VBS-skandaal: Munisipale bestuurder in hof

hof-hamer

(Argieffoto)

Die voormalige bestuurder van die Mahikeng-munisipaliteit wat glo ʼn aandeel daarin gehad het om miljoene van die munisipaliteit se geld in die VBS Mutual Bank te belê en vergoeding daarvoor te ontvang, se saak is tot vroeg volgende jaar uitgestel.

Thabo Isaac Mokoena (61) het Dinsdag in die Molopo-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê Mokoena was na bewering in 2017 betrokke by die besluit om minstens R92 miljoen van die Mahikeng-munisipaliteit se geld in VBS te belê.

In ruil hiervoor het hy glo vergoeding in die vorm van krediet ten bedrae van meer as R1,2 miljoen vir die aankoop van twee motors en ʼn eiendom in Klerksdorp ontvang.

Die Valke het Mokoena in Augustus in Klerksdorp vasgetrek.

Mahikeng is een van die 20 munisipaliteite wat munisipale geld by die omstrede bank belê het. ʼn Voorlopige ondersoek deur die Valke het bevind dat sleg R7 miljoen van die R92 miljoen wat dié munisipaliteit belê het aan hom terugbetaal is.

Die Openbare Beskermer (OB) het vroeër vanjaar die miljarde rande wat weens die munisipaliteite se beleggings verloor is, asook die beleggings self as “onregmatig” bestempel.

Sedert gerugte oor die omstrede VBS-skandaal aan die lig gekom het, is tientalle munisipale hoës en grootkoppe in die politiek en private sakeondernemings in hegtenis geneem.

Meer onlangs is nog drie verdagtes, onder wie ʼn voormalige munisipale bestuurder en finansiële beampte van ʼn munisipaliteit in Limpopo, ook in verband met die omstrede VBS-skandaal in hegtenis geneem. Die derde verdagte is die eienaar van ʼn private sakeonderneming.

Hoewel talle inhegtenisnemings al gemaak is, het die meeste van dié sake nog nie ver gevorder nie.

Mamothame sê egter Mokoena se saak is tot 22 Februarie uitgestel en indien daar geen kwessies tussen die staat en sy regspan is nie, sal ʼn akte van beskuldiging voorberei word om die saak na ʼn hoër hof te skuif ter voorbereiding van sy verhoor.

“Die staat het bevestig die ondersoek na die aangeleentheid is voltooi. Mokoena se regspan sal ook die volledige inhoud van die dossier ontvang om hulle tyd te gee om vir die verhoor voor te berei,” sê hy.

Die hof het Dinsdag Mokoena se borgtog van R50 000 tot sy volgende hofverskyning verleng. Hy het ook sy paspoort ingedien en word verbied om met staatsgetuies kontak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Net soos met Zuma se kinders wat die geweld in KZN aangepor het,gaan Malema en kie ook nie vervolg word nie. Hoekom net altyd die mense sonder “groot name” wat vervolg word?

Anel ·

En die hoofverdagte, die brein, loop nog rond asof daar niks verkeerd is nie!!!

Pietertjie ·

En die eerste van ‘n oneindige aantal uitstelle en vertragings is oppad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.