Veediefstal buite beheer

(Argieffoto: SA Polisie)

Veediefstal in Suid-Afrika is buite beheer en die polisie verloor die stryd om dit behoorlik te ondersoek. Dit kom duidelik na vore uit die antwoord op ʼn parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan die minister van polisie, Bheki Cele.

Veeboerdery is ʼn integrale deel van die landboubedryf en veediefstal knou veeboere. Die onvermoë van die polisie om veediefstalsake op te los, beteken dat veediefstal buite beheer is.

Volgens die antwoord van die minister is 26 923 veediefstalsake in die tydperk van 1 April 2021 tot 28 Februarie 2022 by veediefstaleenhede aangemeld. Van hierdie sake is slegs 7 800 of 28,9% opgelos.

“Klagtes van boere is dat sommige veediefstaleenhede nie genoeg lede het nie, asook ʼn tekort aan voertuie en ʼn gebrek aan kundigheid,” sê Groenewald. “Korrupsie speel ook ʼn groot rol en daar is bewerings dat senior offisiere in die polisie self betrokke is by diefstalsindikate.”

Die provinsie met die meeste klagte in die betrokke tydperk was KwaZulu-Natal met 7 227 aangemelde sake, gevolg deur die Oos-Kaap met 5 533 sake.

Die provinsie met die swakste oplossingsyfer is Limpopo met slegs 16,5% sake wat opgelos is, gevolg deur Gauteng met ʼn oplossingsyfer van 16,9%.

“Daar sal drasties opgetree moet word en die nuwe kommissaris van polisie, genl. Fannie Masemola, sal moet sê watter stappe hy gaan doen om die probleem op te los. Ek sal ook verdere vrae in die parlement vra oor die vermoëns van die veediefstaleenhede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Beriggewers raak al hoe skaarser omdat hulle vertroue in die polisie verloor het en omdat hulle bang is vir vergeldimgsaksies.Dit gebeur dat polisielede die name van beriggewers aan sindikate bekend maak.

Pieter ·

Die probleem is die polisie,hulle is die skelms agter baie van hierdie diefstal. daar sal n privaat organisasie gestig moet word om hierdie probleem op te los.

LANA is ELANè ·

Die polisie verloor nie die stryd nie, hulle is deel van die veediefstal sindikate. Die boere verloor die stryd want hulle moet self hulle vee polisieër teen die sg veediewe!

Willem ·

Cullinan Veediefstaleenheid se voertuie(Gauteng) word aangewend vir vervoer van familielede , bevelvoerder voor in die koor .

maruis ·

Ek soek hom, ek kry hom en ek vat hom – welgedaan anc polisie mag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.