VBS-verdagte aangekeer ná Covid-19-kwarantyn

VBS Mutual Bank

ʼn Senior uitvoerende beampte is Vrydag in hegtenis geneem tydens die VBS Mutual Bank-ondersoek deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het gesê die man kon vroeër nie saam met sewe ander verdagtes in hegtenis geneem word nie. Hy was in kwarantyn weens Covid-19. “Hy sal na verwagting Maandag in die Palm Ridge-handelsmisdaadhof verskyn op 47 aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery, korrupsie en uitbuitery,” het Mogale verduidelik.

Nóg ʼn verdagte, ʼn munisipale bestuurder, is laat in Junie in hegtenis geneem. Mattheys Gerhardus Wienekus (64), voormalige tesourier van die Merafong-munisipaliteit aan die Gautengse Wesrand, is in hegtenis geneem nadat die ondersoek getoon het dat meer as R50 miljoen van die munisipaliteit se geld in die VBS belê is terwyl hy as waarnemende hoof‑ finansiële beampte vir dié plaaslike owerheid opgetree het.

Die Valke het bevestig Wienekus word aangekla van die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en word ook verbind met die ondersoek na bedrog en diefstal by VBS. Die saak teen Wienekus is uitgestel tot 29 Julie sodat die ondersoek afgehandel kan word.

Die sewe verdagtes wat vroeër in hegtenis geneem is, het verlede week in die hof verskyn op 47 aanklagte, insluitend diefstal, bedrog en geldwassery. Die Valke het in daardie stadium gesê die agste verdagte sal in die hof verskyn sodra hy uit kwarantyn weens Covid-19 vrygelaat word.

Dit volg nadat die Valke in 2018 ʼn ondersoek begin het na die skynbare plundering van R2,3 miljard van VBS se fondse. Die meeste van dié wat tot dusver in hegtenis geneem is, is voormalige lede van die VBS-raad, maar die Valke het reeds gewaarsku dat nog in inhegtenisnemings sal volg soos die ondersoek sy gang gaan.

Die Merafong-munisipaliteit is een van 20 munisipaliteite wat ondersoek word nadat miljoene rande strydig met die munisipale wet in VBS belê is. Die ouditeur‑generaal, Kimi Makwetu, het reeds gewaarsku dat ten minste 14 munisipaliteite waarskynlik nie hulle geld gaan terugkry nie.

Genl. Godfrey Lebeya, Valke-hoof, het gesê die ondersoek na munisipaliteite is in ʼn gevorderde stadium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Soe nou is die 1ste agt vat elk R100000 borgtog gekry het voltallig. Now the lying and the denying can start. Nou wag ons net vir Julius Malema en Floyd Shivambu. Moenie ons teleurstel NPA.

Zacahara ·

Interessant dat nog net 1 naam bekend gemaak is. Hoekom word die ander se name weerhou, wonder ek…? ????

Sarel ·

Hier gaan ons weer sien dat nense selektief vervolg gaan word. Geen Politilus , Munisipalele Amptenaar ens.

Lorna ·

Ag nee man ek dog wragtag dit gaan malema wees
Wat n teleurstelling
Dream on sa
Of is hul nou besig met die klein visse en laat hul maar die spit afbyt
Die groot vis kom mos altyd weg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.