Veeartse red lewens van honde met baanbrekerstegniek

Dr. Adriaan Kitshoff en dr. Ross Elliott saam met Tallen en Daisy. (Foto: Verskaf)

Dr. Adriaan Kitshoff en dr. Ross Elliott het die lewensreddende hartchirurgie met ʼn baanbrekerstegniek op die sewe maande oue Franse bulhond, Daisy, en ʼn ses maande oue spaniël, Tallen, uitgevoer.

Daisy is ʼn dienshond wat kan voel as haar eienaar, wat fibromialgie het, in pyn verkeer en op haar slaap as ʼn vertroostingsmiddel.

Die operasies was ʼn eerste in die 100-jarige geskiedenis van die fakulteit veeartsenykunde aan Onderstepoort en die Universiteit van Pretoria (UP) meen dit is ʼn opwindende manier om die volgende eeu van veeartsenykundige diens aan die land te begin.

Kitshoff en Elliott, wat in kleindier-chirurgie spesialiseer, het ʼn nuwe benadering gebruik wat die opening van ʼn hartklep van ʼn hond met ʼn ballon wyer maak.

“Hierdie prosedure is voorheen beperk tot hospitale in die buiteland met chirurge of interniste met ʼn spesiale belangstelling in kardiologie. Slegs hospitale wat die nodige toerusting het, kan die soort operasie uitvoer.”

Volgens die veeartse het albei die pasiënte ʼn abnormaal gevormde of saamgestelde hartklep wat tussen die hart en die slagaar sit, wat na die longe lei.

Albei die honde se hartkleppe het komponente gehad wat saamgesmelt was. Dit beteken die klep kan nie behoorlik oopmaak as die bloed die hart moet verlaat nie met sametrekking en ook nie behoorlik sluit wanneer die hart weer ontspan nie.

“Dit het ʼn scenario geskep wat soortgelyk is aan wanneer jy jou longe met lug sal vul en dit probeer uitblaas terwyl jou lippe saamgepers is. Die krag van die hart wat bloed deur die klein opening probeer uitdruk, het telkens geweldige spanning op die hartspier geplaas.”

Daisy sterk aan in die waakeenheid van die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die veeartse verduidelik dat die anatomie van die hart van ʼn hond soortgelyk is aan die van ʼn mens. Dit bestaan ook uit vier kamers en vier kleppe.

“Dit is waarskynlik die rede waarom die meeste kliniese toetse vir hartoorplantings op honde uitgevoer is. Dit het die wegspringplek geskep vir dr. Chris Barnard se eerste suksesvolle hartoorplanting in 1967.”

Kitshoff en Elliott het gesê die operasies was gevaarlik aangesien hierdie pasiënte ʼn hartsiekte het en onder algemene narkose geplaas is. Die ballon kon ook ʼn irritasie van die hartspier veroorsaak terwyl dit daardeur beweeg het, wat kan lei tot abnormale hartritme tydens narkose. Die klep wat gestrek word, kan ook veroorsaak dat sommige bloedvate skeur.

“Hierdie abnormale ritmes en skeuring van bloedvate kan fataal wees by ʼn klein persentasie pasiënte. By sommige honde kan die opening tussen die versmelte klep so klein wees dat dit nie moontlik is om die opgeblaasde ballon daardeur te laat gaan nie. By sulke pasiënte moet die bors oopgemaak word, ’n gat in die kloppende hart gemaak word en ’n instrument in die hart gevoer word om die opening van die klep te rek,” het die veeartse verduidelik.

Die implikasies van die prosedure is dat ʼn diens nou by die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal aangebied word, wat nog nooit voorheen beskikbaar was nie. Dit kan ook die begin wees van ander minimaal-indringende hartoperasies in die toekoms.

“Dit bied ons ook die geleentheid om die lewensduur van spesiale troeteldiere soos hierdie te verleng,” het Kitshoff en Elliott gesê.

Hierdie baanbrekende operasie skep ook die moontlikheid om ’n sentrum van uitnemendheid in minimale indringende chirurgie en kardiologie by die Onderstepoort-dierehospitaal in te stel en meer gevorderde operasies soos klepvervanging en hartoorplantings aan te bied.

Albei honde vaar goed na hul operasies, maar hulle moet elke drie maande opvolghartondersoeke doen, want in 15% van sulke gevalle kan die oop opening van die klep weer begin vernou. “In welke geval die prosedure weer herhaal kan word,” het die veeartse gesê.

Die operasie was ’n spanpoging wat die narkotiseurs dr. Justin Grace en dr. Abdur Kadwa, teaterverpleegster suster Adele Rossouw en teaterassistent Mike Shabangu insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Fantasties. Lankal gesê gaan eerder Onderstepoort toe as na staatshospitaal. En dan sê hulle ons is agtergeblewe. En dit is nie our people nie.

Antoinette ·

Baie geluk dokters en span. Ek het baie respek vir Onderstepoort. Het al 2 van my 4-pote geopereer en hul kon nog jare lank gelewe het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.