Veediefstal daal, NVVK mag ook syfers bekendmaak

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

Die dag voor die nasionale misdaadstatistieke vrygestel is, het die SAPD tydens ʼn vergadering met die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum (NVVK) bykomende inligting aan die forum verskaf wat gaan help om ʼn baie beter beeld van die situasie weer te gee.

“Voorheen mag ons net die persentasies bekendgemaak het, maar nou het ons toestemming om die werklike getalle ook weer te gee,” sê Willie Clack, voorsitter van die NVVK. “Dit was altyd ’n uitdaging om met die persentasies te werk omdat dit ’n vals indruk wek oor die getalle wat betrokke is.”

Een van die NVVK se take is om toepaslike data by te hou en statistieke te ontleed. Volgens ʼn verslag wat hulle ná afloop van die nuwe verwikkelinge bekendgestel het, was die verbasing groot toe die aantal aangemelde veediefstalsake vir die eerste keer gedaal het sedert hulle data begin versamel het.

“Ons is verstom dat daar vir die eerste keer sedert data begin versamel is, ’n afname in aangemelde sake in al die provinsies van Suid-Afrika in die tydperk 2019-’20 tot 2020-’21 was,” sê Clack.

“Die redes vir hierdie afnames is nie voor die hand liggend nie en kan toegeskryf word aan ’n stel veranderlikes soos onder meer Covid-19, sosiale media (WhatsApp-groepe), CCTV-tegnologie, verbeterde misdaadvoorkomingstrategieë, mediablootstelling en/of die konstante afname in die aanmelding van veediefstal, maar ons is steeds verheug.”

Hy het wel bygevoeg dat mense nie deur die SAPD se nuwe gebruik, om die statistieke kwartaalliks vry te stel, verwar moet word nie. “Ons het sedert 2003 gewoond geraak dat statistieke slegs een keer per jaar vrygestel word en die besluit van die SAPD om die statistieke op ’n kwartaallikse grondslag vry te stel, mag ’n skewe beeld gee aan dit waaraan Suid-Afrikaners gewoond geraak het. Die forum het daarom besluit om steeds ’n jaarlikse oorsig te verskaf,” sê hy.

Volgens die NVVK se jaarlikse verslag is daar ʼn nasionale daling in aangemelde veediefstalsake van 12,78%.

Die vier provinsies wat die grootste daling ondervind het, is Noordwes met 31,76%, die Vrystaat met 23,39%, Limpopo met 21,26% en Mpumalanga met 20,95%.

Figuur 1: Persentasie daling/styging in aantal veediefstalsake wat in die periode 2019/2020 tot 2020/21 gerapporteer is. (Verskaf)

“In die lig van die werklike syfers is die dalings in die ander vyf provinsies nie beduidend nie en daarom is die daling in die aantal veediefstalsake soos in figuur 2 gesien kan word, insiggewend.”

Figuur 2: Afname in aantal sake per provinsie 2019/20 tot 2020/21 (Verskaf)

Uit figuur 2 blyk dit duidelik dat die daling in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng weglaatbaar is as dit in die groter prentjie beskou word, aangesien dit slegs 3,29% van die algehele daling verteenwoordig.

Die provinsies met die grootste uitwerking op die afnames is die Vrystaat en die Oos-Kaap, wat 44% bygedra het.

“Ongeag die aantal sake wat aangemeld is, is dit noodsaaklik om ook die getalle vee wat per provinsie gesteel is, in te sluit, soos in figuur 3 gesien kan word.”

Figuur 3: Aantal vee per provinsie gesteel.

Veediefstal is ʼn misdaad wat die landbougemeenskap as ʼn geheel ernstig beïnvloed en daar is bevind dat dit ’n verlammende uitwerking op die ekonomiese, emosionele en sielkundige welstand van veeboere het.

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.