Veearts-moord: ‘Strop trek ál nouer’ om roofbende

Dr. Freddie Malan. (Foto: Facebook)

Die trio wat verdink word van die moord op die veearts dr. Freddie Malan van Pretoria word aan ál meer misdade verbind en is Dinsdag vir die tweede keer op beeldmateriaal vasgevang.

Hierdie keer het die vroue en twee mans ʼn veeartspraktyk vanuit ʼn vermoedelik gesteelde motor verken.

Die private speurder Mike Bolhuis het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn veearts van Boksburg het gister ʼn verdagte Toyota Etios sonder nommerplate helder oordag verby haar praktyk sien ry en foto’s neem.

Daar was hierdie keer ook ʼn derde man saam met hulle. Die veearts het dadelik Bolhuis se speurspan ontbied, maar die motor kon egter nie weer opgespoor word nie.

Dit is nie die eerste keer dat Boksburg in die groep se visier is nie aangesien hulle glo verlede week by die roof van ʼn plaaslike sjokoladewinkel betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig 16 verdagtes het verlede Woensdag die personeel en veiligheidswagte van die winkel, sedertdien geïdentifiseer as Ferrero Rocher, aangesê om twee vragmotors vol bokse sjokolade te laai voordat hulle met dié vrag sjokolade op die vlug geslaan het.

Dit is dus duidelik dat die groep sy teikenmark en mannekrag vergroot het nadat hulle ʼn ruk ná Malan se moord op die agtergrond gebly het, verduidelik Bolhuis.

“Hulle het nou gegroei na ʼn sindikaat van 30-plus. Hulle is nou baie meer, gewapen en gevaarlik. Hierdie groep is ook uiters blatant en teiken nie meer net mediese instansies nie.”

Die speurspan het nou beeldmateriaal van die verdagtes in die moord op dr. Freddie Malan ontvang waarin veral die vrou duidelik gesien kan word. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig die spesifieke vrou en haar twee makkers is verlede week vir die eerste keer op beeldmateriaal vasgevang. Volgens Bolhuis het nog slagoffers sedertdien ná dié beeldmateriaal na vore gekom en die trio word nou met nie minder as 27 misdaadsake verbind nie.

Elke keer dieselfde storie. Die vrou verskyn by die voordeur van die geteikende instansie en wanneer daar vir haar oopgemaak word, slaan die mans toe. “Hulle is ʼn geoliede masjien. Hulle weet wat hulle doen. In en uit, elke keer klein rooftogte,” verduidelik Bolhuis vandag.

ʼn Maatskappy wat vakansiepakkette aan reisagentskappe bied, het ook intussen na vore gekom as een van die groep se jongste slagoffers en die speurspan het al selfs klagtes vanuit KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap ontvang oor sake waarby die trio moontlik betrokke kan wees.

Volgens Bolhuis gebruik die trio met elke rooftog ʼn ander gesteelde motor waarna hulle van die betrokke motor ontslae raak. “Hulle doen ’n rooftog met een motor en dan los hulle daardie motor.”

Bolhuis het Woensdag gesê die ondersoek na die drie verdagtes verloop goed. “Die strop word ál nouer getrek. Ons moet hulle net op heter daad betrap.”

Hy vra dat klein ondernemings op hul hoede sal wees en dadelik met die speurspan kontak maak indien hulle die trio gewaar.

Nader Bolhuis by 082 447 6116, Werner Koekemoer by 082 820 3680 of Tony Naidoo by 082 076 7574 om inligting aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Magda ·

Hoop hulle word sommer baie gou gevang – ASB mense help dat hulle van ons paaie verwyder word.

thelsa ·

Ou Mike Bolhuis ! Die arme siel moet asb tog nog net EEN persoon aankeer, in ‘n hof kry en skuldig bevind dan sal die publiek miskien in hom begin glo. Die man sukkel met dit. Hy kan vloke op TV, flaminke doctor maar van skuldiges in die hof laat verskyn . . . nee wat. What a joke

sweis ·

U kastige polisie doen niks nou wat stel u voor die kriminele word gelos om aan te hou moor of n persoon soos Bolhuis wat hulle jag?

SjN ·

Hoekom die inligting uitblaker, party betrokke skelms kan ook lees.

·

Glo nie hy weet self wat aangaan nie! Hy hoop maar die publiek help hom om die saak op te los dan sê hy hy is n briljante speuder!

DS ·

Bolhuis moet die polisie se werk doen want hulle is te sleg! Tenminste probeer hy nog misdadigers vang is nie nie deel aan misdaad soos die polisie nie. Hoop jy wys hierdie klomp dat jy wel sake op los Mike. Miskien as daar meer Mikes in die land was was daar minder misdaad. So ja Thelsa eintlik is ons polisiemag die narre of nee wag ons lag nie meer vir hulle onbekwaamheid nie so wat noem ons hulle nou?

PG ·

Hier gaan ons ou volkie alweer, negatief, klae oor alles en almal. Sit op ons alie en mor. Bolhuis behaal baie meer suksesse as wat hulle dink. Ten minste doen hy iets. Die skelms is georganiseerd, ongelukkig.

Kardoes ·

So dis ‘n trio…met vroue (meervoud) en 2 mans? Maar daar is ‘n derde man ook by? Dis bietjie verwarrende beriggewing.

Kokkie ·

Ja nee, ou Bolhuis is regtig ‘n grap…….en ‘n Baie flou grap!

Hennie ·

LHS hy doen dalk iets maar daar kom nooit iets van nie. Vat net die mense se geld

sweis ·

Ek kan nie glo julle val Bolhuis so aan nie as julle nog regte polisie gehad het kon ek verstaan maar almal weet sa polisie is die swakste in die wêreld

Ameli ·

Hy werk met baie sake en ek glo hy los baie op ook. So die paar wat nou nie dadelik opgelos word nie,word hy nou met klippe gegooi. Ou volkie vanmore weer niks goed te sê nie. Wat doen jy wat so kla vandag wat regtig goed is. Wees dankbaar en sê dankie vir elke dag want dit self is genade.

TP ·

Is dit nie dieselfde vrou (en makkers) wat die juwelierswinkel in Sandton City beroof het nie; selfde MO

Attie. ·

Ons het baie manne soos Mike nodig. Die Huidige SAPD mag kan nie eers hul skietkursus slaag nie maar skenk aan die misdadigers 1000 de wapens en miljoene patrone jaarliks. Ons het ook goeie poliesmanne maar o wee, helfte is niks werd nie.

Weduwee ·

Bolhuis R9000 betaal om ondersoek te doen na my man se dood.
Ek het NOOIT terugvoer ontvang nie. Nie een oproep of e-pos nie.Hy het ook nie my oproepe beantwoord nie.Ek het toe inbetalings in sy rekening gestaak toe ek besef hy gaan my nie help nie.Ek wou nie hieroor praat nie…..bang vir hom

anton ·

Wel ek weet nie of Bolhuis goed is of nie maar ek weet dat hy tenminste probeer om misdaad in die land vas te vat waar hy kan en ja hy kan nie alle sake oplos nie net soos die sap ook nie alle sake oplos nie.
Inteendeel die polisie doen basies niks behalwe om te MONITOR!!!
Die wat hom so kruisig, wat doen julle aan die misdaad, behalwe praat praat en praat???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.