‘Veedief’ vas toe boer beeste herken

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn 31-jarige man is in hegtenis geneem op aanklagte van veediefstal nadat die boer aan wie hy na bewering die gesteelde beeste probeer verkoop het, die beeste as sy buurman se vee herken het.

Kapt. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het Saterdag by ʼn plaas in die Tweeling-distrik in die Vrystaat opgedaag en glo nege beeste vir die boer te koop aangebied. Die boer het sy buurman se unieke brandmerke op die beeste herken en die verdagte gevra om te wag terwyl hy intussen die polisie in kennis gestel het.

By die polisie se aankoms is die buurman ook na die toneel ontbied en hy het die beeste as sy vee geïdentifiseer. Die verdagte is daarna in hegtenis geneem.

Genl.maj. Jan Tsotetsi, bevelvoerder van die polisie in Bethlehem, het die boer geloof vir sy oplettendheid en vinnige optrede om die polisie te ontbied. “Dit is een van die voordele om te voldoen aan dier-identifikasiewette en om sterk verhoudings tussen boere en die polisie te vestig,” het hy gesê. “Ons polisiëringspogings moet gemeenskapgebaseer wees om sulke resultate te lewer.”

Die verdagte sal in die Frankfort-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerd Lourens ·

Hy is nou gekwalifiseerd om as minister van Landbou aangestel te word…

Annie ·

Knap gedaan – hoop hy sit lank agter die tralies – want hierdie is defnitief nie die eerste keer wat hy dit doen nie. Bly die boer het sy vee terug gekry.

SjN ·

My vee is verkoop op n veiling deur n veedief wat in n extension bly. Hy is gevang met tjek in sy besit en alles erken, volgende dag uit op borg en my vee is ten duurste skut toe gestuur vir dns toetse, Grondwet beskerm die skelm.

Toppie ·

Ja en die saak sal sloer en sloer totdat die staat besluit hulle kan nie meer vervolg nie en dan word die saak van die rol geskraap en die skuldige eis van die polisie vir onwettige arrestasie en sommer vir pyn en lyding

Cherokee ·

Die buur-boer se unieke brandmerk op die beeste herken – en terwyl Toppie van pyn en lyding praat verander ek die tema met ‘n vraag – is daar met al die modernisasie in die samelewing nog nie ‘n ander manier ontwikkel om beeste te merk nie? Natuurlik moet dit onmiddelik sigbaar wees soos in die betrokke geval maar daar behoort tog al nuwer pynlose maniere ontwerp wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.