VBS wag glo op R1,78 m. van Brian Shivambu

VBS Mutual Bank

Brian Shivambu, broer van die EFF-hoofsweep Floyd Shivambu, is deur die hooggeregshof in Johannesburg beveel om ʼn verdere R1,78 miljoen terug te betaal wat hy aan VBS Mutual Bank skuld.

Shivambu het vroeër die maand ʼn elektroniese oorbetaling van R1 miljoen aan die kurators van VBS gemaak.

Die likwidateur van die mislukte bank het vandag bevestig dat die hof op dieselfde dag, 6 Augustus, ʼn bevel uitgereik het waardeur hy verplig word om nog R1,78 miljoen aan die kurators te betaal, aangesien die hof Anoosh Rooplal se versoek vir volle terugbetaling van die VBS-lening aan Sgameka Projects toegestaan het.

ʼn Woordvoerder van Rooplal sê Shivambu het tot nou nog geen betaling gemaak nie, maar het ook nie die hofbevel betwis nie. “Ons wag steeds vir betaling van die uitstaande bedrag van Brian.”

Die hof het ook beslis dat Shivambu aanspreeklik sal wees vir rente teen ʼn koers van prima plus 500 basispunte, daagliks bereken en terugwerkend vanaf 24 Januarie.

Shivambu, die alleendirekteur van die maatskappy, het borg gestaan vir ʼn lening van R4 miljoen aan Sgameka, wat na bewering gebruik is om geld na die EFF te kanaliseer. Sgameka het versuim om die leningspaaiemente te betaal en het meer as R2 785 780 agterstallig geraak.

VBS is onder kuratorskap geplaas nadat sowat R2 miljard by die bank geplunder is. Shivambu se naam is op die lys van 53 name wat in ʼn forensiese verslag van adv. Terry Motau vervat is.

Dié verslag is in opdrag van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gedoen en bevat die name van mense wat glo voordeel getrek het uit onwettige transaksies wat tot die bank se ondergang gelei het.

Die verslag, getiteld “The Great Bank Heist”, beskryf hoe die bank se ringkoppe met ouditeurs saamgesweer het om groot oortrekkingsfasiliteite uit te brei vir kliënte wat nie hiervoor gekwalifiseer het nie, en die geld na hulself te kanaliseer.

Daar word beweer meer as R10 miljoen het uit VBS se koffers deur Shivambu na die EFF gevloei. Die EFF ontken dié bewering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adrian

Tjietentjies gaan braai … so vat hom

Johan

Gee my 10 mil dan gee ek jou dadelik,rerig,jy hoef Nie te wag Nie…2,78 mil terug….NARRE!!!

Gert van Wierdapark

“Pay Back the MONEY” my China!!!! He-he-he!!! Die man sien seker nou net ROOI!!

Hanna Hoekom

Sal die EFF se turf ooit sit? Hierdie Free-dumb-fighters is erg glibberig. Sal maar nie asem ophou nie.

Johan

Do I understand correctly? You obtain the money fraudently and only need to pay back some without any jailsentence? What has become of our justice system?