto: ANA

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het dan ook reeds aangedui dat hy Ramaphosa daaroor gaan vaspen tydens die volgende parlementêre vraesessie.

Daarby sit die ANC in Limpopo in die onbenydenswaardige situasie dat verskeie van sy provinsiale top-leiers, insluitend die provinsiale tesourier, regstreeks geïmpliseer word as oortreders in die verslag.

Dat die ANC die krisis besef, blyk daaruit dat verskeie lede van die organisasie se nasionale uitvoerende komitee (NUK) reeds na Limpopo gestuur is om die krisis te probeer hanteer.

Dringende vergaderings word nou in Limpopo gehou om vas te stel wat presies gebeur het, wie skuldig is en watter optrede die ANC intern gaan volg.

Dat die skandaal juis nou rugbaar geword het, is spesifiek ongeleë vir Ramaphosa in die naweek waartydens hy, soos elders vandag in Maroela Media berig, op die voorvoet gaan in die verkiesingstryd in KwaZulu-Natal, net om in Limpopo op die agtervoet gedwing te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Daan Erasmus ·

As die President praat van “Our People” dan weet ons jy wat Maroela Media lees is UITGESLUIT. Die President is ‘n Venda. En die Venda Koning se woord is wet. As die President geweet het sou hy niks gedoen het nie.

Henry ·

Dankie Jan-Jan!
Beste brokkie nuus die afgelope weke!
Wil lyk asof MM se lesers so vuisvoos is, dat selfs hierdie stukkie goeie nuus geen aandag kry nie. Miskien het dit makliker geword om aan’t teem te gaan oor al die nonsens wat in hierdie droewe land plaasvind, as om bietjie asem te skep en met nuwe moed(?) die volgende terugslag af te weer.
Hoe ewwir, merci vir ‘a small mercy’
:-)

Dries ·

Absoluut waar grysburger!
Dit gaan my verstand te bowe dat mense betoog, afbrand en verwoes – in oenskynlike protes! Kom stemtyd, is hulle kruisies weer vir die bestaande amptenary…

IK ·

Dries, dit werk so: ‘Daar word gestem vir die party wat die bokkerop maak want dis húlle wat moet regmaak’.

Karoodonkie ·

Ai, hoe maak mens dat die massas verstaan dat hulle nie langer vir hierdie regering kan stem nie, want danksy die swak regering is ons mooi land aan skerwe. Is daar niemand wat slim genoeg is om die minder slimmes te help om ‘n kopskuif te maak nie. Hulle stel net in hulself en hulle sakke belang. Tog gee die massas hulle stemme vir hulle wat regtig nie omgee vir hulle nie. Armoede seëvier nog steeds. En daai selfde armes steun diegene wat hulle in die steek laat. Ek verstaan dit nie.

Arak ·

Ai, hierdie einste vraag het ek reeds 30 jaar gelede gevra, maar toe was die verskil net dat dit gehandel het oor … die NP.

Hein Huyser ·

Die grootste probleem is dat daar nie ordentlikke alternatiewe is om voor te stem nie. DA = ANC. Nie genoeg mense glo in ‘n Pastoor wat ‘n teen sy eie geloof optree nie. EFF is militant links. Die ander partye is tjoepstil en sonder duidelikke riglyne vir die massas en nie een van bg partye kan dié mense oortuig hulle hey skoon beamptes nie. Dus: hierdie is ‘n storm in ‘n teekoppie.
#SelfBeskikking is ons enigste veilige weg uit hierdie moeras.

Bekkie ·

Hein Huyser , daar is te veel intimidasie. Die mense word bang gemaak. Daar is baie wat ook kla oor die regering, maar niemand is bereid om hulle lewens in gevaar te sit nie. So die uiteinde is….. stem maar vir die korrupte party.

Onnie ·

Boontjie kry sy loontjie! Dis omdat Ramaphosa so skaamteloos vir die buiteland, en vir ons in sy early days toe hy nuut verkies was, gelieg het. Kry vi jo Rama! Zuma het beter gelieg as jy!

humor ·

Dat die oningeligte massas nog kan voort gaan om vir die korrupte regring te stem kan n mens nog verstaan, maar dat die regering nog kan dink dat hul bevoeg is om doetreffend te regeer gaan die verstand te bowe. Ek dink hul besef dit maar die beker om diep te kan skep ply net te aantreklik.

zis ·

Ja Mr. CR sal sy oë vinnig moet oopmaak,as ek hy is dan slaap ek nie meer in die nag nie,hy sal groot planne moet beraam om die land uit die gemors te kry,die strik word al nouer getrek.

Ontstoke ·

As dit enige ander lid van die samelewing was , was jy al gearesteer. Neem al die weelde terug verkoop dit sodat die mense hul geld kan kry. Hoe kan sulke mense nog hoë poste beklee in enige posisie.

Tik tok tik tok ·

Tik tok tik tok
Hoor julle dit ANC
tik tok tik tok hoor julle dit EFF
hellhole

Boer ·

Die Boer en sy roer word nooit moeg om te ploeg.Karring met n Boer se grond en jy speel met n bom se lont….

Alida ·

As hy oorsee so kon lieg oor die misdaad in SA wat keer hom om alles van VBS te ontken. Hy het ALLES geweet toe hy adj was. Sy turf sit saam met die EFF s’n. Dit is nou harde werk vir die DA en ander partye om saam te smelt en stemme te werf. Baie arm mense gaan hul geldjies verloor.

Nikita ·

Daarsy…I like….I like!! En so draai die ou grote wiel. Hulle speel mos met geld en dink dis waboomblare. Het n ronde tafel nodig om oor al daai dinge te gesels. As die stemmers van die cANCer en eff nie nou hulle oge oopmaak nie, wel…..n Vis vrot van sy kop af!

SjN ·

Die munisipaliteite kan nie eers hul maandelikse verpligtinge nakom nie, wat nog van geld gaan bele in die Venda bank, gunsloon is verseker betrokke, hoop dit word deeglik ondersoek.

bgj van der westhuizen ·

die arm mense soos dit gese word sal weer anc en eff stem wand die hoofman of koning besluit wie gestem word voor wie hom die meeste geld in die hand stom die meeste mense dink nie vir hulle self nie

Eugene Schoeman ·

As daar ooit n tyd was dat n opposisie party die boodskap by die ou garde op die platteland kry dan is dit nou want dit is die deel van die bevolking wat ANC stem.

Kwessies soos die VSB Bank skandaal , die hoe lewenskoste , swak mediese sorg , die petrol prys , swak onderwys , onrus in die land moet aan die sektor uitgelig word in hulle moedertaal om te wys om vir die ANC te stem fataal is.
As die boodskap daar duidelik oorgedra word kan die bordjies verhang word weg van die ANC af !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.