Veediefstal het boere op hul knieë

Bertus van der Westhuizen se skape. (Foto: Verskaf)

“Ek het net omgedraai en ek het [die trane] gesluk.”

Só vertel Bertus van der Westhuizen, TLU SA se streeksvoorsitter in die Vrystaat, oor die oomblik toe sy seun hom die nuus meegedeel het dat 147 van hul skape op hul plaas in die Heilbron-omgewing verlede week gesteel is.

Dit was soos ʼn tweede vuishou, want net die vorige week is nóg 26 van hul skape gesteel.

“Hoe begroot jy vir 147 skape wat net verdwyn?

“Maar dan sê jy vir jouself dat jy die een is wat moet sterk wees. Jy het ’n gesin. Jy het seuns wat saam met jou boer. Jy moet hulle bemoedig.”

Van der Westhuizen raam dat sy verliese tussen R380 000 en R400 000 beloop nadat die gesteelde skape op vier verskillende plekke op sy plaas opgelaai en op die R57 vervoer is. Hy kon wel 18 stuks vee terugkry nadat inligting ontvang is oor ’n informele padstalletjie in De Deur – sowat 120 km van die Van der Westhuizens se plaas –  waar van die gesteelde skape gesmous is.

Volgens die inligting het die stalletjie in daardie stadium elke dag talle van Van der Westhuizen se skape teen R1 600 stuk verkoop. Van die ooie was egter dragtig, wat beteken dat hulle sowat R3 000 werd is.

Van der Westhuizen en ’n lid van die polisie se veediefstal-eenheid op Heilbron is Saterdag na die stalletjie, maar al die skape was teen daardie tyd reeds verkoop. Hulle is daarna na die eienaar van die stalletjie se huis waar Van Der Westhuizen 18 van sy skape in ’n kraal aangetref het.

Bertus van der Westhuizen kon sy skape danksy hul unieke oormerke uitken. (Foto: Verskaf)

Hy kon sy skape danksy hul unieke oormerke uitken.

Niemand is egter in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Boere in die omgewing van Heilbron loop al te gereeld onder veediefstal deur.

“In twee weke se tyd het hulle 26 en toe weer 147 skape by my gesteel voor hulle oor die 100 by ’n ander boer sowat 15 kilometer hiervandaan gesteel het.”

Dié boer was gelukkiger as Van der Westhuizen en kon die meeste van sy gesteelde skape terugkry.

“’n Ou kan nie by hou nie. Boerdery raak ’n baie moeilike en onvolhoubare bedryf want daar is te veel onvoorsiene uitgawes. Jy kan nie begroot vir 147 skape wat skielik verdwyn nie …

“Dan sit jy nog met ’n vertrouensbreuk wat jou werkers betref, want jy weet nie of hulle dalk net betrokke is nie,” sê Van der Westhuizen.

Bertus van der Westhuizen se skape. (Foto: Verskaf)

Hy glo wel dat ’n boer dit nie kan bekostig om op ’n hoop te gaan sit nie en altyd planne moet maak.

“As jy nou moedeloos raak, gaan jy verloor. Jy moet nooit ophou soek na uitkomste nie. Daar sal een wees. ’n Mens moet hom net soek. Jy kan nie anders nie. Waarheen gaan ek as ek nou my ankers hier moet trek?

“Daar is nie ʼn alternatief nie.”

Polisiestrukture

Van der Westhuizen meen die radius waarbinne die polisie se veediefstaleenheid funksioneer, is te groot.

“Te veel tyd word in voertuie deurgebring om van punt A na punt B te beweeg. Sou die polisie hul reiskoste en verlore ondersoektyd in ag neem, is ek daarvan oortuig dat dit lonend sal wees om meer veediefstaleenhede te vestig.

“Elke mens het beperkte vermoëns, so ook veediefstalspeurders. Hulle kan net eenvoudig nie die aantal lêers hanteer wat aan elkeen toegewys word nie. Ek sal graag wil sien dat daar meer veediefstaleenhede met meer veediefstalspeurders gevestig sal word, om so reistyd en koste te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JL ·

Hartverskeurend. Ons is boere en ons gee nooit op nie. Solidariteit vir al ons boere.

Kokerboom ·

Dis die ANC se verskroeide aarde beleid. Hul ideologieë skep ‘n honger nasie wat alles voor voet soos sprinkane stroop. Dit gaan net erger word. So jammer vir boere. Drastiese teenaksies nodig!

MakersMark ·

In menige gevalle is die polisie meedoeners aan die probleem. Daar is nie hoop vir die land nie. Land is op pad terug middeleeue toe en blankes na oosgrens 1834.

krodedil ·

Doen poligraaf toetse op die plaaswerkers—-Iets sal uitkom.

Cobus ·

Ai die reenboog droom van die 67%, is toe heel anders as verwag neem ek aan?

marius ·

Alles deel van die spul wat werklik die hool regeer se plan . Dis die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.